So ‘n klompie jare gelede het Mariëtte, my vrou, begin sukkel met erge pyn in haar skouer en arm. Sy is van bakboord na stuurboord om hulp te kry – onder andere by ‘n fisioterapeut, ortopede, ortopediese sjirurg, biokinetikus, toraksspesialis en ‘n narkotiseur wat in pynbestuur spesialiseer. Sy kon nie meer skoolgee nie, moes ophou klavier speel, kon nie wasgoed ophang nie ensovoorts… Haar lewe is deur pyn en die newe-effekte daarvan erg aan bande gelê.
Na ‘n operasie wat sy uit desperaatheid laat doen het, het die skouer en arm in die rustyd daarna “gevries”… en toe begin die proses om die gebruik van haar arm terug te kry en om van die geweldige pyn verligting te kry. Einde van laasjaar het ‘n egpaar in ons selgroep haar met gebed en bevryding bedien. Ons was skepties, want natuurlik het ons, en ander mense gebid, baie gebid. Ons kon egter nie anders as om te erken dat die Here haar aangeraak het nie, want die pyn het dadelik met omtrent 80% afgeneem en sy kon haar pynmedikasie amper heeltemal stop – van 6 of 7 sterk pille per dag na omtrent soveel per maand.
Die afgelope Sondag kon sy die eerste keer in amper 4 jaar as deel van die aanbiddingspan die klawerbord (keyboard) in die kerk speel. Vir haar was dit ‘n groot deurbraak. Die skouer is steeds by tye seer en soms ‘n uitdaging, maar dit regeer nie meer haar lewe nie, en haar lewenskwaliteit en lewensvreugde is op ‘n nuwe vlak. Groot genade!
Ons het ‘n klomp lesse hieruit geleer. Een les is dat die Here nie volgens resepte werk nie en nie altyd gebede verhoor op die manier en in die tyd wat ons dit sou wou hê nie. En dat Hy werklik ‘n lewende God is.
‘n Ander insig is dat, hoewel van die mediese mense haar baie mooi gehelp het, die mediese wetenskap op baie fisiologiese probleme nie klinkklare antwoorde het nie. Die menslike liggaam, in interaksie met die menslike psige, verstand en gees, is baie meer kompleks en daar is so baie faktore wat die genesingsproses (al dan nie) beïnvloed. En baie dinge kan nie met die ou raamwerk van “oorsaak en gevolg” opgelos word nie.
Ek kom dit ook toenemend in my werk met mense, organisasies en besighede agter. Baie menslike probleme kan nie eenvoudig gediagnoseer en dan op grond van dié diagnose opgelos word nie. Mense as individue, en mense in mens-sisteme, is kompleks. Daarmee bedoel ek dat daar so baie faktore is wat interaktief mekaar beïnvloed. Oorvereenvoudigde, swart-wit antwoorde los dikwels nie probleme op nie. Inteendeel, dit kan meer pyn en ellende veroorsaak.
Netsoos in ‘n huwelik of gesin, is dit dikwels nie net een persoon of een kwessie wat die probleem is nie. Om net die persoon te probeer “fix” of uit die sisteem uit te haal, is baie keer nie die antwoord nie.
Netso, is dit ook met ons land. Die land se probleme gaan nie skielik opgelos word as Mnr. Jacob Zuma bedank of geskors word nie. Die groter sisteem is siek en moet op ‘n dieper vlak gehelp en bevry word van die dinge wat daarop inwerk.
Een ding weet ek: Gebed, waarin jy jou vertroue in die Here uitspreek, en bid vir leiding, bevryding, vernuwing en genesing is beslis deel van die oplossing. Nie soseer omdat ons gebede so kragtig is nie, maar omdat die Een tot Wie ons bid, almagtig is en graag help.
Mag ons in hierdie tyd vir mekaar en ons land bid. En mag ons almal waardige ambassadeurs van sy koninkryk wees!
Sterkte ook met die pyne en die onvolmaakthede waarmee jy ook daagliks stoei. Weet dat jy daarin nie alleen is nie. Ons Here se genade is groot en dit is elke oggend nuut en vars – reg vir daardie dag, ook vir vandag (Klaagliedere 3: 21-23).