So elke nou en dan word ons gekonfronteer oor die toekoms en hoe geweldig anders dit kan wees as enigiets waaraan ons nou gewoond is. Hulle praat van ontwikkelingspronge wat meebring dat ons heelwat veranderinge sal moet prosesseer en hanteer.
John Sanei gebruik woorde soos digitalisering (dink maar aan kameras, musiek en berging van inligting), dematerialisering (waar al hoe meer dinge van fisiese formaat na digitale formaat geneem word – koerante, boeke ens), demonitisering (produkte soos fotos en videos word gratis afgelaai), demokratisering (almal het toegang tot inligting, produkte en dienste wat voorheen net vir sekere mense beskore was), ontwrigting / disrupsie (disruption) waar ‘n nuwe produk of diens die huidiges oorbodig maak en vervang.
Dit lyk of robotte (bedoelende elektronies en rekenaargedrewe tegnologie) al meer gewone take uit ons hande neem. Dit is iets wat alreeds gebeur, as jy maar net dink aan dinge soos jou skottelgoedwasmasjien, mikrogolfoond, selfoon, en horlosies wat sommer jou treë, bloeddruke en hartklop meet. En deesdae ook driedimensionele drukkers wat van ‘n kar tot huis kan “uitdruk”. Dan praat ons nog nie eers van ‘n prominente tendens soos “kunsmatige intelligensie” (AI) – dat rekenaars hulle eie “nuwe” kennis en strategieë kan skep, eerder as om net ‘n voorspelbare patroon te volg.
Dit is interessant wat die verskillende reaksies by mense is as hulle hieroor praat. By party maak dit groot vrese en onsekerheid. Ander is opgewonde oor die nuwighede en avonture wat kan voorlê. Die harde feite is dat baie van die huidige werkposisies sal verval, en dat mense wat nie hulleself kan “re-invent” nie, werkloos kan wees. Maar aan die ander kant, kan jy as jy ons nuwe konteks verstaan, groot geleenthede raaksien en benut, soos über wat tegnologie ingespan het en die taksie-bedryf gerewolusioneer het.
Een ding wat jy nie moet doen nie, is om die toekoms te beplan op grond van jou kennis van die verlede en hede asof die toekoms maar net stelselmatig sal ontwikel. So gaan jy, jou besigheid, jou industrie heel moontlik met jou broek op jou knieë gevang word.
Hoe berei ons onsself voor vir die toekoms? Eerstens, kies of jy ‘n slagoffer óf argitek van die toekoms gaan wees. Slagoffers gaan passief of aktief weerstand bied én óof hulleself jammer kry óf kwaad wees, maar in die proses die lewe vir hulleself toenemend ongelukkig en/of onsuksesvol maak. Die beter en selfbemagtigende opsie is om die toekomsrealiteite vierkantig en nuuskierig in die oë te kyk en ‘n argitek van jou toekoms te wees. Ek glo dis wat God ons bedoel het om te wees – nie “onderganers” van die toekoms nie, maar mede-ontwerpers en -skeppers.
Kyk gerus na hierdie onderhoud met John Sanei op youtube (en ook na sy ander youtube gesprekke): https://www.youtube.com/watch?v=fxeo8R2h46I.
Dit is vir my ‘n aansporing as ek mense van in die 70’s of 80’s sien wat hulleself op datum hou en nie wegskram om van nuwe tegnologie en nuwe maniere van dinge doen te leer nie. Mariëtte, my vrou, moes nou die dag haar pa (wat volgende jaar 90 word) oor die telefoon help om dokumente met sy drukker te skandeer en te stuur. Hy was doodseker dat hy dit nie met die outydse “slakkepos” gaan stuur nie en hy wil hierdie tegnologie gebruik. So bly hy relevant en praat hy saam met mense op verskillende fronte.
Ons God is nie net ‘n God van die verlede en hede nie, maar ook die God van die toekoms. Hy is saam met ons daarheen op pad en by ons, en in Hom kan ons ons vrede behou terwyl ons aanpasbaar en leerbaar bly. Kom ons antisipeer die toekoms, help om dit te ontwerp, en pas aan soos dit ontvou. So bly ons verskilmakers, impakmakers wat in hierdie wêreld ons Here op relevante maniere verteenwoordig!
Mooiste seëninge vir die beste moontlike toekoms!