Nuusbrief 12 in 2017

Ek ry onlangs na ‘n moeilike bergfiets wedren (Origin of Trails) terug na my kar toe. Ek kies toe sommer ‘n paar agterstrate agter Coetsenburg by die Landbou-geboue verby en sien ‘n treffende lewensprentjie wat my laat stop. ‘n Ou Oom en Tannie loop deur ‘n groentetuin en wys allerhande dinge vir mekaar, die deernis en konneksie met mekaar is duidelik sigbaar. Die oom wou blykbaar ‘n boer geword het, maar dit het toe nooit so uitgewerk nie.

Toe ek hulle vra of ek ‘n foto van hulle kan neem, is hulle oorbluf maar willig vrolik in – “jy mag dit net nie in die koerant publiseer nie, né!”. En daar begin ‘n kort gesprek. Hy is 91 jaar oud en sy 85. Hulle is 63 jaar getroud en al 65 jaar ‘n paartjie. Beide gebore in Nederland. “Wat is julle geheim? wou ek weet. Duidelik het hulle nie een of ander wenresep nie, maar in die gesprek noem hulle dinge soos vrede, liefde, die Here se genade, en volgens die oom om “moeilike (lees: negatiewe) mense te vermy”. Maar ek tel ook by hulle ander dinge op: ‘n waardering vir mekaar, die vermoë om steeds mooi dinge om hulle raak te sien en te geniet, diep innige dankbaarheid vir die klien dingetjies, ‘n positiewe gesindheid tot die lewe, en diep innerlike dankbaarheid. Soos hulle in Engels sê: “an attitude of gratitude”.

Baie min van ons sal seker op 90 hê wat hulle twee ontvang het. Dit is genade as mens so lank gespaar bly, laat staan nog sáám gespaar bly. En tog kan ons in die leeftydfase waarin ons nou is, maak nie saak wat dit voorafgegaan het nie en maak nie saak wat die fisiese realiteite van ons nou-omstandighede is nie, kies hoe ons nou en vorentoe gaan lewe.

Ons is in die peilvak van die jaar – ‘n jaar vol persoonlike, gesins-, nasionale en internasionale dinge. Dalk moet ons so bietjie asemskep en kyk waar ons is, wat kan ons waardeer van die “plek” waar ons nou is en hoe die jaar verloop het. Nie soseer om allerhande nuwejaarsvoornemens te maak nie, maar eerder om daaruit te leer en ook om dankbaar te wees oor wat waar, reg en goed en mooi is (Filipense 4:8). So ‘n fokus, saam met vertroue op die Here en ‘n lewe volgens sy wil, bring volgens die Bybel nie net dat jy die vrede van God sal ervaar nie, maar dat jy sal beleef dat die “God van vrede” (4:9) by jou is. En met daardie ervaring kan jy tevrede en tog ook met oorgawe 2017 klaarmaak, en dalk so bietjie rus voor ons in 2018 sterk voortgaan om ons lewensroepinge te vervul.

Die lewe is kort, en dit maak dit soveel meer kosbaar. Daarom is die wyse raad: “koop die tyd uit” belangrik. Maar dan nie op ‘n manier om die tyd vir jouself te vat en te hou, maar om daarbinne God en ander lief te hê en te geniet.

Daar is te midde van die gebrokenheid om ons soveel mooi – mooi mense met mooi harte, mooi stories van onverwagse hoop, mooi tonele, blomme en berge en see en riviere wat stories vertel van ‘n Skepper-God met ‘n mooi hart. En Hy nooi my en jou om saam met Hom deur hierdie lewe te wandel en te reis.

So ontmoet ek onlangs ‘n jong dokter en sy vrou wat iewers in die ou Transkei woon en werk. Hulle het ses weeskindertjies (almal onder 6 jaar oud) aangeneem om hulle ‘n beter lewe te gee met beter vooruitsigte. Jy moet hulle beleef om dit te waardeer. So kan ons almal op verskillende maniere lig bring waar dit donker is.

Onthou laastens: soms lyk dit of dinge uitmekaarval, maar dalk val dit, as deel van ‘n groter plan, juis in plek. Ons Here is in beheer en stuur dit alles af na sy uiteindelike doel, met die belofte dat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28).

Mag jy die lewe wat jy het, steeds waardeer deur te fokus op wat waar en goed en reg en mooi is. En mag jy in die proses ook jou stories van hoop vertel, ‘n paar hoop-stories gaan skep, en na ander s’n luister. Lank, lank gelde het ‘n Vader sy Seun gegee sodat jy die lewe mag hê, en dit in oorvloed… Dit gee HOOP!

Share