Oral waar ek kom, is mense al weer aan die beplan en reël vir die volgende jaar. ‘n Deel van my wil daarteen rebelleer want dit voel daar is nog so baie in hierdie jaar oor om te leef en te beleef. Maar dis deel van die kuns van die lewe: (1) om die goeie van die verlede saam met jou te vat, (2) voluit die hede te beleef en in die nou die meeste van die geleenthede en uitdagings te maak, en dan ook (3) met verwagting na die toekoms te kyk en prakties te beplan. Ons is tydgebonde mense en die belangrikste bly steeds: om in die tyd, vandag, nou, voluit te lewe.
Die laaste paar dae is ek erg met dood gekonfronteer: ek is gevra om trauma-ontlonting by ‘n professionele span te doen na hulle een spanlid skielik aan ‘n hartaanval oorlede is; ons buurman se topfikse en gesonde skoonseun is dood aan ‘n hartaanval terwyl hy fietsry; ‘n kliënt sterf in die fleur van sy lewe – op sy fiets omgery in ‘n tref-en-trap ongeluk. (Lyk my harte en fietse is ‘n tema hier?) Ons is tydelik hier op planeet aarde en ons moet ons lewens en mekaar geniet terwyl ons hier is. En ek besef opnuut: ons moenie te gou by ons naastes se dood verby-beweeg nie en net wil “aangaan” nie, al gaan die lewe voort. Dood help ons om bietjie te stop, die lewe te herwaardeer, te onthou waarvoor en vir Wie ons hier is, mekaar met dankbaarheid en waardering te bejeen, en vas te gryp aan ons Vader wat ons lewens in sy Hande vashou. ‘n Geliefde se dood help ons as Christene om te onthou dat die eintlike lewe nog voorlê. Ons lewe op aarde is nie al lewe wat ons het nie – daar is ‘n lewe hierna op die nuwe aarde onder die nuwe hemel. Maar ook belangrik: dood en verlies bly seer, en moet daarom gehanteer en verwerk word. Anders mis jy ‘n groei-geleentheid en broei daar dalk klomp lelike emosionele goggas in jou binneste uit.
‘n Ander saak wat my al meer opval, is hoeveel mense te gou opgee. Daar is beslis ‘n tyd om dinge te beëindig: ‘n projek wat beslis nie gaan uitwerk nie; ‘n besigheid wat na alles probeer is, dit nie maak nie; ‘n huwelik wat ten spyte van baie bid, berading en hard probeer, vir almal disfunksioneel en vernietigend geraak het. ‘n Mens moet weet wanneer om die streep te trek. Party mense bly maar voort strompel deur die lewe omdat hulle te bang is of emosioneel te verlam geraak het om ‘n verandering te maak.
Maar ek praat van iets anders. Mense gee te gou op, voor hulle regtig probeer het. Sommige dinge neem tyd. ‘n Loopbaan word nie in een dag opgebou nie en veral sommige loopbane neem tyd omdat jy in kundigheid, ervaringe en netwerke moet groei. ‘n Span met mense wat baie van mekaar verskil, werk moeilik saam aan die begin, maar het dikwels groot potensiaal om baie suksesvol te wees. Vennootskappe kan soms baie uitdagend wees, maar baie keer is dit as gevolg van verwagtinge en rolle wat nie uitgeklaar is nie of wanpersepsies wat reggestel kan word. Huwelike gaan soms deur swaar tye, veral as een van die twee fisiese, emosionele of werkprobleme ondervind, maar baie dikwels gaan die seisoen van swaarkry verby en lê daar weer mooi dae voor. Soms lyk dit vir my of baie mense pyn en swaarkry ten alle koste wil vermy en dan voortydig uitklim, maar dan so geleenthede en seën weggooi.
In huweliksberading het ek al by verskeie mense gehoor wat al ‘n paar keer getroud was en geskei is, dat hulle spyt is dat hulle nie die eerste huwelik gemaak werk het nie. Soms mors ons dinge op en in plaas daarvan om dit reg te maak en deur dinge te werk, klim ons eerder uit die verhouding uit. Ek het ook al baie gesien hoe mense vasbyt in hulle huwelik of besigheid of loopbaan, soms drie, vier of meer jare, en hoe die lig deurbreek en hulle vir hulle geduld vir baie jare beloon is. Meeste mense wat uitsonderlike sukses in die lewe bereik het, getuig daarvan dat dit baie vasbyt en selfdissipline gekos het.
Verhoudinge, organisasies, kerke, werkplekke, vriendekringe, selgroepe, spanne en jou gesondhied (fisies en emosioneel) gaan deur fases. Party fases is pynlik en vra baie energie, geduld, emosionele intelligensie en wysheid. Ons moet oppas vir kits-oplossings en wonderkure. Groei is ‘n proses. Intervensies en hulp van buite kan die groei baie aanhelp of dinge regstel, maar die groei is steeds ‘n proses.
‘n Laaste gedagte: dit is Oktobermaand. Baie mense raak moeg en gefrustreerd. En dan word soms radikale besluite geneem om dit te verander. Dit is gevaarlik want gewoonlik neem ons nie goeie besluite as ons moeg en emosioneel is nie.
‘n Vriend van my wat ‘n tyd gelede onder erge druk by sy werk en ook nog hard aan die swot is, wou sommer radikale besluite neem. Hy sê die dinge kom al ‘n lang pad en hy wil net nie so aangaan nie. Hy wil sommer van loopbaan verander, al beteken dit ‘n kleiner salaris. En dan wil hy sommer ander dinge ook radikaal verander. My raad aan hom was: jy het twee stelle probleme: (1) jou onmiddelike stres met jou werk en swotings aan die een kant; en (2) jou emosies en moegheid aan die ander kant. Dis nou die tyd om eers die eerste stel probleme aan te spreek. Dan kan jy later, as jy rustiger is, weer kyk na die pad vorentoe. Meeste mense wat die raad volg, neem dan later totaal ander besluite wat baie beter langtermyngevolge het.
Vir eers groet ek. Mag jy te midde van die uitdagings die mooi om jou en in jou raaksien en voluit geniet.