Hoe het jou jaar afgeskop?
Mag dit vir jou ‘n jaar wees vol groei en betekenis sodat jy in hierdie seisoen van lewe jou lewensdoel en –roeping sal vervul en in lyn met jou waardes en unieke ontwerp (unique divine design) sal bly. Dit is ‘n kuns om te midde van die oppe en affe van die lewe gelukkig in jou eie vel en liefdevol in jou verhoudinge te bly – voorspoed daarmee!
My nuwejaar het gou ‘n hartseer wending geneem, en tegelykertyd fenominale geleenthede gebied om ‘n verskil te maak. Een van ons vriende het iewers tussen die aand en oggend van 1 en 2 Januarie selfmoord gepleeg. Dit was ‘n verskriklike skok vir sy gesin (vrou en twee kinders) en ook sy naby familie. Maar saam met hulle was ons hele gemeente en sy breër familie en vriende erg geskok want John was ‘n toegewyde en volwasse Christen. Jy kan jouself indink hoe baie vrae daar was.
“Toevallig” moes ek die Sondag preek by ons gemeente, waar hulle gesin ook is. (Ek preek deesdae baie min want my fokus is mos uit en uit op my werk in die besigheidswêreld.) My teks was Rom 8:31-39. Wat ‘n voorreg om as Christene te weet dat ons saligheid en ewige bestemming nie afhang van ons goeie dade óf sondes nie, maar van God se genade en die feit dat Jesus reeds betaal het vir al ons sondes – dit wat ons gedoen het, nou doen en nog sal doen! Ons predikant, Gary, het so mooi gesê: “John’s suicide does not define who he was and where he is right now”.
My boodskap was in Engels en het die volgende 3 punte gehad (en was eintlik gemik om ‘n nuwejaarsboodskap te wees):
- No Opposition (can stand against us, because God is for is).
- No Accusation (can hold against us, because Jesus paid the price and is pleading our case for us).
- No Separation (from God’s love, because He will not let go of his loving grip on us, no matter what).
Die familie het ook gevra ek moet die een begrafnisdiens se boodskap bring. Hierdie keer het dit uit Klaagliedere 3:18-33 gekom waar die profeet verslae is oor die Godstad Jerusalem na die stad en die tempel verwoes is en duisende mense doodgemaak is en in ballingskap weggevoer is. En hier is die basiese punte van die boodskap:
- Die realiteit: Ons werklikheid is gebroke en stukkend
- Ons Hoop: Die Here se liefde bly te midde van alles steeds soos ‘n konstante stroom vir ons.
- Lewe een dag op ‘n slag: Sy genade is elke môre nuut – net reg vir daardie dag.
- Die bottomline: Die Here is ons lewe (ons “deel”, “our portion”).
Ek hoop jy kan die lyne deurtrek na jou eie lewe én die jaar wat voorlê, want dit kan jou help om voluit te leef met ‘n gesonde immuniteit om die realiteite van ons wêreld, te kan hanteer. Rom 8:37 sê dat ons te midde van alles “meer as oorwinnaars” is “deur Hom wat ons liefhet”.
So kan ons die jaar reg benader:
- Nie oor-idealisties nie;
- Ook nie pessimisties of sinies nie; maar
- Positief-gelowig in vertroue op ons God wat by ons is, vir ons sorg en ons help.
Mooiste wense en voorspoed vir als wat voorlê!