Nuusbrief 3 in 2016

Ek weet nie van jou nie, maar soms voel ek ek was heeldag besig en het niks van die dinge gedoen wat ek wou nie! Dit is oukei as dit gebeur wanneer ek lui-lekker op vakansie is, maar raak ‘n probleem as my werksukses of ander mense se vooruitgang van my uitsette afhang.

Soms is dit eenvoudig ‘n kwessie van tydsbestuur. Ek het deur die jare ontdek dat die volgende 5 stappe die basiese dinge is wat ons nie kan ignoreer nie:

  1. Maak ‘n doen-lysie. Baie mense dink hulle sal alles onthou wat hulle wil doen, en sê maklik “my lysie is in my kop”. Die probleme daarmee is (1) jy vergeet; (2) jy gebruik onnodige brein-energie om dinge te onthou (running memory); en (3) jy raak makliker angstig as dinge in jou kop rondsweef. Die voordeel van doenlysies is (a) jy kan dit sien en daarom maklik organiseer en kontroleer; (b) jy kan dit aan die einde van die dag aftik en so ‘n gevoel van vervuling of tevredenheid ervaar.
  2. Prioritiseer. Hoe pak jy groot klippe, klein klippe, en sand en water saam in ‘n beperkte houer? Begin by die groot klippe. Dus: eerste dinge eerste: So kan jy seker maak dat jy op die regte dinge kan fokus en die ander minder belangrike dinge tussendeur doen as daar tyd oor is.
  3. Maak seker dat veral die prioriteitsake iewers in jou dagboek die regte tydgleuf kry. So beplan jy jou dagboek. As jy deur die dag krisisse teëkom wat dadelik aandag nodig het, moet jy eenvoudig herskeduleer. Laat daarvoor ruimte in jou beplanning – moenie jou dag so vol as moontlik prop nie.
  4. Doen dit. Mooi planne help niks as dit nie deurgevoer word nie.
  5. Gaan aan die einde van jou dag en/of week terug na jou jou doenlysie, kontroleer wat gedoen is, en dra die dinge wat môre of volgende week gedoen moet word, oor.

Hierdie 5 stappe is die “basics”, maar dit is tog interessant hoeveel mense dit nie doen nie – of jy nou ‘n sakeman of –vrou, tuisbly-mamma, pensionaris, of student is. Die 5 stappe help jou om ‘n goeie rentmeester van die tyd te wees wat God jou gee. Prediker 3 sê dat elke ding het sy tyd.

Daar is egter dikwels iets meer wat nodig is om dinge gedoen te kry – dood eenvoudig om die 4 funksies van bestuur toe te pas. So benader jy die belangrike dinge in jou lewe soos projekte. In die bestuurswêreld praat ons van POLC (Planning, Organising, Leading, Controlling) of BOLK (Beplanning, Organisasie, Leierskap, Kontrole).

  1. Beplanning: Skryf jou planne uit – jou doelwitte met aksieplanne,  asook wat jy sal nodig hê, wie wat waar en wanneer sal doen, hoe jy/julle dit sal doen. “If you fail to plan, you plan to fail”.
  2. Organisasie: Moenie dadelik wegvlieg en begin doen nie. Organiseer eers die plan. Kommunikeer met almal wat betrokke is. Bel wie jy moet bel. Doen die nodige bestellings. Delegeer en bemagtig waar nodig. Maak afsprake as nodig.
  3. Leierskap: Hierdie stap beteken dat jy seker maak die plan word deurgevoer. Moedig aan en motiveer, wys en leer ander waar nodig. En doen jou deel voluit.
  4. Kontroleer: “Check, check, check” sal jy projekbestuurders dikwels hoor sê. Maak seker die regte dinge is reg en klaar gedoen. Meet die vordering en resultate sodat jy verder kan beplan.

Ek moet eerlik erken dat toe ek hierdie basiese goed begin toepas en vir mense begin leer het, was ek verstom wat die resultate is. Skielik gebeur dinge meer sistematies en makliker. Heelwat mense het die laaste drie jaar teenoor my erken dat POLC hulle lewens en hulle werkplekke radikaal positief beïnvloed het. Of jy nou op vakansie gaan, huis bou, of projekte of take wil afhandel, of ‘n span moet lei om dit te doen, POLC bly die basiese boustene van sukses.

Ja, daar is baie meer wat jy nóg kan doen. Jy kan byvoorbeeld op jou rekenaar jou Outlook kalender baie meer gebruik (en met jou selfoon sinchroniseer). En jy kan ook baie effektief van Excel spreadsheets gebruik maak. Maar miskien moet ons eers die basiese goed reg doen.

As hierdie dinge vir jou ou nuus is, kan jy dalk hierdie epos vir iemand aanstuur? Of miskien kan jy iemand anders leer om dit te begin doen? So gaan jy ander help om hulle lewens en suksesse te optimaliseer. As jy met hierdie dinge sukkel, kan jy miskien iemand vra om jou te help en jou verantwoordelik te hou om dit te doen.

Party mense hou natuurlik nie van sulke raad nie. Hulle hou daarvan om meer ongestruktureerd te lewe. My ervaring is dat juis sulke ouens baie by hierdie sisteme baatvind sodat hulle dit in een deel van hulle lewe kan toepas, om dan die res van hulle lewens bietjie meer ongestruktureerd te lewe.

Mag jy die tyd wat jou gegun word, voluit benut. En mag jy dit wat belangrik is, werklik goed gedoen kry. Die Bybel sê nie verniet dat ons die tyd moet uitkoop nie (Ef 5:16).

Share