Ek het onlangs in ‘n boodskap oor Josua 1:1-9 oor die “fear-factor” gepraat. Daartydens het ek ‘n clip van Bethel Music “No langer a slave to fear” gespeel. Sonder uitnodiging en voor my boodskap klaar is, het mense begin vorentoe stroom vir hulp en gebed – die eerste keer in my lewe dat dit só met my gebeur. Dit was sekerlik die Heilige Gees, maar ek dink nog ‘n rede is dat baie mense sukkel met vrese (ek en jy is dus nie alleen nie). Luister gerus na die lied wanneer jy ‘n kans kry: https://www.youtube.com/watch?v=3SZnQfALk8U.
Blykbaar is Suid-Afrika een van die lande waarin stres en angs die meeste voorkom. Die probleem is verder dat ons baie min klinieke en spesialis-hulp vir stres en angs het. Wat wel aan die orde van die dag is, is dat al hoe meer mense medikasie daarvoor gebruik asook slaap- en ander verwante medikasie. Te veel angs en stres lei baie dikwels tot depressie, uitbranding en/of ander fisiese siektes. En dit maak ook soms dat mense dom dinge doen, benoude spronge maak, of mooi geleenthede van die hand wys.
Toe ek jare terug ‘n middelafstand atleet was (800m, 1500m, 3000m) het ek soms voor ‘n groot wedloop gevoel ek wil weghardloop, eerder as om in die wedloop te hardloop. Jy kyk na die ouens wat soveel sterker en vinniger lyk en dit maak jou bang en geintimideer voel. Dan skop vrees in: vrees vir mislukking, vrees dat ek nie opgewasse is nie. Gelukkig kon ek gewoonlik myself gefokus kry en meestal het dit goed gegaan. Dit het my nogal laterjare gehelp om te kan vasbyt as ek bang en oorweldig voel.
Vrees kan een van die mees ondermynende emosies in die menslike psige wees. As jy vrees sy gang laat gaan, sal jy vind dat dit jou menswees verlam en ondermyn, jou selfvertroue en waagmoed wegvreet, jou gevange hou en gesonde denke inhibeer, jou keer om “ja” te sê vir wonderlike geleenthede en so ‘n demper en beperking op jou menswees en jou geluk plaas.
Paddy Upton wat jare die Wes-Indies en toe die Proteas se sportsielkundige en life coach (kopdokter) was, sê dat hy aanvanklik die krieketspelers probeer help het om minder gestres en beangs te wees. Later het hy egter ontdek dat dit blykbaar beter is om die ouens te help om met stres te “cope” sodat dit nie jou sportprestasie benadeel nie maar eerder bevoordeel.
Die kuns is dus nie soseer om nooit te vrees nie, maar om dit in jouself te erken en dan te bestuur. Jy kan dus weier dat dit jou lewe regeer. Anders gesê: in plaas daarvan om reaktief vanuit jou vrese te reageer, kan jy proaktief oor jou vrese regeer. Jy kan dus weier om langer ‘n slaaf van vrees te wees deur eerder te leer om jou vrese se baas te wees – deur jou gedagtes, woorde en dade.
Nelson Mandela het op ‘n keer opgemerk: “I learned that courage was not the absence of fear, but the triumph over it. The brave man is not he who does not feel afraid, but he who conquers that fear.”
So, hoe gemaak met my angs en stres? Ek wens ons kan almal saamgesels want ek is seker dat ons saam klomp idees kan saamgooi. Maar hier is ‘n paar idees:
Op die korttermyn:
- Herken en erken die angs, stres en vrees. (Om dit te ontken, is ‘n kortpad na meer moeilikheid.)
- Sê vir jouself dit is natuurlik om dié emosies te hê maar dat jy kan kies wat jy daarmee gaan maak.
- Kies om outoriteit en verantwoordelikheid vir jou reaksies te neem.
- Kies die beste strategie of plan en aksies wat vir jou werk, mits dit gesond en volhoubaar is.
- Gewoonlik help dinge soos fisiese oefening (bv. stap), ‘n lekker bad, strelende musiek, ‘n hart-uitpraatsessie, neerskryf van gedagtes wat jou moed en krag gee in die situasie, refleksie, diep asemhaling, om hard-op positiewe dinge vir jouself en ander te sê.
- En natuurlik gelowige gebed waarin jy kies om jou vertroue op die Here te stel.
- Wanneer regtig nodig, vra jou dokter om vir die korttermyn medikasie voor te skryf.
Op die langer termyn:
- Praat met iemand deur jou vrese. Werk daarnatoe om groter innerlike vrede te verkry.
- Verander wat jy kan verander, maak vrede met wat jy nie kan verander nie.
- Bou jou innerlike sterkte op deur te kies om positiewe dinge oor jouself, die lewe en ander mense te dink en uit te spreek.
- Erken negatiewe gedagtepatrone en vervang dit meer en meer met positiewe en opbouende gedagtes.
- Bou jou ondersteuningsisteem op met mense wat vir jou lief is en vir wie jy lief is.
- Kyk die lewe dapper in die oë en kies om voluit te lewe.
- Wanneer nodig, vra die dokter of psigiater om jou te toets vir chemiese wanfunksionering wat jou angstig kan maak (soos probleme met jou skildklier of jou pituetêre klier).
Die groot ding is: moenie net ingee en toegee aan jou vrese en angste nie. Werk ‘n plan van aksie uit. En kry hulp waar nodig.
Hoop die gesprek hieroor help! Sterkte daar vir jou uitdagings en jou realiteite. Weet dat jy nooit alleen is nie. Ons God is daar sodat jy sy hand kan vat!
Vrede en rustigheid vir jou!