Ek is onlangs gevra om op my seun se rampartytjie (bachelors), soos Oom Oubaas van Sewende Laan, ’n paar gevleuelde woorde te spreek. Ek herbewoord dit hier so bietjie en verwys na volwasse en proaktiewe menswees (eerder as man-wees). Dit gee vir ons ’n paar riglyne om in 2018 ons beste te kan gee. En natuurlik is ons in dit alles afhanklik van die Here se genade, en ook sy bemagtiging en krag deur sy Gees.
- Volwaardige menswees begin met proaktiwiteit – om nie maar te “go with the flow” nie, en nie maar net te reageer op die samelewing, ander se verwagtinge en idees, die media of watter invloed ookal nie, maar verantwoordelikheid te vat en te kies en te besluit watse soort lewe jy gaan bou – te regeer. Ons is immers geskep om te REGEER nie te reageer nie!!
- Deel van proaktiewe menswees is om verantwoordelikheid te vat. Só bemagtig jy jouself en leef jy die lewe van “meer as oorwinnaar” wees. Jy definieer die realiteit, kyk dit in die oë, neem eienaarskap, soek oplossings en maak reg wat verkeerd is. Die teenoorgestelde daarvan is om “onder omstandighede” te wees as die “arme victim”. Baie mense kies só om passief te bly op een van die volgende maniere:
- Dra oogklappe, kyk ander pad, raak nie betrokke nie, ignoreer, misken of ontken die werklikheid en leef doelbewus in ‘n “fool’s paradise”.
- Hulle blameer ander, hulle opvoeding, die omstandighede, die ekonomie, hulle werk, hulle vrouens, ouers ens. (dis die “blame game”).
- Hulle maak aanmekaar verskonings om so die verantwoordelikheid weg te skuif.
- Hulle het ‘n passiewe houding van “wag en hoop”.
- Reguit gesê: dit is die “slapgat” opsies. Volwaardige mense is nie slapgat nie.
- ‘n Proaktiewe mens neem ook outoriteit. Dit is om Koninklik (dus in jou amp as koning) leiding en rigting te gee – so goed jy kan, al “figure” jy dit uit soos jy aangaan.
- Verder is volwasse menswees, menswees met ‘n hart wat bereid is om te voel, mee te leef, empatie te hê, hartseer en bly te wees, en soms broos en kwesbaar. Noem dit jou Priestelike roeping. Wees bereid om te vergewe, ook jouself. Met so ‘n hart kan jy soos Jesus voete was, die “wounded healer” wees, saam met ander huil en lag, harte aanraak en oorwen vir wat reg en goed en mooi is. Wees uit jou hart uit lief vir ander,veral die mense in jou binnekring. Leer by Jesus hoe om te lief te wees, te gee, op te offer. Ja, mag die gesindheid van Jesus ook in jou wees (Gal 2:5 en verder).
- ‘n Lewe met wysheid lei tot berekendheid, om die regte dinge op die regte tyd en die regte manier met die regte mense te doen. Dit is om eers die “pause” knoppie te druk, te besin en by die Here te hoor. Dit kan jou baie moeite en ompaaie spaar. Met wysheid kan jy goed beplan en só seker en vol vertroue wees van elke treë. Dit begin met eerbied vir God. Dit vra dinktyd, tyd vir refleksie en besinning.
- As Soldaat en vergter in Christus se weermag sal jy dikwels in die “battlefields” van die lewe staande moet probeer bly. Daar woed immers ‘n stryd tussen Lig en Duisternis, tussen Goed en Boos, Reg en Verkeerd. Voer die stryd met Ef 6:10-20 se wapenrusting sodat jy na die stryd steeds op jou pos kan bly staan. Maar weet dat die grootste gevegte dikwels in jou eie hart en kop sal plaasvind. Wees nugter en wakker, bewaak jou eie hart en gedagtes, want as jy daar kan wen, is jy ‘n wenner.
As Christen is jy ‘n hoop-draer en liggewer in hierdie wêreld. In Christus is jy ‘n mens met ruggraat. Nog nie volmaak nie, want jy is ‘n mens en nog op pad met God…
Kom ons leef 2018 voluit as mense van God, vir God, saam met God!