Nuusbrief 1 in 2017

Wat ‘n voorreg om te weet dat ons 2017 nie alleen aanpak nie – God is nie net vir ons nie, maar ook veral saam met ons. Dit is sy genade wat sinvolle lewe moontlik.

So aan die begin van die jaar is daar so baie dinge wat gedoen en gereël moet word dat ons so maklik daardeur opgeslurp word en dan vergeet om die mooi van die oomblik te geniet. Jy ken seker die gesegde “carpe diem” (gryp die dag) baie goed. Maar ek hou van die manier waarop dit deur iemand verander is: “Seize the day, and enjoy the flowers on the way while you may”.

Met die jaar voor ons, is die vraag: wat soek jy regtig uit die jaar – Geluk? Sukses? Vervulling? Liefde?

Paulo Coelho, die skrywer van “The Alchemist” skryf op sy blog:

“Success comes to those who do not waste time comparing what they are doing with what others are doing… People who seek only success rarely find it, because success is not an end in itself, but a consequence.”

Ek glo dieselfde is ook waar van geluk, liefde en vervulling – dis nie iets wat jy kan kry deur dit na te jaag nie; dit is die gevolg van ‘n lewe waarin jy van jouself gee. As ons 2017 aanpak met ‘n selfgerigte fokus om soveel as moontlik vir onsself daaruit te haal, kan die jaar heel maklik ontspoor en baie anders opeindig as wat ons hoop.

Kyk bietjie na die volgende stellings:

  • Help ander om gelukkig te wees deur hulle volgens hulle behoeftes te bedien, en jy sal verstom wees oor die geluk wat onverwags in jou eie lewe invloei.
  • Kyk waar jy ander kan help om hulle potensiaal te ontsluit om só suksesvol te raak, en later sal jy agter kom hoe jou eie liggie al helderder skyn en sukses jou kant toe kom – dalk heel anders as wat jyself sou beplan het.
  • Hê onvoorwaardelik lief sonder om iets terug te verwag. Jou liefdevolheid sal ‘n “tuin” skep waarin wonderlike plante sal groei en pragtige vrugte oplewer. En nie almal nie, maar baie ander sal jou terug liefhê.

Want jy sien: “wat jy saai, sal jy maai”. Dit is ‘n natuurbeginsel. Dit is ook ‘n Bybelse beginsel. Dit is meer as net ‘n relasie tussen oorsaak en gevolg. Dit is om iets in die lewe buite jou eie klein lewetjie uit te saai, iets wat interaktief met baie ander dinge kan meewerk – soms om dit wat sleg is, te neutraliseer; soms om saam met dit wat reeds goed is, verder uit te bou en te versterk; soms om iets nuuts te begin.

Om so van jouself te gee, vra van jou om bereid te wees om risiko’s te neem. Nie soseer blinde risiko’s nie, maar berekende geloofsrisiko’s. Om soos die helde van die outyd (Hebr 11) bereid te wees om soms op vreemde paaie te gaan, net omdat jy glo (soms weet) dit is die regte ding om te doen. Prediker 11:1 sê: “Werp jou brood op die water; eendag sal dit terugkom na jou toe”. Dit begin altyd by die eerste treë of aksie.

So miskien moet ons elkeen vir onsself nie eerstens afvra: “wat wil ek uit die jaar hê?” nie. Die vraag is eerder: wat gaan ek gee? Watter saad gaan ek saai? Waar gaan ek dit saai? Hoe kan ek dit so goed as moontlik saai? (En eers dan stel jy jou doelwitte.)

Om jou wemel dit van geleenthede. Elke behoefte is ‘n geleentheid. Elke mens op jou pad, is ‘n geleentheid – hetsy jou kollega, kliënt, die vrou agter die kasregister wat jou bedien, die tuinman of die petroljoggie, die bedelaar of sukkelaar. Soms net ‘n omgee-kyk of belangstellende vraag. Soms ‘n gebed. Soms bietjie of heelwat meer. Soms is die oop deure besigheidsgeleenthede, soms bedieningsgeleenthede.

Paulo Coelho moedig ons aan om in ons besigwees, soms te stop en te vra: is my waardes nog in plek? ‘Am I trying to please others and do what they expect of me, or am I really convinced that my work is a manifestation of my soul and my enthusiasm? ‘Do I want success at any price or do I want to be a successful person because I manage to fill my days with Love?

Laastens, daar is nie ‘n kitsresep vir ‘n vrugbare en suksesvolle lewe nie Dit is gewoonlik nie die gevolg van een of twee groot aksies of deurbrake nie, maar van ‘n lewe waarin jy met dissipline oor en oor klein en soms onaantreklike maar goeie dinge, aanhou doen. Stadig maar seker word so ‘n lewe met goeie gewoontes en herhalende goeie saai-aksies ‘n vrugbare en sinvolle lewe tot eer van God. En as jy God se genade by ons insette inreken, oes jy nie net wat jy saai nie, maar veel, veel meer as wat jy kan bid of dink.

ONS HERHALENDE POSITIEWE AKSIES + TYD + GOD SE GENADE = SUKSES

Vrede en vreugde vir jou regdeur 2017! Wees goed vir jouself en vir ander!

Share