Nuusbrief 12 in 2016

Nou die dag hoor ek vir die soveelste keer iemand sê: “waar is die jaar heen?” Noudat ek daaroor nadink – dis nogal ‘n goeie vraag! Ek wil met hierdie rondte van die nuusbrief ons almal bietjie uitdaag om daaroor na te dink: waar ís die jaar heen? Waarop het hierdie jaar uitgeloop? Wat het dit vir jou gebring? Maar kom ons vra onsself ook af: hoe effektief het ek my lewe in die afgelope jaar gelewe?

‘n Klompie jare terug het Stephen Covey sy boek “The 7 habits of highly effective people” geskryf. Die eerste drie lewensgewoontes neem jou van afhanklikheid na onafhanklikheid – amper soos ‘n kind wat leer om op sy eie bene te staan en vir sy eie lewe verantwoordelikheid te aanvaar. Hy sê dit lei tot ‘n “private victory”. Die volgende drie lewensgewoontes neem jou na ‘n interafhanklikheid en ‘n “public victory”. Dan kan jy effektief tussen mense en saam met mense werk en leef. Die laaste gewoonte is om jouself op te pas en aan jou eie skerpheid aan te hou werk, op alle vlakke: geestelik, emosioneel, verstandelik en fisies.

Kom ons kyk eers na die eerste drie gewoontes en vra onsself af hoe ons die afgelope jaar gevaar het in ons persoonlike selfbestuur:

  1. Be Proactive: Neem ek regtig volle verantwoordelikheid vir my lewe, vir waar ek is teen die einde van hierdie jaar? Het ek deurentyd gekies hoe ek wil reageer of blameer ek ander of my omstandighede? Rig ek my lewe doelbewus in volgens my waardestelsel en beginsels?
  2. Begin with the end in mind: Het ek die jaar ingerig volgens my planne en visie daarvoor of het ek bloot die jaar gevat soos hy kom? En was my planne ingerig volgens dit wat regtig belangrik is? Weet ek waarheen ek oppad is en waaraan ek bou?
  3. Put first things first: Hoe was my tydsbesteding? Het ek onderskei tussen dit wat regtig belangrik en dit wat dringend is? Het ek my tyd beplan? Waarvoor het ek “nee” gesê en waarvoor het “ja” gesê? Het ek doenlysies gemaak, geprioritiseer, geskeduleer en gekontroleer? Of het ek baie tyd gemors op nuttelose en onbelangrike dinge? Leef ek voluit of word ek geleef – gedryf deur ander mense of dinge se aansprake op my tyd en energie?

Hierna kom die volgende 3 lewensgewoontes:

  1. Think win-win: Het ek probeer om die lewe deur ander se oë te sien en so gesprek te voer dat ons saam kan wen? Of het ek te veel toegegee? Of te veel ten koste van ander myself eensydig bevoordeel?
  2. Seek first to understand, Then to be understood: Ons het twe ore en een mond – het ek meer geluister as gepraat?
  3. Synergise: Kon ek hierdie jaar met mense hande-vat omdat ek glo en weet: saam doen ons soveel beter? (Spanwerk maak die droom werk.) Was ek ‘n spanspeler wat ander help om te slaag en wat so die span/gesin/besigheid/kerk help om te wen?

Die laaste lewensgewoont ht betrekking op al ses die voriges:

  1. Sharpen the saw: Het ek genoeg aandag gegee aan my eie groei en ontwikkeling? Het ek soms gestop om te rus en skerper te word? Is ek ‘n skerp instrument in die Here se hand?

Stephen Covey het nog ‘n boek geskryf: “The 8th habit – from effectiveness to greatness”. Dit handel oor jou unieke doel op aarde, jou “true voice”, ware betekenisvolheid en jou nalatenskap (legacy). Miskien is dit die grootste vraag: was hierdie jaar betekenisvol? Leef ek my lewe volgens die unieke stemmetjie diep binne-in my en help ek ander om dit ook te doen?

Mag jou introspeksie jou lei to groter insig en praktiese planne om 2017 nog beter te maak. Maar mag dit ons almal help om ons fokus op die ou einde weg van onsself op God en ander te plaas: om Hom bo alles lief te hê en ons naaste soos onsself!

Nou ja, met hierdie laaste boodskap groet ek jou vir die jaar. Mag jy 2016 goed klaarmaak, mag die wonder van die Christusfees jou opnuut herinner aan dit waaroor alles werklik gaan, en mag 2017 vir jou mooi en geseënde dinge inhou!

Vrede en vreugde vir jou! Wees goed vir jouself en vir ander!

Share