Wat onderskei suksesvolle mense van die ander? Daar is seker ‘n paar faktore. Maar een daarvan is om verantwoordelikheid te neem vir jou lewe en besluite, om proaktief te lewe. By ‘n mannegroep hoor ek onlangs die slagspreuk wat ek hoop ons almal sal toepas:
Reject Passivity,
Accept Responsibility,
Lead courageously, and
Expect a Godly reward.
‘n Ander rede vir sukses is God se seën. Die afgelope week het ek weer opnuut besef dat dit God se wil is om jou te seën – in die werkplek, tuis, oral. Hy is die goeie Vader wat begeer dat goeie dinge sy kinders toekom. Selfs van sy kinders wat by tye baie swaar gehad het, soos Job, se lewens was – in geheel beskou – geseënd en voorspoedig. Drie dinge is belangrik om te verstaan:
- Die betekenis van seën: Om deur die Here geseën te word, beteken nie dat geen onheil of terugslag jou tref nie. Jy leef immers op planeet aarde met sy gebroke realiteite. Soms kom sy grootste seëninge in en deur moeilike tye heen. God se seën beteken dat jy te midde van als sy vrede en goedheid beleef; dat jy sy hulp en bonatuurlike uitkoms ervaar; dat jy dikwels met dankbaarheid verstom staan oor die goeie wat jou kant toekom.
- Kondisies: Sy seën is genade, en Hy gee dit onvoorwaardelik en oorvloedig. En tog is daar “terme en kondisies”: jy moet binne sy wil lewe. Binne sy wil is daar vryheid, vrede, voorspoed – meer as wat jy ooit kan verdien. En deur sy Woord en Gees wil Hy jou daarin lei vanuit ‘n lewende verhouding met Hom. Buite sy wil is daar slegte nagevolge en pyn: verhoudinge loop aanmekaar skeef, gesondheid word verwoes, geld gaan verlore. Buite sy wil beleef jy: wat ek saai, sal ek oes. (Deut 28)
- Die doel: Ons word geseën NIE om onsself selfsugtig daarin te verlustig nie. Terwyl ons die seëninge geniet, kan ons uit ons oorvloed (hoe baie of min ookal) weer ander seën, en kan ons vanuit ons seëninge ons Vader, die gewer van alle goeie dinge dank en eer. En as jy dit doen, word dit ‘n sneeubal-effek wat die seëninge nog meer maak…!
Mag jy bewustelik binne die genadeveld van God se seëninge leef! Mag jy almeer aan jouself dink as “’n geseënde van die Here”.
Verder wil ek ons almal aanspoor om nie moed op te gee nie. ‘n Suksesvolle lewe kom nie deur een of twee groot pogings nie. Sukses kom deur ‘n gedissiplineerde lewe waarin jy konsekwent en teen ‘n volhoubare pas die goeie dinge aanhou doen. Lees gerus aan die einde van hierdie epos wat ‘n kollega van my (Paul Donners) oor die 20 mile march in Jim Collins se boek Great by Choice skryf. En koop en lees gerus die boek.
Kom ons maak ‘n verskil elke dag, oral waar ons kom! Jou werk is jou bediening, jou bediening is jou werk. En ons God is gereed om jou te help – as jy Hom vra en op Hom vertrou! (2 Kron 16:9)