Dit is erg hoe beurtkrag vir baie van ons huishoudings, maar veral vir besighede in die vervaardigingsbedryf, ‘n groot uitdaging en ontwrigting is. Vir baie besighede is dit deesdae ‘n groter bedreiging as misdaad. Dit noop ons om die werklikheid in die oë te kyk en dit ten beste te bestuur. Party kry dit reg, ander nie. Om dit te ontken of net te kla, gaan egter nie help nie.
Maar dis nie net Eskom wie se “kragvoorraad” soms laag en leeg loop nie. Ek het die laaste tyd heelwat mense begelei wat in verskillende stadiums van uitputting en uitbranding is. ‘n Reeks boodskappe van Bill Hybels het nogal my oë opnuut oopgemaak hiervoor (Simplify-dvd reeks).
Die tipiese simptome van uitputting en uitbranding is lae energievlakke; hoë vlakke van irritasie, kritiserend-wees, negatiwiteit en moeg-wees; ‘n geneigdheid om perspektief te verloor en klein probleme vir berge aan te sien; ‘n gevoel van oorweldiging en dat jy wil ontsnap of weghardloop van alles; en soms irrasionele gevoelens van angs en stres met drome en gevaarlik fassinerings. Gewoonlik ly ons verhoudinge en ons gesondheid daaronder as ons deur so ‘n fase gaan. En depressiwiteit is ook algemeen in die proses. Daarmee saam kopsere, verkoues en ander simptome van lae immuniteit.
As ons dammetjies vol is, ervaar ons ‘n algemene gevoel van gelukkig wees in jou eie vel; kreatiwiteit, gesondheid en energie; jy los probleme gemaklik op; verhoudinge is oor die algemeen gesond en dit is maklik om lief te hê en liefgehê te word; as Christen hoor jy makliker die Here se stem; en jy het reserwes oor om na ander uit te reik, en prettige dinge uit te dink en aan te pak.
Kom ek vra jou: hoe vol is jou energiedammetjie vandag: 20%; 50%; 80%?
Nog ‘n waarneming wat ek in die laaste tyd gemaak het, is dat meeste professionele mense wat aan uitputting of uitbranding ly, nie ‘n behoorlike ritme van werk en speel en rus het nie, en dat hulle min gereelde goeie en lekker dinge het om die dammetjie weer op te vul. En min het het stiltye met die Here waar jy rustig Bybel lees, oor dinge dink en bid, en jou sorge kan oorgee met ‘n besluit om op Hom te vertrou deur die dag. Ons verval so maklik in ‘n malle gejaag en ‘n dryf van “ek moet self” en dan verloor ons die konneksie met die Kragbron wat ons in staat stel om die lewe met krag en lewenslus voluit te lewe.
Dit is belangrik om vir jouself uit te maak: wat en hoe kan my energiedammetjie gereeld volgemaak word? Word dalk bietjie rustig en doen weer voorraad-opname.
Soms kry ek dit glad nie reg nie, ander kere wel. Soos ek nou hier sit en skryf, staan my bergfiets reg om later saam met iemand ‘n lekker stukkie fietsry in die berge en veld te geniet. My stiltye in die oggende (al sukkel ek soms daarmee) is ‘n ruimte van perspektief en fokus kry, oorgee, hulp vra, en groei. Ek het die voorreg om deel van drie soorte groepe te wees: maandelikse Christen besigheidsforum, en weeklikse selgroep asook ‘n mannegroep. Daar word ek “accountable” gehou, en word ek gevoed, en ontvang en gee ek. En as ek kwaliteit-tyd saam met my gesin of groeie vriende spandeer het, is my batterye weer gelaai. Dis maar my strategie. Wat is joune?
En dan gaan dit oor dinge soos fisiese instandhouding, waar ek en jy onssself moet afvra: Slaap ek genoeg? Eet ek reg? Drink ek genoeg water? Wat sluk ek of drink ek, wat my aftakel? Kry ek gereelde goeie oefening in? Hoe bestuur ek my stres?
En op emosionele vlak moet ons dink aan dinge soos alleentyd, asook tyd saam met my geliefdes en mense wat belangrik is in my lewe. Iewers moet jy ook jou vrese en ander negatiewe emosies erken en aanspreek. Kom ek en jy regtig genoeg daarby uit?
Baie mense het dalk nodig om net met iemand hierdie dinge deur te praat… En soms moet jy medikasie en vitamien-aanvullings kry om jou daardeur te help.
My wens vir ons elkeen, is dat ons nie op beurtkrag sal hardloop nie, dat die energiedamme vol gehou sal word en ons elkeen ‘n lewe in oorvloed sal ervaar. En ook dat ons nie vir hervulling sal wag tot naweke en vakansies sal aanbreek nie, maar dat dit ‘n deurlopende proses sal wees om jou energievlakke wyslik te bestuur. Naweke en vakansies is daar om die lewe te vier en ander dinge te doen, nie om die lewe te oorleef nie.
Onthou die lewe is nie ‘n naelloop nie, maar ‘n reis, ‘n journey. Lewe dit só dat jou lewenstempo en lewenstyl jou toelaat om volhoubaar waarlik te lewe!