John Maxwell vertel hoe hy jare terug in Kiëf, Ukraine, voor 12 000 mense by ‘n konferensie moes optree oor leierskap. Sowat vyf minute voor hy moes begin praat waarsku die koördineerder hom dat die gehoor uiters negatief oor leierskap is, soveel só dat feitlik niemand begerig is om ‘n leier te wees nie. Die rede was dat mense geweldige teleurstellings beleef het oor die leiers van hulle land. Die leiers se morele vlak was laag en leierskap was gefokus op eie belang en selfvoordeel.
Dit klink nogal bekend. Ons kyk na leiers soos Donald Trump, Robert Mgabe, of Afrikaleiers wat aan mag vashou, en ons eie Jacob Zuma, en vra ernstige vrae. Die verleentheid is verder dat iemand soos Donald Trump homself sterk met Christelike waardes assosieer, maar dat sy styl vir baie van ons kommerwekkend is. (En natuurlik moet ons seker maak dat ons gereeld vir al hierdie leiers bid as mense wat deur God daargestel is.)
In die storie hierbo het Maxwell sy hele praatjie verander om te fokus op diensbaarheid, hoe jy mense positief kan beïnvloed, en werklik waarde kan toevoeg. Dit is dinge wat meeste van ons graag wil doen, of jy nou ‘n ouer, kantoorwerker, ingenieur, skoolhoof, besigheidsleier, predikant, onderwyser, konsultant of wat ookal is. Hy het ook verduidelik dat alles staan óf val met leierskap. Met swak leiers stort baie dinge in duie of word verskriklike dinge gedoen; met goeie leiers kom wonderlike dinge tot stand.
Eintlik is leierskap ‘n Godgegewe roeping aan ons elkeen. God het die mens aangestel om as sy verteenwoordiger te heers en te regeer (Gen 1:26-27). As beelddraer van God is daar iets koninkliks in jou. Jy is dus geroep om (proaktief) te regeer om omstandighede te beïnvloed en dinge te maak gebeur – nie om reaktief te wees en bloot te reageer nie, of erger net, passief te wees nie. Ons is sy “koninklike priesterdom” (1 Pet 2:9), geroep en gestuur om op ‘n koninklike manier diensbaar te wees. Jesus noem ons “sout van die aarde” en “lig vir die wêreld” (Matt 5:13-17) – impakmakers, verskilmakers. En dit vra kontak met die wêreld en die omstandighede om ons, want “sonder kontak, geen impak”.
So, wat is die tipiese dinge wat leiers doen?
- Selfleierskap: In die eerste plek lei jy jouself – want as jou lewe in orde is, as jy mooi na jou eie spiritualiteit, gesondheid, emosies en kennis kyk, het jy soveel meer krag én geloofwaardigheid om ander te lei. Immers, woorde wek, maar voorbeelde trek.
- Proaktief: Jy neem verantwoordelikheid, sien behoeftes en geleenthede raak, en stap in die gaping in om ‘n verskil te maak – al is dit ‘n beskeie of klein bydrae.
- Spanwerk: Jy neem mense saam met jou, werk in ‘n span – of dit jou gesin is, of jou kollegas.
- Bemagtig ander: Leiers ontwikkel en bemagtig ander, en glo in hulle, – jy ontsluit potensiaal, dra jou kennis en vaardighede oor en skep geleenthede vir mense om suksesvol te doen wat hulle goed kan doen.
- Onselfsugtig: ‘n Leier se sukses is nie soseer wat hy vermag het nie, maar wat die mense in sy invloedsfeer kon regkry as gevolg van hom of met sy ondersteuning. Dit gaan dus nie oor roem of om raakgesien te word nie, maar om ander te mobiliseer en te ondersteun.
- Met of sonder posisie: Soms lei jy van vooraf, soms van agteraf, ander kere is jy iewers in die bondel. Sien, leierskap is nie ‘n posisie nie. Dit is invloed! Jy vra jouself af: hoe kan ek in dié bepaalde omstandighede, met my gawes en talente, myself posisioneer en die verskil maak waartoe ek geroep is.
Oral om ons wemel dit van behoeftes en geleenthede, gereed vir mense wat die moed het om dit aan te gryp. Soms is ons verbaas oor watter mense opstaan en iets begin doen én sukses bereik. Dikwels is dit nie die talentvolste of geskikste mense nie. Party lyk eintlik te oud en ander te jonk, sommiges het fisiese probleme, en baie het glad nie die kwalifikasies of ervaring nie. Miskien is dit tyd dat ek en jy vir ‘n paar dinge ons hand opsteek en onsself beskikbaar en diensbaar maak?
Mag God ons oë daarvoor oopmaak om opnuut te sien wat dit beteken om ‘n geliefde en geroepe kind van God te wees. En ook Wie Hy is wat jou roep – die almagtige God wat deur jou groot dinge kan en wil doen, maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie!
Vrede en vreugde vir jou! Kyk mooi na jouself én na ander!