Ek was onlangs by ‘n bistro vir ‘n ontbyt. Die diens was traag, die koffie en kos middelmatig. Verskeie kere moes ons navraag doen oor ons bestellings. Toe dit by die rekening kom, het ek besluit om ‘n baie klein fooitjie te gee – mens beloon mos nie swak diens nie. Ek verduidelik toe hoekom ek ongelukkig is en daar bars die dam: hulle maak harte oop en vee trane af. (Dit gebeur baie keer met my. Ek wou raas en kla maar hier word ek die trooster.)
Hulle reaksie en verduideliking was interessant. Ons kelnerin het tot 2:00 die oggend gewerk, net om 8:00 weer te begin werk. Sy en haar mede-klenerin vertel dat hulle moeg en ietwat moedeloos is. Daar is geen aansporings, waarderings of ondersteuning van die eienaar of die restaurantbestuurder nie. Hulle voel misbruik en tenagekom, maar het die werk nodig.
Tog wemel die restaurant van potensiaal: ‘n uitstekende ligging, op die see en pragtige uitsig oor die see, goeie geriewe en lekker ruim. Die meubels en uitleg raak bietjie oud en outyds, en plek-plek is daar opknapping nodig. Die personeel is eintlik baie oulike en afgeronde mense. Met ‘n beter benadering tot veral die personeel sal die eienaar nie net heelwat meer geld maak nie, maar ook gelukkiger, flinker mense hê, en self meer vervulling ervaar. Met wat hy en sy bestuurder doen, illustreer hulle wat vir hulle belangrik is, en wat (wie) nie. En almal verloor!
Dit het my laat dink… My werk is mos (onder andere) om potensiaal raak te sien en te ontsluit. Hoeveel kere is ons nie die demper vir ander mense se geluk, potensiaal en gesondheid nie? Wat is die atmosfeer en kultuur wat ons by ons werkplekke en huise skep? Wat jaag ons na? En wat is die waardes wat ons gedrag bepaal?
Die laaste twee maande het ek agt werkwinkels by verskillende maatskappye aangebied oor waardes en organisasie-kultuur. Aanvanklik is almal positief, tot ons begin praat oor: wat is in ons doen en late in lyn met ons waardes en wat nie? Dan raak die gesprek intens. Die emosioneles, gefrustreerdes en praters maak harte oop. En daarna fasiliteer ek ‘n dinamiese gesprek oor hoe ons oplossing-gerig kan werk om in praktyk meer met ons waardes te belyn.
Waardes is nie iets wat net op die mure opgeplak kan word of net op jou webwerf moet pryk nie – dis dikwels net mooi woorde sonder impak, waarvoor party lag en wat ander ignoreer. Nee, waardes is veel eerder dit wat lewe in die harte van die mense, en dit wat prakties in hulle doen en late te sien is en elke dag gedemonstreer word. Dit begin gewoonlik by die senior leier en sy leierspan en filtreer af ondertoe, maar kan ook deur ander opinievormers se woorde en voorbeelde gevorm word. Die waardes skep ‘n fondasie waarop die kultuur, goed of sleg, opbouend of afbrekend, gebou word.
By een maatskappy het die seniorbestuur basies die volgende waarde geïdentifiseer: “Ons gee vir ons mense om – hulle geluk, veiligheid en groei”. Terwyl ons besig is met die bepaalde werkwinkel is daar ‘n klop aan die deur om ons te vertel dat een van die werkers deur die pakhuis se dak geval het. Drie, vier mense spring dadelik op om soontoe te hardloop. Almal is in skok. Twee kom terug om te vertel dat die besering nie te ernstig is nie en die ambulans op pad is. En toe gaan nog twee uit. Die werkwinkel het kort daarna tot ‘n halt gekom, maar die waarde is geïllustreer: hulle gee regtig om!
In ons land word baie negatiewe waardes, soos disrespek, roekeloosheid, selfsug en korrupsie gedemonstreer. As kinders van God is ons geroep om juis in hierdie tyd hande te vat en ‘n kontra-kultuur (teen-kultuur) met ander waardes en gedrag te demonstreer (Rom 12:2). Dis nie ‘n kwessie van “if you can’t beat them, join them” nie, maar eerder: wees anders en bid en werk vir ‘n nuwe kultuur in jou gesin, vriendekring, werkplek, kerk ensovoorts.
Miskien sien ons dan tog eendag “’n nuwe Suid-Afrika”, maar intussen kan jy iets demonstreer van dit wat kan wees. Sterkte daarmee!