‘n Vriendin van ons vertel dat sy haar werk wil bedank, want sy kan dit nie meer uithou met haar baas nie. Dis nie meer lekker om werk toe te gaan nie, sy weet nie wat van haar verwag word nie, voel nie sy word waardeer of toegelaat om inisiatief te neem nie. Haar passie en gevoel van betekenisvolheid (significance) het gekwyn. En tog hou sy eintlik geweldig baie van wat sy doen.
Een van die grootste redes hoekom mense van werk verander, is blykbaar nie soseer omdat hulle nie van die werk hou nie, maar vanweë hulle base se gesindheid en gedrag. As ‘n mens in jou werk ongelukkig is, raak dit so ‘n groot deel van lewe. Dis mos daar waar jy gewoonlik meeste van jou wakker-ure spandeer. Die hartseer is dat meeste bestuurders en leiers salig onbewus is van die effek wat hulle gedrag op mense en mense se geluk het.
Baie professionele mense – soos sakemanne, dokters, ingenieurs, hortololoë, onderwysers, en ouditeurs – begin hulle werk in hulle tegniese veld, maar soms gebeur dit dat hulle kort voor lank‘n hele span professionele mense lei en bestuur. En soos jy groei en opgang maak, bevind jy jouself in ‘n situasie waar jy as bestuurder ander bestuurders moet bestuur. En dan voel jy dan totaal uit jou diepte uit. Want dit is immers nie waarvoor jy opgelei en voorberei is nie.
Baie maklik land ons dan in die versoeking om mense vir ons doeleindes te “gebruik”. Hulle word gereduseer tot “hulpbronne” (human resources) om my resultate te bereik. In plaas daarvan dat ons mense bemagtig, waardeer, ontwikkel, optimaliseer en makro-bestuur, val ons vas in patrone wat mense ontmagtig, ontmoedig en minimaliseer. Ons werk al harder en harder om te keer dat daar nie pap op die grond val nie, maar die span om ons werk nie saam nie en waardeer nie wat ons doen nie. En só bou die frustrasies by al die partye op. En die ironie is dat sowel die bestuurders as hulle spanlede voel dan onregverdig behandel, en raak ongelukkig en moeg.
Indien jy ‘n bestuurder het, wat tot die posisie bevorder is, maar (nog) nie opgewasse is nie, wil ek jou vra om bietjie deernis te hê.Kyk net vir ‘n rukkie deur sy/haar oë. En oppas dat jy nie in ‘n slagoffer-mentaliteit verval nie. Raak proaktief betrokke by die proses om die span en jou leier sterker te maak en ‘n positiewe, opbouende rol te speel. Om jouself jammer te kry, te kritiseer en dwars te trek, is verstaanbaar, maar dit maak die hele situasie net erger. As dit moontlik is, kan jy van jou kant af ‘n lekker oop gesprek inisieer – ‘n gesprek waarin beide partye bereid is om te luister en saam te werk aan oplossings.
As jy die bestuurder is, vra jouself eerlik die vraag af: minimaliseer of optimaliseer ek my mense? Bou of boelie ek my span? Ek weet jou intensies is waarskynlik goed en suiwer, maar jou gedrag kan dalk die teenoorgestelde uitwerking hê. En onthou mense is verskillend. Wat vir die een werk, werk nie vir die ander een nie – “you need different strokes for different folks”.
Ek het vandag vir so ‘n leier gevra om sy dagbestuur een-vir-een in gesprekke te nooi om verwagtinge en behoeftes te kommunikeer en te probeer belyn. Dit sou help as hulle rustig gesels en hy vrae vra soos (1) Hoe sien jy jou rol en funksie hier en wat dink jy is my verwagtinge van jou? (2) Hoe kan ek jou help om optimaal te funksioneer? (3) Wat sal jy graag anders of beter wil doen?
Interessant hoe die Bybel dit ook aanspreek. ‘n Gemeente, netsoos enige organisasie, is soos ‘n liggaam wat alleen optimaal funksioneer as al die diverse lede in sunergie en eenheid saamwerk. En waar base en klase mekaar respekteer en waardeer, en vir ‘n hoër doel saamwerk, gebeur alles soveel makliker.
Mag jy maniere kry om die werkplek vir kollegas, seniors en juniors, net so bietjie meer medemenslik en aangenaam te maak. Dis juis daar waar ons as koninkryksambassadeurs ‘n groot verskil kan maak. Soms vra dit baie knie-werk (gebed), partykeer om die ander wang te draai, en ander kere om dapper genoeg te wees om met die Here se hulp en wysheid die dinge in liefde aan te spreek.
Sterkte vir die uitdagings – mag jy dit in positiewe geleenthede omskep!