Hoop dit gaan tuis en en by die werk goed met jou en jou menseverhoudinge hier in die laaste kwartaal van 2012. Dis veral in hierdie kwartaal wat mense moeg word en maklik mekaar verkeerd opvryf, geïrriteerd en gefrustreerd raak, dinge sê en doen wat mekaar seer maak. Ons neem ook soms dom besluite wanneer ons begin moeg raak.
Mag ons dit alles emosioneel intelligent hanteer. Hieronder is ‘n paar riglyne wat ek vir mense gegee het ná ‘n kursus oor emosionele intelligensie:
- Elke persoon moet verantwoordelikheid vat vir sy/haar emosionele selfbestuur en hoe jy op omstandighede of ander mense reageer.
- As jou emosies begin oorneem, druk die “pause” knoppie.
- Moenie reageer of besluite neem terwyl jy emosioneel ge”trigger” is nie. Koel eers af sodat jou neo-korteks (denkende brein) beheer kan terugkry.
- As jou amygdala (emosionele brein) ge”trigger” word omdat jy “onveilig” voel, “hijack” dit jou neo-korteks. Dan wil jou oerbrein jou op primitiewe maniere van veg, vlug of vries laat reageer. Maar dit is dikwels nie die beste manier van reageer nie. Weer eens: druk die “pause” knoppie, neem “time out” en oordink die situasie as jy afgekoel het.
- Ons kan keer dat mekaar se amygdalas ge”trigger” word deur mekaar te help veilig voel in die span of gesin. Een manier is gesonde dialoog (luister om te hoor, praat om te bou) waarmee ons altyd by ‘n wen-wen probeer uitkom. Luister ‘n slag mooi na ander, luister met jou kop en hart, voor jy reageer. En wys so dat jy omgee.
- Jy is nie ‘n slagoffer van jou emosies nie. As jy af, negatief, onseker, bang, gestres voel, kan jy iets daaromtrent doen. Kies om anders te dink, verander jou “selfspraak”, of verander net jou gedrag al is dit lynreg teen jou gevoelens in soos om liefdevol, met selfvertroue of goedgemanierd op te tree (- dis nie “fake” om dit te doen nie, want jy kies mos self dat dit die beste is vir jouself en die situasie).
- Leer om jou emosies en jou emosionele ritmes te verstaan (bv. hoe jy soggens, na middagete, of saans voel) en kies self maniere hoe om dit die beste te bestuur.
Iets op ‘n ander toon. Ek het onlangs met my 50ste verjaardag die voorreg en wonder van lewe besef en gevier. Ons lewe hardloop teen ‘n spoed, maar soms is stilstaan-momente en feesvierings nodig om ons die sin en die betekenis van alles te laat besef en waardeer. Ek verstaan nou beter hoekom die Here soveel jaarlikse feeste vir die Israeliete ingestel het. Dit laat jou vir ‘n rukkie die pas markeer en onthou waaroor die lewe gaan.
Maar waaroor gaan die lewe? Wat is die doel van dit alles? Elkeen moet dit vir hom-/haarself uitmaak. En ook vra: wie is ek nou eintlik?
Ek besef opnuut – anders as toe ek 20 of 30 was – die lewe gaan nie oor wat ek bereik en nagejaag het nie, nie oor hoe baie ek gedoen het nie of wat ek gaan agterlaat nie (hoewel dit alles belangrik kan wees). Toe ek my vyftigste met ‘n klein groepie naby familie en vriende gevier het, het ek besef my rykdom is die mense vir wie ek lief is en wat vir my lief is, die mense saam met wie ek op hierdie lewensreis is, mense soos jy.
En die lewe gaan daaroor om werklik voluit te “wees”, om die Here werklik te ken en saam met Hom te leef, saam met ander te wees en hulle lief te hê, om vrede met jouself te maak en die mooi in jou en om jou te geniet. Dit gaan daaroor om in die “nou” te wees, die “nou” te belewe, om vir ander om te gee en dit te wys, met dankbaarheid jou kos te geniet, die son te voel en asem te haal. Dit gaan daaroor om met jou “wese” God te verheerlik en in alles vir Hom te leef. En om te weet dis maar net die begin. Die eintlike lewe is die een hierna…
Mag jy voluit lewe, in jou menseverhoudinge gelukkig wees, in jou werk produktief en tot seën vir ander en tot eer van die Here.