Nuusbrief 11 in 2013

DIe einde van 2013 is op ons. Die vraag is: hoe gaan ons dit klaar maak, hoe gaan ons die nuwe jaar binne stap?

Verlede naweek het ek Die Burger se winderige 97km fietswedren gery. Ek moet erken: die laaste deel daarvan het ek gery om klaar te kry sodat ek kan rus. Maar dis nie hoe ek daarvan hou om te ry nie – ook nie hoe ek my lewe wil lei en hierdie jaar of my lewe wil klaarmaak nie.

Jare terug het iemand vir my die raad gegee: ‘n mens moenie die werkjaar só klaar maak dat jy só moeg is dat die vakansie net opgaan in hersteltyd nie, net om daarna van vooraf weer te begin hardloop. Met ander woorde: jy moet sover moontlik jou lewenstempo leefbaar hou en verseker dat jy gereeld kans kry vir rekreasie en rus, lekker dinge doen wat jou energeer, kuier en vriendskappe opbou en versterk. ‘n Mens kan tog nie net lewe vir naweke en vakansies nie… Of so in jou werk opgaan, dat daar min of niks van jouself oorbly nie. Ek dink die hart van die sabatsgebod (4de gebod) gaan hieroor – die voortdurende ritme tussen rus en werk.

Hoe jy ookal hierdie jaar klaar maak (moeg óf sterk), mag hierdie Desember vir jou genoeg geleentheid bied om te rus, maar ook om die lewe te vier!

Die afgelope twee maande het ek met ‘n groepie van 9 mense weeklikse sessies gehad oor “Menswees en lewe in oorvloed”. Dit is hartseer dat ons lewensvreugde deur soveel dinge bederf word. Dinge soos ons bagasie van die verlede, ons gebrek aan vaardighede om ons lewens te bestuur en ons verhoudinge gesond te hou, en die disfunksionele maniere hoe ons dink. Hier is van die belangrikste lesse wat ons ontdek het:

  • ‘n Lewe in oorvloed begin met ‘n lewe uit God se genade: om op te hou geluk soek in bronne wat dit nie volhoubaar kan bied nie – bv. ander mense, roem, besittings, pret. Die Here, sy onvoorwaardelike liefde en aanvaarding, en ‘n lewende verhouding met Hom is die enigste volhoubare stroom van lewe en geluk. Ontdek jou oukei-wees en geluk in Hom en leef daaruit.
  • Moenie ‘n slagoffer-mentaliteit kweek nie, maar leef as oorwinnaar wat weet dat jy kan kies hoe jy op enige situasie of gebeurtenis wil reageer (champion vs victim). En maak nie saak wat met jou as Christen gebeur nie, jy bly ‘n geliefde kind van die allerhoogste God!
  • Ons kweek óf gedagtes wat ons vergiftig, óf gedagtes wat ons genees en vry maak. Verruil gif-gedagtes (leuens, selfbejammering, negatiwiteit, bitterheid) vir genesende gedagtes vol van God se waarheid wat vry maak en lewe gee. Ek sien dit so gereeld in trauma berading, maar ook in alledaagse “coping” met my lewe.
  • Kyk die goed wat met jou gebeur het, in die oë. Hanteer dit saam met die Here, maak vrede, aanvaar sy genesing, en beweeg dan doelbewus aan.

Dis opvallend hoe wankommunikasie, wanpersepsies en ons gedrag wat daaruit voortspruit, in die werkplek mense en verhoudinge kan seer maak. Een van die mooiste dinge wat ek die afgelope tyd beleef het, was hoe mense mekaar kon vind deur gesprekke wat hulle help om mekaar te hoor en nuwe realiteite/gedrag te skep. Ons hak volgens Otto Scharmer baie keer vas by Nice Talk (praat óm die kwessies) en Tough Talk (praat konfronterend oor die kwessies). Maar die kuns is om by Reflective Dialogue (luister) en Generative Conversations (skep ‘n nuwe realiteit) uit te kom. Ek dink dis wat Paulus bedoel in Ef 4:25-32, veral as hy sê dat ons gesprekke moet opbouend wees.

Baie van die goed moes ek op die harde manier leer en leer nogsteeds. Soms sukkel ek daarmee in my eie lewe, maar waar ek dit doelbewus toepas, is die resultate soms verstommend.

Laastens, Appreciative Inquiry (AI) is ‘n tegniek wat jou deur 4 stappe vat om vanuit die mooi in die hede ‘n nuwe toekoms te skep. In Engels is dit 4 woorde wat met “D” begin: (1) Discover: ontdek en waardeer dit wat positief is; (2) Dream: droom vanuit die positiewe goed oor dit wat nog kan wees; (3) Design: ontwerp en beplan prakties aan die droom; en (4) Destiny: Doen wat jy moet om daar uit te kom. Ek is verstom wanneer ek dit in coaching of berading gebruik, wat dit in mense se koppe ontsluit. Dalk is dit tyd om ons seëninge te waardeer en die positiewe raak te sien. Dit help ons om vanuit ons positiewe dinge ‘n baie beter toekoms te visualiseer. Mag jy deur dit als iets van die Here se toekoms vir jou visualiseer…

Dankie vir ‘n mooi jaar met gesprekke deur hierdie forum. Mooiste wense vir die komende Christusfees. Kom ons gaan met positiewe verwagting en geloof 2014 binne!

Share