Nuusbrief 7 in 2016

Mariëtte is tans besig om ons televisiekamer te verander – nuwe meubels, ander mat, tafeltjie, nuwe TV en TV-kas en so aan. En ek moet erken, die proses maak my by tye meer ongemaklik as opgewonde. Al was die ou dinge nogal… wel, oud.

My werk bestaan daaruit om groei en verandering te fasiliteer, maar dikwels moet ek hard met myself praat om verandering in my eie lewe te omhels. My kop wil maar te gou “settle” vir wat nog altyd gewerk het. My hart skop teen al die nuwe tegnologie en maniere van doen, want verandering is soms baie ongemaklik. Die nuwe voel immers nie net vreemd nie, maar kos boonop ook klomp geld en my Hollander-hart sukkel daarmee ook.

Dit het my laat dink aan Vijay Govindarajan, professor by die Besigheidskool by Harvard, se stories oor innovasie. Hy vertel hoe atlete oor die jare hoogspring tegnieke verbeter het. Einde 18de eeu was die hoogspring rekord 1.97 m (6 vt 512 duim) by die 1895 Olimpiese spele. Honderd jaar later is die rekord 2.45 m (8 ft 014 duim) . Wat is die rede?

Tot voor 1965 was die skêr-metode,  “Western Roll”, die “Straddle” en “Eastern cut-of” die vernaamste metodes. Dick Fosbury het egter met ‘n totaal nuwe, eintlik rewolusionêre tegniek gekom. Mense het hom baie skepties aangekyk, maar daarmee het hy in die 1968 Somer Olimpiese spele ‘n goue medalje gewen. Vandag gebruik almal die “Fosbury Flop” – ‘n tegniek wat totaal kontra-intuitief is. Jy hardloop in ‘n J-kurwe, gaan dan met jou kop en rug eerste oor die hoogspringlat, en land op jou rug.

Dit is al meer duidelik dat ons nie die toekomstige probleme en uitdagings met vandag se antwoorde en tegnieke kan aanspreek nie. Dus: Innovering ter wille van Oorlewing – wat meer is as net “adapt or die”.

Vijay sê dat as ons innoverend wil wees, moet ons (1) die hede bestuur; (2) met sekere gebruike en oortuigings van die verlede breek; en (3) die toekoms herontwerp. Ons is baie keer so met die hede (1) besig dat ons nie tyd en energie het om vir die toekoms voor te berei nie (3). So, ‘n besigheid moet wat hy tans doen, aanhou goed doen, terwyl hy tussendeur tyd maak om sy prosesse, produkte en tegnieke vir die toekoms te herontwerp. (Kyk gerus: https://www.youtube.com/watch?v=wgD2VzFqCaE.)

In die laat sewentigerjare het my pa my ouma gekry waar sy in die tuin sukkel om bossies uit te trek. My oupa is dood in 1973. Sy was te jonk en te sterk vir ‘n ouetehuis en ‘n meenthuiskompleks sou net ‘n korttermynoplossing wees. Na ‘n bietjie navorsing het my pa-hulle, sover ek weet, in die vroeë tagtigerjare op innoverende maniere die eerste volskaalse aftree-oord in Suid-Afrika gebou – met hoë sekuriteit, ‘n versorgingskliniek, rolbalbaan, biblioteek en eetsaal. Die res is geskiedenis – oral sien ons vandag aftree-oorde.

In Jesaja 43:19 praat die Here van ‘n “nuwe ding” wat hy in daardie geslag sou doen. Hy is immers as Skepper die groot Innoveerder. Ook in jou en my lewe wil die Here nuwe dinge doen. Ons moet nie net met die tye saamleef en aanpas en relevant bly nie, maar ook saam met die Here die “nuwe” wat hy vir ons in die oog het, raaksien en omhels. Dit vra nuwe denke, nuwe gesindhede en nuwe gedragspatrone.

Mag ons saam met die Here so bietjie waag en nuut dink en nuut lewe!

So, nuwe TV-kamer, hier kom ons!

Share