Ek hoop dat jy al die mooi wat die lewe jou tans bied, raaksien, beleef en benut. Die afgelope maand het ek prakties twee dinge ontdek wat jou lewe erg kan strem en inperk: jou (verdraaide) selfkonsep en gemaksones. Hierdie maand se briefie gaan oor lewenslesse na Wines2Whales…
‘n Mens se selfkonsep is die idee of prentjie wat jy van jouself het, onder andere oor jou waarde as mens, jou vermoëns en beperkinge, hoe jy dink ander jou sien en wat jy dink vir jou moontlik is en wat nie. Dit bepaal in ‘n groot mate jou sukses en geluk in die lewe. Dit bepaal ook waarvoor jy sal “ja” sê en wat nie. Die Bybel het ten minste drie perspektiewe op ons selfkonsep:
- Nederigheid en beskeidenheid: om nie meer van jouself te dink as wat jy moet nie (Rom 12:3; Gal 6:3). Ons is nietige, feilbare, tydelike van-God-afhanklike wesens vol foute en beperkinge.
- Nugterheid: ek is as Christen God se kind, gemaak met unieke gawes en talente (Rom 12:3) en bereik dinge daarmee waarop ek trots mag wees “sonder om dit met dié van ander te vergelyk” (Gal 6:4).
- Optimisme: ek is skaars minder as ‘n hemelwese met eer en aansien gekroon (vgl Ps 8:6), geskep na God se beeld en as sy verteenwwordiger om koninklik te heers (Gen 1:27), meer as oorwinnaar (Rom 8:37) en in staat daartoe om fenominale dinge te hanteer en te bowe te kom want God is in my en met my (Ps 18:3- en 34).
Die ander ding wat jou lewe direk raak, is die gemaksones waarmee jy jouself omring het. ‘n Gemaksone is volgens die Merriam-Webster ensiklopedie “the level at which one functions with ease and familiarity”. Die gevaar hiervan is dat jy bly by wat bekend is, en so vasval in middelmatigheid, ophou groei en “nee” sê vir nuwe geleenthede, uitdagings of roepinge – want jy is te gemaklik waar jy is en wil dit nie prysgee nie. Dalk eien jy jouself die reg toe om daarin te bly weens jou ouderdom, gesinsituasie, gebreke of probleme.
Dis dan juis oor my eie selfkonsep maar ook my eie gemaksones wat ek woes uitgedaag is. My swaer Gideon het my gevra om sy spanmaat te wees op die 220km Wines2Whales bergfiets uithouwedren. Dit is ‘n wedren oor 3 dae in die berge, wat ruwe, moeilike enkelspoorpaadjies insluit. Die verste wat ek tot op daardie stadium in die berge gery het, was 60km. In September het ek griep gehad en kon nie die beplande 100km Karro2Coast doen nie – en ek moes toe drie weke uitsit. In die drie weke daarna moes ek fiks genoeg word vir die taaiste fisiese uitdaging van my lewe. Ek het saans letterlik op my tande gekners en het woes begin stres – Tot ek op ‘n stadium besluit het: ek gaan dit doen en met God se hulp kan ek dit doen, basta met al hierdie negatiewe gedagtes…
Na dag 1 van die wedren kry ek via whatsapp van my seun Ruan ‘n aanhaling van Franklin Rooseveldt:
“It is not the critic who counts; nor the man who points out how the strong man stumbles, or where the doer of deeds could have done them better.
The credit belongs to the man who is actually in the arena, whose face is marred by dust and sweat and blood, who strives valiantly; who at the best knows in the end the triumph of high achievement and who at the worst, if he fails, at least he fails while daring greatly. So that his place shall never be with those cold and timid souls who know neither victory nor defeat. For those who have had to fight for it, life truly has a flavour the protected shall never know.”
Dit was absoluut van toepassing. Die oggend van dag 3 lees ek Ps 121 “ek kyk op na die berge waarvandaan sal my hulp kom. My hulp kom van die Here…”. En so het ek die Wines2Whales klaargemaak … en geniet!
Vinnig ‘n paar van die menigte lewenslesse wat ek geleer het (vir die wat wil, kan ek ‘n powerpoint hieroor stuur):
- Waag so bietjie buite jou gemaksone en buite dit wat jy tot nou toe gedink het moontlik of gemaklik is. Wie nie waag nie, sal nie wen nie!
- Berei goed voor maar moenie oorboord gaan daarmee nie. Party ouens ry met 2 binnebande, spaar remskywe, gereedskap, noodhulptoerusting ens ens saam. Doen fisies en prakties wat nugter en realisties is, ook in terme van oefening. Iewers moet jy oë toemaak en hoop vir die beste.
- Spanwerk maak die droom werk. Ek sou beslis nie op my eie 220km se bergfietsry aangepak en voltooi het nie. Alle dank aan die kameraadskap en inspirasie van my swaer Gideon, asook my ander fietsrypêlle (veral voor die tyd) en die organiseerders van W2W.
- Tegnologie is nie alles nie – jy moet immers self die trapwerk doen. My fiets en toerusting was van die swakstes en goedkoopstes, maar ek het selde die verskil gevoel of gesien.
- Tempo: Ry jou eie tempo. Pace jouself volgens jou sterkpunte en energie.
- As jy val, staan so gou moontlik op en klim op jou fiets. Jou selfvertroue kom stelselmatig weer terug sodra jy weer ry.
- Bly en praat positief. Los die klaery vir ander. Dit dreineer net jou energie.
- Pyn is deel van die journey – deal daarmee en hou aan trap!
- Doen die praktiese dinge reg soos reg eet, genoeg slaap, jou liggaam mooi oppas, jou fiets versorg.
- Fokus waar jy wil ry, nie op die afgrond of die rivier doer onder die brug nie. Hoe meer jy die gevare probeer vermy, hoe nader is hulle aan jou. Mens ry gewoonlik waar jy fokus…
- Geniet die journey – geniet die omgewing, die mense, die proses. Dit gaan oor die reis, nie die bestemming nie. En daar is so baie in die lewe om te geniet.
- “Celebrate” – vier jou suksesse op die pad en aan die einde.
Hiermee groet ek vir eers. Alles van die mooiste vir die laaste skof van die jaar!