Andy Stanley sê dat wanneer ‘n jongmens, spanmaat, lewensmaat met ‘n rewolusionêre idee kom, moet ons nie met “How?” (uitvoerbaarheid, kostes, probleme en kritiek) te reageer nie, maar eerder met “Wow!” (waarderend, energiek). En dan met die “wow!” kan ons kreatief-ondersoekend die idee verder bespreek en help uitbou. Só keer ons dat ons negatiewe kritici word wat terughunker na die verlede of vashou aan die veilige hede. Deur te lewe met ‘n “wow!”, bly ons studente van die lewe, wat soepel en oop die geleenthede en avonture aangryp en benut.
Vars denke, openheid, oplossing-gerightheid sit jou voor in die koor. Iemand merk by ‘n onlangse konferensie die volgende op: “Be aware of the lollypop of mediocrity: suck it and you will suck forever”. Dalk bietjie kras en reguit, maar die skoktaktiek is dalk nodig vir baie van ons. Stephen Covey het gesê: “The enemy of the best is often the good”. Oswald Chambers se bekende boek se titel sê dit anders: My Allerbeste vir die Allerhoogste!
Die kragte in die wêreld om jou, maar dikwels ook die kragte binne-in jou, wil jou aftrek na ‘n plek van die minste weerstand – waar die lewe gemaklik, vreedsaam en op die oog af “gelukkig” is. Amper soos Simba in die fliek Lion King waar hy in die land van Hakuna Matata gemaklik in sy gemaksone geleef het, maar eintlik vir sy roeping tot iets baie groters weggekruip het. Terloops, Hakuna Matata is ‘n Swahili-uitdrukking wat beteken “Geen bekommernisse”.
Ek vra dikwels vir mense in leierskap- en bestuursontwikkelingprosesse wat hulle lewensdoel en sin is. Meeste mense se antwoord kom daarop neer dat hulle ‘n verskil wil maak. Ons wil immers voel dat ons lewens op aarde waardevol is – dat ons nie maar leef en eendag doodgaan, en alles maar net ‘n gehaag na wind is nie. Ons wil ‘n bydrae maak, iets beteken.
Die grootste vyand vir God se droom vir ons, is vrees. Wat baie daarmee help, is om ‘n “vrees-oudit” te doen. Skryf al die vrese neer. Vra daarna jouself af wat die oorsprong van die vrees is, wat die waarheid agter die vrees is, wat is leuens wat jy glo, en wat is die beste manier waarop jy die vrees realisties kan bestuur of die vrees-objek kan hanteer. En gee daarna die vrese oor aan ons Here. As jy byvoorbeeld bang is dat ‘n gesprek met ‘n potensiële kliënt sleg kan afloop, help dit om te bepaal waarvoor jy eintlik bang is – verwerping, mislukking, dat jy jou naam met ‘n plank sal slaan? As jy weet wat dit is, kan jy dit bestuur, vervang met positiewe gedagtes en die waarheid, wat jou sal bemagtig en vry maak.
Op my bergfiets het ek geleer dat ek op een van twee maniere kan ry: óf defensief (beskermend, voorkomend, anti-val) óf offensief (met avontuurlustigheid, positief en genotvol). Om offensief te ry (sonder om dom-onnosel te wees), is dikwels baie veiliger, beter, lekkerder, vervullender en vol pret. Dit is ook waar van die lewe en van besigheid. (Oor my vlak van fietsry: ek is nog nie heeltemal daar nie, maar werk daaraanJ.)
Mag die lewe vir jou ‘n avontuur bly – saam met die Skepper skeppend en ontwikkelend!