Ek lees onlangs dat ons met die kos wat ons in Suid-Afrika weggooi, letterlik miljoene mense kan voed. In ‘n onlangse gesprek vertel iemand vir my ook hoe ‘n half ton joghurt by ‘n aanleg weggegooi is as gevolg van ‘n elektromeganiese prosesseringsfout, en hoe dit nie as iets te ernstigs beskou word nie. As ek by besighede kom, is ek soms verbaas hoe baie mense totaal onderbenut word en hoe tyd en energie gemors word.
Oor die laaste klompie jare het ek met ‘n paar maatskappye ‘n “Waste Management” proses gedoen, en dit is verstommend hoe ‘n mens met ‘n paar slim skuiwe soms groot geld en moeite kan spaar. Maar dit is ook van toepassing op jou eie persoonlike lewe by die huis en verder.
Een voorman in die konstruksiebedryf het gevra dat hulle verskaffer van die materiale direk op die bouterrein sal aflaai in plaas van by ‘n sentrale punt, vanwaar alles weer vervoer sou moes word. ‘n Ander een het het besluit dat in plaas daarvan dat hulle brandstof-vragmotor oral op die terrein rondry om voertuie brandstof te gaan gee, moet almal dit aan die einde van die dag na die brandstofdepot bring waar dit vinnig na-ure gevul word. Hulle het ook gereël dat alle onnodige voertuigritte uitgeskakel word – dis nie meer oukei vir bakkies om vir enigiets op en af op terrein te ry nie. Nog ‘n kliënt het besluit om hulle exco (uitvoerende komitee) se vergadertyd meer effektief te struktureer om in helfte van die tyd meer sake te bespreek, en besluite te neem wat op aksies en uitvoering kan uitloop. ‘n Ingeniersmaatskappy het besluit om hulle voorraad te beperk want voorrad in die stoor word oud en is dooie kapitaal wat nie geld maak of rente inbring nie. In al hierdie gevalle word derduisende rande, mense-energie en tyd bespaar wat nou beter aangewend kan word.
Ek het op ‘n stadium ‘n groep lynbestuurders en kwaliteitbeheerders (redelik laag gekwalifiseerd) gevra om vir 15-20 minute om die fabriek te stap en terug te kom met maniere waarop hulle vermorsings kan uitskakel. Dit was verstommend waarmee hulle vorendag gekom het.
Ons gebruik met opleiding die akroniem T2IMWOOD:
- T = Transport: Wat vervoer jy onnodiglik en watter ritte is onnodig en mors net tyd, geld en middele? Beplan jou ritte en voertuigbenutting.
- T = Talent: Gebruik ons ons mense en ons eie talente maksimaal, ontwikkel ons dit, word mense bemagtig en waardeer? Of stel ons maar net nuwe mense aan sonder om ons huidige mense maksimaal te gebruik? Doen ons dinge self wat ander mense goedkoper en beter vir ons kan doen? In plaas daarvan dat jyself in die tuin werk, is dit byvoorbeeld vir jou beter om jou tuinman R200 vir die dag te betaal as jyself effektief per dag R1000 of meer verdien.
- I = Inventory: Wat het jy gekoop, maar dit lê net daar vir ingeval jy dit eendag sal gebruik? Dit neem spasie op en is dalk dooie kapitaal.
- M = Movement: Baie mense stap hopeloos te veel rond – by die werk en huis. Op ‘n stadium het ons die skottelgoedwasmasjien koppie vir koppie en bordjie vir bordjie uitgepak. Deesdae neem ek die rakkie uit die masjien en sit dit voor die kombuiskas neer, en ons pak dit direk uit en in die kas. Dit kos baie minder beweging. (Ek draf eerder padlangs, of ry fiets vir oefening.)
- W = Waiting: Watse wagtyd veroorsaak jy vir ander of ander vir jou? Wagtyd moet so ver moontlik óf uitgeskakel word óf beter benut word.
- O = Overprocessing: Partykeer voeg ons hopeloos te veel fieterjasies by wat geen waarde vir onsself of ander toevoeg nie. Party etikette op goedere val in die kategorie. Dalk ook die rompslomp waarmee sommige mense kosmaak – potte, nog potte, bakke en dan nog opskepbakke…?
O: Overproduction: Ons maak te veel kos in die huis, of vervaardig meer as wat die mark (nou) nodig het, en gee vir kliënte dinge wat nie waarde toevoeg nie.
- D: Deficiency: Herwerk is morswerk. So baie keer word werk nie die eerste keer reg- of klaargemaak nie. Dan moet dit agterna oorgedoen of reggemaak word. Dit mors onnodige tyd, moeite, energie en geld. Doen dinge eerder die eerste keer reg.
Op die ou einde kom dit neer op die Bybelse beginsel van goeie Rentmeesterskap: om tyd, energie, geld en talente maksimaal en effektief te gebruik en te bestuur tot eer van die Here. Ek wil jou uitdaag: kyk bietjie waar jy “mors” en jy onmiddelik twee of drie dinge kan uitskakel. Let wel: dit hoef nie jou lewenstandaard of –kwaliteit te verlaag nie. Inteendeel, dit kan dalk juis dinge makliker en beter maak vir ‘n gelukkiger lewe met oorvloed wat jy beter vir jouself en vir ander kan aanwend!
Kom ons leef slimmer en effektiewer, en… mors minder!