Die jaar met al sy geleenthede en uitdagings is weer op volle dreef. (Iemand sê gister vir my: “die jaar het op steroids begin”.) Ek vertrou jy kon die teuels van jou lewe weer goed vasvat. Onthou: “It is not your intention but your direction that determines your destination” (Andy Stanley). In my werk kom ek telkens agter dat daar twee soorte mense is: (1) Dié wat toelaat dat die lewe met hulle gebeur en as’t ware slagoffers word van eksterne omstandighede en gebeure; en (2) Diegene wat die lewe laat gebeur en telkens kies hoe hulle eksterne gebeure sal hanteer. Stepen Covey noem dit “proaktiwiteit” – om doelbewus verantwoordelikheid te neem om jou eie werklikheid en toekoms te skep, te midde van alle omstandighede.
Vir ‘n Christen beteken dit dat jy in vertroue op die Here en met sy krag en leiding die toekoms in besit neem, die toekoms wat Hy vir jou in die oog het. Dit is ‘n kombinasie van die twee V’s: Vertroue en Verantwoordelikheid.
Ek moes in die laaste tyd heelwat mense adviseer oor hoe hulle moeilike gesprekke of vergaderings moes hanteer. Dit is opvallend hoe eensydig en emosioneel ons raak in ons verstaan en interpretasie van moeilike situasies. En dan baklei ons om ons eie stukkie “waarheid” as die enigste waarheid te handhaaf.
Gelukkig het ek onlangs ‘n lesing van Joseph Grenny daaroor bygewoon. Ek het ook die boek “Crucial Conversations” wat hy en medeskrywers geskryf het, in die vakansie gelees. Hy sê as gevolg van ons emosionele brein “we either attack or avoid”, “go violent or silent” (of te wel: veg of vlug). Ons dink: ek moet kies tussen vriendskap en die waarheid, tussen die verhoudinge en of ek die olifant in die kamer (die werklike/pynlike issue) sal aanspreek. Dit noem die skrywers “the sucker’s choice” want daar is ‘n derde, baie beter opsie.
Die beter opsie is DIALOOG. Dit beteken dat ek en jy op mekaar se “planete” of leefwêrelde moet kom kuier en mekaar se “waarheid” én behoeftes deur mekaar se oë bekyk en dan saam ‘n ooreenkoms bereik oor hoe ons die situasie vanuit ‘n “gemeenskaplike waarheid” sal hanteer.
Byvoorbeeld die werkgewer (A) se werknemer (B) onderpresteer en kom nie reg in sy nuwe posisie nie. In plaas van kritiek, beledigings, dreigemente en aggressie aan die een kant, of stilbly, manipuleer, onttrek en alleen ly aan die ander kant, kan A vir B nooi vir ‘n gesprek en byvoorbeeld só begin: “B ek sien dat jy regtig hard probeer om jou teikens te bereik maar dat jy nie daarby uitkom nie. Ek sal graag wil help. Kom ons praat daaroor sodat ons kan ooreenkom hoe om dit te hanteer. Wil jy nie vir my vertel hoe jy die situasie sien en ervaar nie?”. Só vermy ons om die ander persoon te laat voel dat hy in die “dog box” is, vat hande in die situasie, en dink ons saam aan oplossings en só werk ons hopelik ‘n wen-wen scenario uit.
Hulle stel ook voor dat ons die S-T-A-T-E proses gebruik:
- Share your facts (bly by die feite soos jy dit objektief waarneem)
- Tell your story (my interpretasie)
- Ask for other’s paths (Hoor die ander persoon se prentjie en interpretasie)
- Talk Tentatively (Wees oop vir nuwe feite en interpretasies daarvan)
- Encourage testing (Is ons seker dis al manier om daarna te kyk?)
Ek dink ‘n groot deel hiervan val saam met die sogenaamde regsreël van “audi alteram partem” – hoor die ander party. Veral in ons land met sy baie verskille, maar ook in elke verhouding waarin ons is, is dit só belangrik dat ons ego’s nie in die pad kom staan nie. Selfs wanneer die ander persoon onredelik en onbillik is, help die STATE-model dat ons by die feite bly, die ander persoon laat veilig voel en wys dat ons regtig luister, van ons kant begrip kry, en sover moontlik wegbly van emosionele gesprekvoering, en nie die paaie van “violence” of “silence” kies nie.
Jak 1:19 sê nie verniet nie dat ons moet “gou wees om te hoor, stadig om te praat en stadig om toornig (emosioneel) te word” (Ou Afrikaanse Vertaling).
Mag jy hierdie jaar in jou manier van praat en dialoogvoering dit só doen dat ander regtig ervaar dat jy hulle hoor, en dat jy dit maklik maak om na jou te luister. En mag jy verstom wees oor die resultate daarvan!