Op pad in my kar tussen die mooi berge naby Franschhoek, het ek eendag diep gedink. Ek het myself deur die proses gevat om op ‘n diep vlak meer vrede te maak met die feit dat my lewe op aarde eendag sal eindig. Ek het besef: alles eindig – vakansies, weke, jare, reise, kursusse, rugbywedstryde, lewens… my lewe. Iewers blaas die eindfluitjie en is die reis of spel verby. Daar is ‘n “sell by date”. So ook die lewe op aarde. Om klaar te maak en totsiens te sê is soms moeilik, en tog normaal. Om krampagtig vas te hou aan dit wat ek hier het, al is dit kosbaar, is nie die oplossing nie en maak klomp onnodige angs. As ek vrede maak met my fisiese dood iewers vorentoe in die (nabye of verre) toekoms, kan ek myself soveel makliker oopstel om voluit in die hier en nou te lewe, om lief te hê en te gee, en my Skepper, ons Here te verheerlik.
En tog is ons eindluitjie op aarde ook ‘n beginfluitjie vir iets groters, beters…
So paar weke terug moes ek in Gordonsbaai by ‘n informele byeenkoms van sowat 80+ mense praat oor “opstanding – so what?” Ek het dit bietjie nagevors en is self in die proses opnuut verryk en versterk. Die bewyse dat Jesus wel opgestaan het, is so oorweldigend dat in die geskiedenis talle twyfelaars wat dit as onwaar probeer bewys het, tot geloof gekom het. Jesus se opstanding is nogal relevant, dink ek, want meeste ander godsdienste se oorspronklike leiers is dood – bv Muhamed en Budha. Maar ons Leier het nie ‘n graf nie – Hy lewe! Dit beteken dat ons nou alreeds voluit kan lewe, bevry is om met sonde en slegte gewoontes te kan breek, en vreesloos maar ook betekenisvol voluit in die hier en nou kan lewe, en kan weet: die beste kom nog – die ewige lewe op die nuwe aarde. Sonder dit is die evangelie net ‘n filosofie. Gelukkig is dit realiteit!
Ek het in die laaste tyd besef hoe vinnig ons lewens kan verander: ‘n Aardbewing in ons land skud behoorlik mense se fondasies op meer as net ‘n fisiese manier; ‘n jong dame raak aan die slaap en veroorsaak ‘n ongeluk waarin twee mense sterf en sy oorleef (en word aangekla van strafbare manslag); ‘n man hoor die skoknuus dat sy vrou uittrek en wil skei; ‘n familielid word onverwags met kanker gediagnoseer; mense verloor hulle swaarverdiende pensioengeld; ‘n vriend verloor sy werk; kontrakte word skielik gekanseleer. Dit alles het op hierdie mense geweldige impak. Ook die koerante (en selfs die Bybel) is vol van sulke voorbeelde. Meestal gebeur sulke radikale dinge darem nie aanmekaar met ons nie, maar ons almal ervaar op daaglikse basis terugslae, irritasies, frustrasies, bekommernisse want ons lewe mos op planeet aarde met sy gebrokenheid en onvolmaaktheid.
Dit lyk my dat mense wat sulke dinge die beste hanteer, ‘n paar dinge in gemeen het (en jy kan gerus nog ‘n paar byvoeg):
- Realisme: Hulle is nugter en realisties daaroor dat dinge verkeerd kan loop. Hulle maak nie ‘n te groot bohaai daaroor dat dit juis met hulle gebeur nie. Hulle het ‘n innerlike vrede te midde van die storm wat my dikwels verbaas.
- Optimisme: Hulle is realisties-optimisties (meeste van die tyd). Hulle gaan ook nie in slagoffer (arme-ek) denke nie. En hulle kan steeds lag vir grappies en mooi dinge waardeer.
- Deursigtig: Hulle praat en huil openlik daaroor en laat toe dat mense hulle ondersteun.
- Aksie: Hulle doen prakties wat hulle kan om dit so goed moontlik te hanteer.
- Gelowig: Te midde van die swaar hou hulle in vertroue vas aan die Here.
My gedagte vir hierdie nuusbrief is dus: hoe immuun is ek en jy vir die onvolmaaktheid en tydelikheid van hierdie lewe? Dalk is nou ‘n goeie tyd om jou “immuunsisteem” so bietjie te boost en te bou.
Die lewe op aarde is ‘n geskenk, al die mooi is genade. Die swaar laat ons opkyk en die mooi dinge opnuut waardeer. Mag ons veral opkyk en vorentoe kyk, en voluit uit ons Here se genade lewe. Ons het ‘n anker: Niks kan ons van sy liefde skei nie (Rom 8:37-39) – nie in hierdie lewe nie, ook nie hierna nie.
Op hierdie diep noot groet ek vir eers. Baie seën vir jou lewe op planeet aarde – gaan voluit, met wysheid en insig!