Margaret Hefferman vertel van ‘n eksperiment wat William Muir gedoen het. Hy het ‘n groep middelematig produktiewe hoenders bymekaar gesit en vir ‘n tyd lank op hulle eie gelos. Hulle het oukei geproduseer (= eiers gelê). ‘n Ander groep het bestaan uit hoenders wat individu vir individu super-presteerders was. Aan die einde van die eksperiment was egter net drie van hierdie laaste groep oor na die sterkstes die ander doodgepik het. Die les: middelmatige spanlede wat saamwerk, kom baie verder as die “superhoenders” met hulle opgeblaasde ego’s en hulle strewe om mekaar te probeer uitpresteer.
Die hartseer is dat die super-hoender-model wat met ‘n pikorde dinkpatroon werk, nogsteeds die gangbare in ons samelewing is. Ons word geleer: jy moet beter as die ander wees sodat jy die beste prys, die beste salaris en die beste status kan kry – dis sogenaamd sukses. In die proses voel ons maklik bedreig, maak ons mekaar seer en vertrap mekaar – soms sonder dat ons besef. “Survival of the fittest” en die ander moet maar verlore gaan. Dit is dikwels ‘n selfsugtige, selfgesentreerde lewe (I, me and myself). Maar aan die einde laat dit jou lewe leeg en sinloos, want jy is al een wat werklik oor jou sukses goed voel. Jy help ander net solank hulle jou help en jou laat presteer en laat goed lyk of goed voel. Hoewel die model eeue gelede miskien gewerk het, is dit in ons hedendaagse tye uitgedien, teenproduktief, en vernietigend.
‘n Vriend van my vertel van sy dogter wat as ‘n klein dogtertjie ‘n naelloop gehardloop het. Sy was los voor, maar kort voor die einde het sy stadiger gegaan en die ander se hande gevat om saam oor die wenstreep te hardloop sodat almal wenners kan wees. Klink vir meeste van ons na malligheid! “Siestog die arme kind verstaan nog nie waaroor die lewe gaan nie”, of is sy ons dalk een voor…?
Die ironie is dat ons soveel verder kom as ons almal mekaar se sterkpunte erken en waardeer. Daar word verwys na sosiale sensitiwiteit en algemene behulpsaamheid waarin ons elkeen ons beste na die tafel toe bring en tegelykertyd oop is vir ander se bydraes. Ons vra en gee hulp. Ons help mekaar in liefde reg en is oop vir ander se kritiek en kommentaar. En dan kry elkeen gelyke spreek- en luisterreg – elkeen word gehoor, raakgesien, gerespekteer. Ons sukses is ons sukses.
In hierdie samewerkende-hoender model is die leier ‘n diensknegleier, of hy nou ‘n baas van ‘n maatskappy is of ouer van ‘n gesin. Hy help ander tot hulle reg kom, luister mooi en help die span om mekaar te hoor en saam te werk, en om saam rigting te vind en gefokus te bly. Sy sukses is sy spanlede se sukses en andersom.
Dit laat my dink aan die Bybelse beeld van die kerk as ‘n liggaam waarin al die liggaamsdele belangrik is en in ‘n eenheid saamwerk – diversiteit in eenheid. So wen almal en gesamentlik vervul ons ons roeping, terwyl elkeen die vervulling ervaar om met sy/haar gawes en talente voluit ‘n verskil te maak. In so ‘n model is daar nie plek vir ego’s nie. T-E-A-M staan mos vir Together Everyone Achieves More. En ons sê mos:”there is no I in TEAM”.
Terloops ego’s maak net die lewe ingewikkeld. Ego is iets wat instandgehou moet word, beskerm moet word, en jou dan isoleer, vergiftig en versmoor. Nederigheid maak jou vry daarvan. Dis om op ‘n volwasse manier oukei met jouself en ander te wees en ander te gun wat jy jouself gun. Ware nederigheid lei tot vryheid, konneksie en ware grootsheid!
Miskien moet ons elkeen gaan vra: hoe kan ek ander laat blink? Of nog beter: hoe kan ek met ander hande vat sodat ons almal saam kan wen? So kom ons nader aan ons doel hier op aarde en kan ons die Een verheerlik wat gesê het “dis nie goed dat die mens alleen is nie…”.
Hiermee groet ek vir eers!