Ek was onlangs aangenaam verras deur ‘n kliënt. Ek het ‘n werkwinkel vir die senior bestuur gefasiliteer en die onderwerp was etiek en waardes. Hulle moes antwoorde op moeilike etiese situasies gee. Elke keer was dit vanuit ‘n soliede basis van wat reg is, al was dit moeilik en soms baie kompleks.
Hierdie kliënt se organisasie en bedryf gaan tans deur groot veranderinge wat soms vreesaanjaend kan wees. Tog hanteer hulle dit volwasse en met wysheid. Om jou pad deur veranderinge te vind, is nie maklik nie, maar twee dinge staan uit. Eerstens is dit belangrik dat jy te midde van verandering seker is van jou waardes en beginsels. Dit gee vir jou sekuriteit waaraan jy kan vashou, maar ook ‘n kompas wat jou help om jou pad deur veranderinge te navigeer. Soos iemand gesê het: “as jy nie weet waarvoor jy staan nie, sal jy vir elke tweede ding val”. In die tweede plek, is veranderinge soos die golwe van die see – jy kan óf daarteen baklei óf die golf ry deur te probeer om dit te “lees” en die energie daarvan positief te benut. Elke verandering bring nuwe geleenthede. Vir ‘n Christen is daar nog ‘n derde dimensie: ons het die Here as ons onwankelbare Rots, wat ook as ons Herder in dit alles by ons is en ons lei.
Iemand na aan my het my onlangs sleg gekritiseer oor ‘n saak waarin ek die beste intensies gehad het en geglo het ek die beste en regte ding doen. Die onregverdige kritiek het my seergemaak, verwerp en ontmagtig laat voel – soos ‘n slagoffer. Maar toe ek besef wat gebeur, kon ek myself herposisioneer en die kritiek vanuit die ander persoon se oë sien, hom vergewe en aan ‘n praktiese oplossing vir die situasie dink. Dit was interessant hoe ek skielik bemagtig en in beheer begin voel het en anders begin optree. Toegegee, ek kry dit nie altyd ewe goed reg nie.
Dit is hartseer dat ons as mense só sukkel om met mekaar oor die weg te kom. Ek sien dit in so baie vorme in die werkplek, maar ook in gesinne en kerke. Ons vryf mekaar verkeerd op en kry reaksies waarop ons glad ie voorbereid was nie. Dikwels is die oplossings eenvoudig, soos om eers mooi te luister voor jy afleidings maak, jouself in die ander een se skoene te sit, te vergewe, nie te gou te oordeel nie, ruimte te maak vir mekaar se verskille in opinie en persoonlikheid, om nie alles so erg persoonlik te neem nie, nederigheid en liefde, en so aan.
‘n Interessante model wat ek in die laaste tyd al hoe meer in coaching en spansessies gebruik, is dié van Transaksionele Analise. Daarvolgens het ons drie ego-toestande: PARENT, ADULT, en CHILD.
- As jy vanuit jou PARENT funksioneer, wil jy sterk verantwoordelikheid neem deur óf rigting te gee (“controling PARENT”) óf te versorg (“nurturing PARENT”). As jy ander mense te veel PARENT, veroorsaak dit dat hulle nie vir hulleself verantwoordelikheid neem nie, of dat hulle gekritiseer of beheer voel en voel dat jy hulle menswees ondermyn. Dan kan hulle in hulle CHILD ingaan deur byvoorbeeld te rebelleer of te onttrek, of toe te gee en passief en afhanklik te word.
- Die CHILD “mode” is emosioneel. Dit is óf ingestel op speel en vryheid (“free child”), óf probeer sosiaal inpas (“adapted child”). As jy te veel vryheid soek, kan jy bv. roekeloos word of rebelleer. As jy te veel wil inpas, kan jy oor-onderdanig raak, magteloos voel, slagoffer-mentaliteit hê ens.
- Die ADULT probeer nugter, realisties, prakties, oplossing-gerig, medemenslik, positief in die hier en nou funksioneer. Vanuit jou ADULT kan jy die goeie van die PARENT en CHILD benut sonder om aan die een kant oor-verantwoordelik, veroordelend of versmorend te wees, én sonder om oor-emosioneel te raak.
Toegepas op die situasie in die eerste paragraaf hierbo: toe ek vanuit my CHILD op kritiek gereageer het, was ek seergemaak en ontmagtig, maar vanuit my ADULT kon ek dinge totaal anders sien en ervaar. Ook wanneer jy probleme moet hanteer of besluite moet neem, help dit nogal om jouself te vra in watter “ego toestand” jy is en jouself te herposisioneer na die ADULT toe.
Die mooi hiervan sien ek veral wanneer mense in werkspanne, huwelike of vennootskappe leer om hulle verhoudinge met mekaar vanuit hulle ADULT te benader. As jy in jou ADULT bly, is die gevolg dat ander mense dan gewoonlik ook vanuit hulle ADULT terug reageer. So word verhoudinge en interaksies baie makliker. En al sou die ander persoon jou steeds PARENT of CHILD, kan jy terug reageer vanuit jou ADULT. Hulle sal dan gewoonlik terugkeer na ADULT, maar selfs al gebeur dit nie, bly jou gedrag dan gesond en opbouend. Dit is terloops ook alleen in jou ADULT dat jy ten volle onder leiding van die Gees kan leef en die vrug van die Gees kan dra.
Gaan gerus na http://www.carolsolomonphd.com/web_pdfs/Transact.pdf en lees die kort artikel daaroor.
Op hierdie noot groet ek vir eers. Baie seën op jou hantering van veranderinge en verhoudinge!