Nuusbrief 6 in 2018

Onlangs, gedurende ‘n tawwe 80km bergfietswedren het ek en ‘n vriend gefilosofeer oor hoe ons die dag ons energie sal bestuur. Hier is van die taktieke waarop ons besluit het:

  • Geniet die afdraendes – en laat waai.
  • Vat dit gemaklik met die opdraendes – trap eerder in ‘n hoër rat makliker en vinniger as wat jy stadiger trap maar baie meer krag moet gebruik. (Ons maak mos so met ons karre ook.)

Alles het goed gegaan tot die onverwagse / onbeplande gebeur: met die opgaan van ‘n skielike opdraende trap my fietsrymaat te hard met sy ratoorskakeling en sy fietsketting en jockey breek. Hy het die laaste 15km afdraendes afgery, gelykpad gery soos ‘n kleuter wat sy skopfiets ry, en opdraendes gestoot. Maar hy het klaar gemaak.

Hierdie ervaring het my nogal oor die lewe laat dink: geniet die goeie tye; moenie te hard op jouself wees in die moeilike tye nie; en as die dinge nie volgens plan loop nie, maak ‘n plan en byt vas, én kom by die eindstreep uit!

In die vorige nuusbrief, het ek oor toekomsgereedheid (future-proofness) gesels. Lees dit gerus weer as jy intussen daarvan vergeet het. Die kort en die lank is dat jy tendense (trends) moet raaksien met sy geleenthede en moontlike ontwrigtings wat dit teweeg kan bring. En dan eerder kies om ‘n argitek as ‘n slagoffer van die toekoms te wees.

Die kuns is mos om met oop oë en aanpasbaarheid die toekoms in te gaan. Nuwe werksgeleenthede en posisies word geskep, nuwe besigheidsgeleenthede ontstaan. As ons kies om die toekomstige uitdagings met die oplossings en vaardighede van die verlede te hanteer, gaan ons ons vasloop. En as ons die ontwikkelinge ignoreer of teenstaan, gaan ons net ons eie gat grawe. Soos ‘n branderplankryer wat eerder die energie van die golwe positief gebruik as om daarteen te baklei, só kan ons die ontwikkelinge in ons guns gebruik.

Een van die grootste uitdagings waarmee my kliënte sukkel, is nie net om met rewolusionêre idees vorendag te kom nie, maar om dit in praktyk reg deur te voer. Ons praat hier van oordeelkundige veranderingsbestuur wat baie geduld en wysheid vra.

Verder is ek besig om die volgende te leer (meestal by my kliënte):

  • Wees nuuskierig maar rustig oor die toekoms. (As Christene weet ons dat dié God wat in die verlede by ons was en steeds by ons is, sal in die toekoms ook by ons wees.)
  • ‘n Goeie integrasie van stabiliteit en groei is nodig. Omhels beide sonder om die oënskynlike spanning te probeer oplos. Leef met polariteite saam.
  • Luister, kyk, lees, neem waar wat in ander bedrywe as joune gebeur en vra jouself voortdurend af hoe dit op jou besigheid of industrie van toepassing is. Soos Steve Jobs gesê het: ”connect the dots” van dit alles en “wallah” iets nuuts kan gebore word.
  • Maak tyd en plek vir prettige kreatiwiteit – kry in jou huis en/of by die werk kreatiewe ruimtes of tye waar en wanneer jy en ander wild kan droom en skep. Ons is so besig om te “doen” dat ons moeilik tyd en plek maak om te dink en te skep. Party besighede sit elke week 2-ure uit waarin almal skeppend en innoverend besig moet wees. Ander beloon kreatiwiteit en vra mense om elke kwartaal innoverende idees voor te lê.
  • Ons is deel van spanne. Kom ons loop die pad saam. Nie almal van ons het dieselfde rolle om die toekoms te ontwikel nie. Een kry die idee, ‘n ander ontwikkel dit, en iemand anders kan leiding neem om dit te projekbestuur en uit te voer, en sommiges sal dit toepas en maak werk. Weet waar jy inpas. Maar maak seker jy is oop vir verandering.
  • Betrek mense op verskillende maniere in die veranderingsproses. Sommiges moet net die regte inligting kry, ander wil gekonsulteer word, party wil 100% deel van die proses wees. Moenie mense onnodig angstig, bedreigd en onseker laat voel nie. Kom ons help mekaar op die pad. Luister na mekaar, beplan saam, groei saam.

Deesdae is ek meer oop vir lesse van my kinders en ander jongmense. Hulle het ons wysheid nodig, en ons het hulle jeugdige entoesiasme en tegnologiese soepelheid nodig. Saam kan ons ‘n wenspan wees. Kom ons geniet al die afdraendes en byt op slim maniere vas met die opdraendes!

Mooiste seëninge vir die beste moontlike toekoms!

Share