Dis met weerstand dat party van ons afskeid neem van die Somer en die Herfs omhels om so gereed te maak vir Winter. En tog, soos die ou wyse swartman Abram in die koue Potch my eenkeer tereggewys het, as ons nie Winter het nie, sal ons nooit die Lente en Somer kan waardeer nie. Ek het baie keer buite die universiteitsgeboue met hom gesels en só dikwels meer buite die “klaskamer” as daarbinne geleer.
Die eintlike universiteit is die universiteit van die lewe. Maar ons kan daardeur gaan sonder om te leer en wyser te word. Een persoon wat deur die universiteit van die lewe geleer en gevorm was, is ‘n vriendin, Anél van Niekerk. Sy het moeilike en pynlike kinderjare gehad. As jong volwassene het sy yuppie-griep gekry en dit grootliks oorkom. Na ‘n kort huwelik het sy haar man verloor en is met twee klein kinders agtergelaat – sonder inkomste en met skuld. En so moes sy na meer as ‘n dekade tuis, teruggaan arbeidsmark toe.
Twee jaar gelede is sy met kanker gediagnoseer en 4 tot 6 maande gegee om te leef. Dit het twee jaar geword. Twee jaar waarin sy haar kinders voorberei het, impak op talle lewens gehad het (insluitend die ongelowige Engelssprekende proffie wat haar baas was), en die mooiste, innerlik-heelste en gelukkigste mens geword het wat sy ooit was. Haar lewe het ‘n bediening geword, haar geloof aansteeklik, haar lewensuitkyk inspirerend. Al was sy ‘n weduwee, sonder genoeg inkomste om behoorlik te kon uitkom, en sonder formele universiteitsopleiding, was haar impak verstommend. Soos Paulus, kon sy sê: “Vir my is die lewe Christus en die sterwe ‘n wins” (Fil 1:21).
Sy het gekies – nié om passief in te gee tot siekte nie; ook nie om dit aggressief te baklei omdat sy nie sou wou sterf nie; maar om gelowig-positief, blymoedig, voluit en oorwinnend tot die einde te lewe. ‘n Week voor haar dood het ons nog saam braaivleis gehou. En ‘n paar dae voor haar dood het sy nog ‘n roosboom en blomme geplant…
Op Maandag 9 April 2012 het sy, of te wel haar liggaam, gesterf – die dag na ons Paasfees, die opstandingsfees, gevier het. Vir haar is dit wins (voordeel) want nou is sy by God, vir ons is dit verlies. En tog sê ons dankie vir haar lewe.
Hier is ‘n paar (van baie) lesse uit haar lewe:
- Moenie jou lewe inrig volgens wat (goedbedoelde) mense, selfs jou vriende en familie, dink vir jou goed is nie. Kry daardie soort wysheid eerder by God.
- Soms was Anél baie sterk in haar opinies. Agterna het ons besef hoe belangrik dit was vir haar emosionele oorlewing. Dit het gekeer dat sy sou swig voor ander se ongeloof en opinies oor haar lewe (en siekte).
- ‘n Aanhaling wat volgens haar baie waar is: “To have suffered much in life is like knowing many languages – it gives you access to many people”.
- Sy het gesê: “Sukses is die mate waartoe jy met God se idees hardloop”.
- Wees jou unieke self, al is dit vir ander ongewoon.
- Jou lewe na buite hang af van dit wat in jou binnekamer gebeur.
Sy wou nie ‘n “fancy” begrafnis hê met baie eerbetoon nie, maar bloot dat die fokus op God sal wees. En tog, al het ons haar lewe gevier, kon ons by die begrafnis deur na haar lewe te kyk, iets van God se hart sien.
Die lewe is kort. Seisoene kom en gaan. Geniet jou journey waar jy nou is. Waardeer die mense vir wie jy lief is. Weet waarvoor jy staan. En mag jy voluit lewe en die verskil maak waarvoor jy geroep is.