Een ding kan jy van 2014 beslis weet: Oral waar jy gaan kom, sal God ook wees. Daarom bid ek vir jou: Mag jy ervaar dat die Here by jou is! En mag jy als saam met Hom aanpak. Geniet die avontuur, bly kreatief-ontdekkend en waag so bietjie!
Vanoggend lees ek oor Josef in die Bybel. Sy groot sukses-faktor was die volgende: “Die Here was met hom” (Gen 39:2, 21, 23). Als het nie so goed begin nie. Hy was nie baie bemind by sy broers nie want sy pa het hom bederf, hy het sy groot drome aan almal oorvertel, en stories na sy pa toe aangedra. Dit het daartoe gelei dat hy deur sy broers verag is en as slaaf verkoop is. Maar as slaaf, en later in die tronk, het die Here hom geseën met als wat hy doen: die Here was met hom, daarom het mense hom vertrou, en het hy sukses gehad. En so word hy die onder-koning van die magtige Egipte.
Regdeur sy lewe hoor ons sekere dinge uitstaan:
- Die Here se genade – wat van ‘n bedorwe witbroodjie, ‘n betroubare en nederige leier maak.
- Met sy seuns se name Manasse (die Here het my my swaarkry laat vergeet) en Efraim (God het my vrugbaar gemaak) gee hy al die eer vir sy sukses aan die Here.
- Hy tree volgens sy morele kompas (of “gps”) met integriteit op – hy was bereid om sy werk te verloor en in die tronk gegooi te word, eerder as om toe te gee aan sy baas se vrou se seksuele uitnodigings. Dit alles word deel van sy uiteindelike sukses.
- Sy pyn en lyding word deur God ingespan om sy pad na sukses te laat gebeur. Geeneen sou dit kon voorspel nie.
- Eerder as om verbitter te raak oor al die onreg, was hy bereid om te vergewe en juis hulle wat hom verontreg het, te help.
Sondag (12/1) het ek ‘n preek gehoor met die titel “Quo vadis” – Waarheen is jy op pad? ‘n Goeie vraag aan die begin van die jaar. Die preek was oor die wyse manne se harts-reis en hoe God hulle deur sterre, mense en drome na die Jesus-kind gelei het.
Dit het my verder laat dink oor Spr 4:26 sê “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.” Doen dit deur die volgende vrae te vra:
- Waarvoor is ek hier en vir Wie lewe ek? Dit gee die lewe sin en betekenis.
- Wat is my waardes en beginsels? Dit bepaal my daaglikse besluite en gee rigting en duidelikheid.
- Wie is ek? Dit gaan oor my identiteit en my “unique divine design” sodat ek getrou aan my skeppingsdoel kan bly. Om te wees wie ek is, my roeping te vervul met wat ek is en nie ander na te boots nie.
- Wie sorg vir my? Dit gaan oor my sekuriteit en my vertroue in die Vader wat belowe om altyd by my te wees en vir my te sorg.
- Waarop moet ek nou fokus? Want die wêreld wil ons almal aandag-afleibaar maak. Daarom moet ek my aandag fokus en ander dinge wat vir aandag roep, doelbewus uitsny.
Die volgende stukkie uit Alice in Wonderland is insiggewend:
“Alice came to a fork in the road. ‘Which road do I take?’ she asked.
‘Where do you want to go?’ responded the Cheshire Cat.
‘I don’t know,’ Alice answered.
‘Then,’ said the Cat, ‘it doesn’t matter.”
As ek nie weet waarheen ek in 2014 op pad is nie, word enige pad en enige besluit die “regte” een. En dan word jou lewe ‘n mallemeule wat al in die ronde draai, maar nie regtig vordering maak nie. So, mag die Here vir ons elkeen wys waarheen ons op pad is sodat ons elke dag die regte keuses sal maak. Let’s go for it!