Nuusbrief 10 in 2013

Hierdie tyd van die jaar kom ek agter hoe moeg party mense is. Sommiges sê reguit hulle kan nie wag vir die Desembervakansie nie. By ander kom jy hulle moegheid agter in hoe hulle praat, vlakke van geirriteerdheid, oorsensitiwiteit en kort van draad wees. Die jaar het by baie sy tol geëis en nou voel die laaste paar weke wat voorlê, soms baie lank.

Maar dis hier waar die toets lê: hoe gaan ons die jaar klaar maak? Henry Cloud (Christen Sielkundige en skrywer) het onlangs gesê dat veral drie dinge nodig is om moegheid en uitbranding teen te werk want as jy hierdie dinge doen, verander dit hoe jou brein werk en hoe jy fisies voel:

  1. Hou jou kop reg. Skryf jou gedagtes oor mense, jou werk en jou lewe neer. Toets die gedagtes en vervang dit dan met nuwe gedagtes wat waar en reg en positief is. Kyk ook na die groot prentjie – netsoos ‘n fliek, het jou lewe sekere hooflyne. Behou perspektief.
  2. Neem beheer oor wat jy kan/moet beheer. Onderskei waaroor jy beheer het en waaroor nie. Fokus dan op die dinge waaraan jy wel iets kan doen (en doen dit met die Here se leiding en krag). En gee die dinge wat buite jou sfeer van invloed en beheer is, aan die Here oor. So raak jy ontslae van ‘n gevoel van magteloosheid (“learned helplessness”). Stadig maar seker neem jy verantwoordelikheid weer terug – ook vir jou emosies en gedrag – en dit gee energie en motivering om voort te gaan. Ons is geskep om te heers, nie om oorheers te word nie (Gen 1).
  3. Hou jou konneksies (verhoudinge) reg. Wees lief vir die mense om jou – reik liefdevol uit en gee regtig om. Laat ander toe om jou lief te hê. Vergewe en laat gaan die dinge van die verlede wat jou seergemaak het. Isolasie (al is jy tussen mense) kan jou eensaam en verlore laat voel. Sinvolle verhoudinge gee energie en ‘n sin van betekenis.

Hier teen die einde van die jaar is baie van ons besig om ook te dink en te beplan aan volgende jaar. Bill Hybels het by die afgelope “Global Leadership Summit” leiers aangemoedig om dapper te wees. Deel daarvan, is om ons realiteit te definieer – in jou eie lewe, maar ook by die werk, soms met toetse en klimaatstudies. En dan is die volgende stap om die implikasies daarvan in die oë te kyk en te hanteer, al beteken dit byvoorbeeld dat jy moet teruggaan en (klomp keer) “jammer” sê. Soms hardloop ons weg van die werklikheid en leef in ‘n wêreld van ons eie waarin alles “hakuna mutata” is. Maar dit beroof ons van die werklike lewe waarin ons ons verskil kan maak.

Soos ek ouer word, kom ek agter dat ek (verkeerdelik) al hoe makliker my gemaksones opsoek.  Dr Brené Brown het by dieselfde leierskap-konferensie gesê: “You can choose courage, or you can choose comfort. You cannot choose both. They are mutually exclusive”. En dan sê sy reguit “professing is not practicing” en moedig ons aan om in die arena te klim en die goeie geveg te veg en goed klaar te maak. Dis maklik om te kritiseer, maar die ware helde is hulle wat probeer, en val, en opstaan om weer te probeer.

Toenemend besef ek, soms tot my ontnugtering, dat ons nie op aarde is bloot om ‘n gelukkige en “lekker” lewe te hê nie. Persone soos Jesus, Dawid en Paulus se lewens op aarde was dikwels alles behalwe “lekker”, maar baie keer vol uitdagings. Maar tot vandag word hulle impak gevoel. Dalk is daar ‘n paar nuwe dinge waarvoor ek en jy “ja” behoort te sê, al is dit minder gemaklik.

Op dieselfde konferensie het Vijay Govindarajan gepraat oor innovasie en dat strategie inderdaad innovasie is: om die toekoms te herontwerp. Dit laat my dink aan Jesus se metafoor van “nuwe wyn” wat in “nuwe wynsakke” moet kom. Ons probeer baie keer maar net vashou aan die hede en verlede en probeer om dit maar net beter te maak. Soms help dit om bietjie uit die enjinkamer te kom en te vra: is daar nie ander beter maniere om die dinge te doen nie. Vir lank het hoogspringers die skêr-metode gebruik en het aanvanklik net so 4 voet hoog gespring. Met die nuwe styl van die laaste 50 jaar, die sg “Fosbury FLop” (agteroor rol) haal hulle deesdae oor die 9 voet (amper 3 meter). Blote verbetering van die skêr-spronge sou hulle nie naby dit gebring het nie. Ek bid dat die Here vir ons nuwe maniere sal gee om ou dinge te doen, en selfs nuwe maniere om nuwe dinge te doen.

Maar die uitdaging lê baie keer in die uitvoering en deurvoer van die nuwe planne. Vijay gebruik die formule: Innovation = New idea + Leadership + Team + Execution. Dit spreek vanself.

Met hierdie woorde wil ek opnuut ons almal aanmoedig: kom ons maak die jaar goed klaar – met moed en durf tot die einde toe! Kom ons kyk ons realiteite in die oë en dink nuut en groot oor 2014 en stel onsself oop vir die Here se kreatiwiteit in en deur ons. Dit vra dat jy iewers sal stil word en oopkop kan wees. Moenie wag tot die jaar verby is nie, want dalk is daar ‘n paar dinge wat jy nou al kan doen om die balle aan die rol te sit.

Share