Nuusbrief 3 in 2012

My hoop is dat jy steeds in die Here se krag die verskil maak waarvoor jy geroep is. Daar is deesdae baie uitdagings in die werkplek en die lewe in die algemeen. Mag jy moed hou met die wete dat ons Here by jou is.

Die afgelope Argus fietswedren was vir my minder pret as die voriges en by tye ‘n behoorlike beproewing. Van die halfpadmerk af het ek toenemend begin krampe kry. Ek moes ‘n paar keer by die mediese tente ‘n draai maak (eerste keer in my lewe). Net na die eindpunt was my bene in totale spasma. Ek het net daar voor die toeskouers geval en was hulpeloos afhanklik van ander se goedheid om my bene te vryf en my op te help – nie goed vir ‘n man se ego nie, maar op daardie stadium was ek min gepla oor ego en trots. In die proses het ek ‘n paar baie praktiese lesse oor die hantering van swaarkry geleer wat ook op die normale lewe van toepassing is:

  • Moenie dat jou ego in die pad kom nie. Wees nederig oor hoe taai jy is en wees bereid om hulp te vra en te aanvaar.
  • Jou mede-reisigers is van onskatbare waarde – dit help om te weet jy is nie al een wat swaarkry nie, en die saam-wees spoor mens aan. As ek alleen was, het ek moontlik halfpad opgehou.
  • Bemoediging en aanmoediging help baie – daar was wonderlike toeskouers, trommers, musikante, dansers en baie aanmoedigers. Kom ons bemoedig die mense rondom ons. En kom ons aanvaar die bemoediging as dit ons kant toe kom!
  • Waardeer die mooi langs die pad – die eindbestemming is nie al wat tel nie. Daar was fantastiese tye in die Argus: soos die uitsig by Chapman’s Peak, die verfrissende mis by Misty Cliffs, en die drink- en eetgoed by die verversingspunte. Vier fees oor die mooi op jou reis!
  • Vasbyt bring mens vér en dis tog lekker as jy na die vasbyt met dankbaarheid kan sê “ek het deurgedruk”. Volharding is ‘n Bybelse opdrag.
  • Wanneer jy in pyn is, is dit moeilik om te bid. Maar ons weet: dit help om te bid.
  • Alle swaarkry het ‘n einde – al voel dit soms nie so nie.

Die afgelope Sondag moes ek by ‘n gemeente preek oor die Koninkryk in die markplek. My teks was Matt 21:1-11 waar dissipels die opdrag kry om ‘n donkie te gaan losmaak en vir Jesus te bring vir sy triomftog in Jerusalem. As die eienaar sou vra wat hulle doen, moes hulle sê: “die Here het hom nodig”. Die man se donkie was soos die hedendaagse boer of bouer se bakkie – jy doen jou werk daarmee. Wat die Here vir ons vandag sê, is: “Stel jou werklewe tot My beskikking. Ek wil jou en jou werk gebruik in my groter Koninkryksplan.” Dit was ‘n voorreg om mense te kon bemagtig en vir hulle te bid om hulle roeping en salwing as Koninkryksambassadeurs te aanvaar en te leef. Ons lewe en werk van elke dag is vir die Here belangrik en Hy kan dit ver bo ons verwagtinge gebruik.

In my werk in die markpleine het ek die voorreg om ‘n rol te speel in die ontwikkeling en transformasie van organisasies, spanne, leiers en werkers. Dit is bv. fenominaal wat gebeur as mense hulle unieke ontwerp (persoonlikheid, talente, ervaring en kundigheid) verstaan en vanuit hulle sterkpunte begin funksioneer. Soms gaan my insette oor die uitstryk van innerlike probleme, soms oor interpersoonlike verhoudinge, en partykeer oor dinge soos spanbou, rol-uitklaring, emosionele intelligensie, tydbestuur, streshantering ens. Al hoe meer besef ek: ek is net die instrument – God doen die werk deur my.

Onlangs is ek gevra om in Richmond in die Karoo trauma-begeleiding te gaan doen. Dit was na ‘n padwerker (ma van 4) op ‘n grusame manier voor haar kollegas deur ‘n vragmotor doodgery is. Klomp van die mense het gesukkel om te slaap en te eet. Hulle was in skok, het gevoel die lewe is sinloos, en was bang om terug te gaan werk toe. Haar man en kinders was verslae. My kontrak was om vanuit ‘n sielkundige hoek hulle te bedien, maar op die ou einde het die geestelike hoek ‘n baie sterk klem gekry en ek kon die evangelie bedien. Binne twee dae kon ek deur die Here se genade sien hoe wanhoop en skok al meer plek maak vir perspektief, hoop en vrede… Die kuns was om elkeen se “storie” te hoor en hulle te help om met nuwe “brille” terug te kyk en vorentoe te kyk.

Laastens wil ek vertel van ‘n konferensie wat ek bygewoon het oor die feit dat ons as Christene agente van verandering is – net soos Moses, Dawid, Hiskia, Jesus, Paulus. Mag ons die probleme en behoeftes om ons raaksien as die Here se geleentheid om impak te maak. Die wêreld is in nood en smag na mense (Christene) wat kanale en instrumente van God se krag en genade is. Soos iemand gesê het: “find a need and fill it, find a hurt and heal it, find a problem and solve it“. Dan sal ons altyd relevant vir ons wêreld wees want by ons God is alles moontlik.

Vriende, kom ons maak die “donkies” los sodat die Here ons en ons werkplekke met al die geleenthede wat daar is tot sy eer kan gebruik! Bring opwinding waar dit vervelig is, moed in moedeloosheid, troos in hartseer, vreugde waar mense te ernstig raak. Kyk die uitdagings in die oë en laat die Here (en ander mense) jou help om oplossings te kry. Sterkte!

Share

2 thoughts on “Nuusbrief 3 in 2012”

  1. sjoe. Jy het my ongelooflik bemoedig. Dankie.

    Ek het in jou skrywe God se stem met my hoor praat vandag.

    Seengroete!

    Daan
    (Strand)

  2. Hierdie skrywe het my weer naby aan God gebring. Weer laat opkyk en net besef God se hand is elke dag daar om my te stuur. My wense is net om elke dag Sy stem te hoor en vir Hom te kan werk.

Comments are closed.