Jy het seker ook al die sogenaamde “swart hond” leer ken – in jou eie lewe en in dié van ander? Hulle noem hom Depressie. Hy steel jou vreugde en geluk, dreineer jou energie en moed, klim in jou kop in en sit groot donkerbrille op jou oë, hou jou uit die slaap of laat jou te veel slaap, ondermyn jou selfvertroue en vrymoedigheid, maak jou knorrig en onvriendelik, laat jou soms alleen en verlate voel, maak dat jy ander mense en nuwe geleenthede wil vermy, laat jou moedeloos en negatief voel, laat dinge sinloos en donker voel, en dreineer stukkie vir stukkie die lewe uit jou uit. En die intensiteit hiervang hang af hoe ver die “swart hond” in jou lewe veld gewen het of nie.
In my eie lewe kom die “gat-gevoel” soms as besigheid (en impak en inkomste) minder of stil word, en ek oorbodig en onnodig voel. Maar baie keer gebeur dit na mooi hoogtepunt-ervaringe soos wanneer ek ‘n spanproses suksesvol gelei het of my alles in ‘n preek gegee het. Amper soos Elia wat nadat hy op die berg Karmel kon bewys dat God die ware God is omdat Hy vuur kan stuur om die offer te verbrand en ‘n gebed vir reën kon verhoor. Hulle het klomp Baälprofete doodgemaak en Elia het voor die koning se perdekar uitgehardloop terwyl die groot reën na ‘n lang droogte aan die kom was.
Die volgende dag moes hy hoor dat die slegte Isebel hom wil doodmaak. Dit “trigger” sy depressie. Hy is fisies moeg en sat, emosioneel gedreineer. Als raak vir hom net te veel. Hy stap in die woestyn in en gaan lê onder ‘n besembos, gereed om dood te gaan. God het hom laat slaap, wakker gemaak en kos gegee, weer laat slaap en wakker gemaak met kos. Daarna het hy nog dieper in die woestyn ingestap en daar ‘n wonderlike ervaring met God gehad, en nuwe perspektief, hoop en opdragte gekry.
Vir Elia het rus en kos (fisies), nuwe perspektief (verstandelik), en ‘n ervaring met God (spiritueel) gehelp om weer te kan aangaan. Klink mos na goeie terapie?
Vir meeste mense werk dit nie só maklik nie – “volg stappe een, twee, drie… en walla, jy is gesond”. Elia, so lyk dit my, het waarskynlik nie soseer aan depressie gely nie, dit was nie ‘n deurlopende patroon in sy lewe nie. Hy het wel ‘n slegte depressiewe episode gehad en die “swart hond” van naby leer ken. ‘n Ervaring wat hom kon breek. Maar met God se intervensie oor baie dae, kon Elia weer aangaan en sy roeping vervul.
Die volgende skryf ek met Mariëtte se toestemming. Baie jare terug, paar weke na ‘n miskraam, het sy depressief geraak. Erg. Sy kon nie tussen mense wees nie, was baie moeg en moedeloos, by tye angstig, huilerig. En met ‘n besige man en twee kleuters was dit taai. Die anti-depressante wou nie die truuk doen nie.
Toe kom sy by die psigiater, Dr Louis Kroon, uit. Hy het geluister en haar geleer hoe om haar denke te vernuwe en om te keer. Dit was natuurlik die laaste ding waarvoor sy lus was. Maar sy het dit gevat en die ABCDE-tegniek geleer en toegepas. Dit het haar lewe verander, hoewel sy by tye vir van ons ander bietjie oorboord gegaan het: as ek die badkamerkassie oopmaak was daar ‘n slagspreuk of opbuende woorde, in die klerekas, op die yskas, in die badkamer ens. Binne twee weke het ek ‘n 60-80% verbetering gesien. So het ek my vrou terug gekry. Daar was terugvalle en oppe en affe en dis steeds by tye ‘n uitdaging, maar vandag kan sy 90% van die tyd ‘n vol en vreugdevolle lewe lei.
Dit lyk my die volgende is vir ons belangrik om die “swart hond” op sy herrie te gee:
- Erken die probleem realisties en kies dat jy nie meer wil hê dat depressie jou lewe beheer nie.
- Kry professionele hulp.
- Gebruik die nodige medikasie (want dit is soos krukke vir ‘n ou wat sy been gebreek het – ondersteunend).
- Besluit dat jy gaan saamwerk en doen alles in jou vermoë om ou negatiewe en afbrekende gedagtes te vervang.
- Stap die pad biddend saam met die Here.
- Hou jouself fisies fiks en gesond. Stap, draf of ry fiets. Eet gesond. Slaap genoeg.
- Tree doelbewus positief en opbouend op, selfs al voel jy nie so nie.
- Bestuur jou energie.
Vir mense wat ligte vorme van depressie ervaar, of by tye ná uitputtende ervarings of terugslae depressief en moedeloos word, is daar ook raad. Leer om jou energie te bestuur en jou energiedammetjie weer op te vul na jy onttrekkings gemaak het.
As jy wil, kan ek vir jou die ABCDE-tegniek aanstuur sodat jy dit kan gebruik. Lees of google oor Albert Ellis se REBT. Kyk ook gerus die kort youtube clip: https://www.youtube.com/watch?v=XiCrniLQGYc.
Die swart hond van depressie is vir baie van ons ‘n werklikheid, maar dit hoef nie jou lewe te vernietig nie. Daar is hoop en hulp vir ‘n beter en gelukkiger lewe.
Hoop die gesprek hieroor help! Sterkte daar vir jou uitdagings en jou realiteite. Weet dat jy nooit alleen is nie. Ons God is daar sodat jy sy hand kan vat!
Vrede en vreugde vir jou!