Dankie dat ons in 2014 op hierdie manier in kontak kon bly. Mag jy die jaar goed klaarmaak en gereedmaak om met nuwe perspektief en hoop 2015 aan te pak!
Wanneer mens met nog ‘n kalenderjaar klaar maak, is dit goed om so bietjie terug te sit en na te dink oor dit wat agter is, dit wat nou is, en dit wat voorlê. Anders gebeur dit maklik dat jy afgestomp raak van dit wat ons “lewe” noem, dat jy later net oorleef, net bestaan… en so sin en betekenis verloor, die mooi by jou ongewaardeerd en oppervlakkig-beleef laat verbygaan, die seer en hartseer nie verwerk en klaarmaak nie maar onbewustelik saamsleep, en heellaas die toekoms onvoorbereid en ontoegerus binnegaan. Só word mens wel ouer, maar nie noodwendig meer volwasse, meer ervare en inniger en geestelik ryker nie – dis amper soos om sjokolade te eet en nie die smaak en tekstuur te proe nie, of om wyn te drink sonder om die aroma daarvan te ruik en die smaak behoorlik te proe en te ervaar nie.
En sonder nadenke verdwaal jy ook maklik op die pad van die lewe. Ek ontmoet soms ouer mense wat my die indruk gee dat hulle nog nie geleef het nie, en soms jonger mense wat voor dertig al baie diep en innig met die lewe omgegaan het (sonder om swaarmoedig te word). ‘n Paar van die baie mense wat ek deesdae “coach” is oor die 60, baie van hulle is in die 20, en die res iewers tussen-in. Ek leer ook saam met hulle van die lewe, byvoorbeeld:
- Geluk en kwaliteit van lewe hang nie van jou ouderdom of omstandighede af nie, maar wat jy daarvan maak in die leeftydfase waarin jy nou Jongmense het moontlik meer energie en het hulle lewe voor hulle. Ouer mense is dikwels meer gevestig, hopelik wyser en dalk finansieel sterker. Maar hierdie dinge bepaal nie jou geluk nie. Baie hang af van die wyse waarmee jy na jou lewe kyk, dit omhels en ervaar, en daarmee omgaan.
- Elke leeftydfase bied wonderlike geleenthede – maar jy moet dit aangryp en voluit benut.
- Lag help baie. Daar is ‘n tyd vir ernstig oor dinge nadink, maar dit is baie belangrik om dikwels pret te hê, en gereeld te lag – ook vir jouself!
- Hoe gouer jy vrede maak met jouself en binne jou eie (ouer of jonger) vel gemaklik raak, hoe gelukkiger en vredevoller leef jy met jouself en ander saam.
- Geld maak die lewe makliker, maar daar is baie ryk mense wat met geweldig baie dinge stoei en ver van gelukkig is. Armoede kan mens op baie maniere beperk, maar daar is baie mense wat ver van ryk is, wat regtig gelukkig is en vrede in hulleself ervaar. Tog dink te veel “arm” en “ryk” mense te veel oor geld en te min oor dit wat regtig saak maak. Dan ontspoor jy.
- Godsdiens opsigself maak mens nie gelukkig nie. ‘n Lewendige verhouding met die Here bring egter groot vrede en sin en vervulling.
- Aan die einde van die dag gaan die lewe nie daaroor om gelukkig te wees en jou drome te realiseer nie, maar wel om jou lewensdoel te vervul, naamlik om tot eer van ons Here te lewe (en eendag tot sy eer te sterwe).
Mag jy iewers in hierdie tyd ‘n lekker blaaskansie kry. Kom ons hou die gesins- en familieverhoudinge op gesonde basis – want hierdie tyd van die jaar sien ons dikwels mekaar meer as gewoonlik. ‘n Groot deel van lewe gaan oor diep verhoudinge met die mense naaste aan jou, die mense met wie jy op reis is deur jou lewe.
Mag kersfees vir jou en die gesin ‘n ware Christusfees wees en mag jy en jou mense vol hoop en verwagting in vertroue op die Here 2015 binnegaan.