Om ‘n leier (of ouer) te wees, is om in ‘n taamlike warm stoel te wees – dit sluit in: moeilike besluite, hoë stresvlakke, kritiek, en ook bestuur van onsekerhede, risiko’s en veranderinge. Om die warm stoel op ‘n gesonde manier en volhoubaar te hanteer, moet jy inherent gesond en gelukkig wees en funksioneer. In my veld praat ons van “authenticity” en “realness” (outentiekheid en egtheid).
Ongelukkig sien ek gereeld hoe ons ego’s in die pad kom.
Jou ego is nie jou “ware self” nie, maar ‘n “valse self” en dikwels ‘n aangeleerde of gefabriseerde self. Ons ware self is baie keer langs die pad nie genoegsaam erken nie, maar eerder gekontamineer, gewond, verwerp en verkleineer. Ons begin te dink “as ek net só of só kan wees, sal ek vir ander en myself oukei wees, en gelukkig wees”. Ons trek die ego aan met dinge soos mooi klere, “aanvaarbare” gedrag, blink karre, indrukwekkende kantore, kwalifikasies, titels, posisie, mag. Agter die ego wat ons so probeer voorhou, handhaaf en beskerm, is baie keer klomp onsekerhede, vrese, minderwaardigheid, rebelsheid, en leegheid of onvervuldheid. Die ego maak dat jy strewe na dinge wat nie ware geluk bring nie, en langs die pad jouself en ander seermaak. En op ‘n dag dan kyk jy dalk in die spieël en besef: ek hou nie van wat ek sien nie – dis nie wie ek waarlik is nie!
En as ek mense vra, hoekom hulle doen wat hulle doen, kom ek agter dat dit ‘n strewe is na self-aktualisering, geluk en sukses – maar met skeefgetrekte definisies daarvan.
Dis nie net Jesus wat gesê het dat ons hierdie selfgerigtheid (eie-ek) moet aflê om werklik te kan lewe nie. Ook sielkundiges praat daaroor:
“The more one forgets himself — by giving himself to a cause to serve or to another person to love — the more human he is and the more he actualizes himself. What is called self-actualization is not an attainable aim at all, for the simple reason that the more one would strive for it, the more he would miss it. In other words, self-actualization is possible only as a side-effect of self-transcendence.” (Victor Frankl).
Self-transendensie klink na ‘n te groot woord, maar dit beteken om uit die sirkel van my ek-gerigtheid te klim en na buite te lewe. Dit is om oukei oor myself te wees – met my potensiaal, tekortkominge en beperkinge. Want dan kan ek ophou om so baie oor myself te dink en te praat, en die lewe wat die Here ons gee, omhels en geniet en vir ander liefhê en omgee, en in die proses ‘n verskil maak. My energie en tyd word dan nie langer gespandeer om myself oukei te laat voel of te laat lyk nie.
Meeste mense hoop om suksesvol en gelukkig te wees. Maar hoor die raad van Victor Frankl:
“Don’t aim at success — the more you aim at it and make it a target, the more you are going to miss it. For success, like happiness, cannot be pursued; it must ensue, and it only does so as the unintended side-effect of one’s personal dedication to a cause greater than oneself or as the by-product of one’s surrender to a person other than oneself. Happiness must happen, and the same holds for success: you have to let it happen by not caring about it. I want you to listen to what your conscience commands you to do and go on to carry it out to the best of your knowledge. Then you will live to see that in the long run — in the long run, I say — success will follow you precisely because you had forgotten to think of it.”
Otto Scharmer vertel dat ons in hierdie transformasieproses “deur die oog van die naald” moet gaan. Dit beteken ons moet “let go” sodat ons kan “let come”. Toegepas op die ware self teenoor die ego, beteken dit dat ek my ego’s met al sy aangeplakhede en selfsugtige strewe na sukses en geluk moet herken en erken, en bely en laat gaan. Soms beteken dit dat in my genesing en vergifnis moet plaasvind. En dan… slegs dan kan jy die ware self omhels, ontspan, en oukei wees met wie jy is.
Die doel is dan nie meer sukses of geluk nie, maar bloot om te lewe soos jy gemaak is om te lewe (uniekheid) en dit waarvoor jy gemaak is (purpose). Maar op ‘n dag merk iemand dalk op: sjoe, jy lyk so gelukkig en suksesvol. En dis waar, maar dis bloot die gevolg van ‘n lewe wat op ander dinge gemik was.
Wanneer die ego plek maak vir die “ware ek” kan jy soveel beter lewe en gelukkig wees, jou roeping en purpose op aarde verstaan en vervul, en ander dien en liefhê en verskil maak. Want dan is jy vry en gemaklik in jou eie vel, én gemaklik met ander, maak nie saak waar hulle in die proses of journey is nie. En dit is my wens vir jou en my, en vir al die mense met wie ek coach, oplei of praat.