Nuusbrief 8 in 2012

Na ‘n regte koue winter hier in die Kaap sien mens uit na die Lente. Hier by ons word dit nie veel warmer in September nie – dit gebeur eintlik eers werklik in Oktober/November. Maar wat ons wel sien, is die tekens van nuwe lewe: botsels en bloeisels aan die bome, die son wat vroeër opkom en later ondergaan, én meer mense wat weer aktief raak met draf, fietsry, stap  en piekniek hou.

Mag die nuwe seisoen jou ook inspireer tot nuwe dinge, en veral om voluit te lewe – tot eer van God vir Wie ons hier is.

In die laaste tyd, is ek in coaching en organisasie-ontwikkeling baie gekonfronteer met die vraag “hoe verander mens?” Dit word ook onderstreep deur die kwessies waarmee ons land worstel, soos die onrus op ons myne, ongelukkigheid met dienslewering en korrupsie.

Deel van my werk is mos om ‘n verandering- en groei-agent te wees. Glo dit as jy wil, maar na jare se intense ervaring daarmee en na baie boeke en opleiding oor die onderwerp, voel ek steeds soos ‘n leerling en kon ek nog nie ‘n wenresep formuleer nie. Eintlik glo ek nie daar is ‘n “kitsresep” nie. Wat ek wel weet, is dat die volgende stappe op meer as een manier tog werk vir individue en groepe mense:

1. Stap een: Bewuswording en definiëring van realiteite

Dis hoe dit gewoonlik begin: ons hou nie van die “plek” waar ons is nie. Ongelukkig gebeur dit baie keer as rampspoed tref of die wiele in ‘n verhouding, gesin of besigheid behoorlik afgeval het. Ander kere gebeur dit as mense frustrasie ervaar, soms frustrasie met stagnasie. Partykeer, soos in die laaste tyd met ‘n paar jongmanne wat my kom sien het, gaan dit oor groei: ek wil vorentoe – wat is die volgende sinvolle stap? En selfs dan help ek hulle om eers te verstaan: waar is ek nou en met watter pad langs het ek hier gekom?

  • Deel hiervan is gewoonlik om insig te kry in my huidige situasie. Hoe ernstig is dit? Wat is positief? Wat is negatief? Wat is die werklike issues?
  • Neem verantwoordelikheid. Ek probeer deesdae (anders as vroeërjare) om nie meer die “hoekom” en “waarom” vrae te vra nie. Dit ontlok dikwels blamering en verontskuldiging. Ons blameer te maklik ander mense of omstandighede en dan sit ons vas in ‘n slagoffermentaliteit. Die gesindheid wat help, is om te sê: ongeag hoekom ek hier is, ek neem verantwoordelikheid vir my pad vorentoe.
  • Wie is ek/ons? Dit help baie om eers jouself en jou identiteit te verstaan, want “identity is destiny”. Verstaan jou passies, vermoëns en persoonlikheid.

2. Die tweede, baie logiese, stap is om te bepaal waarheen ek wil gaan, wat is my doelwitte en my “beter toekoms”?

  • Hoe lyk dit waarvoor ek hoop en droom? Wat is die dinge wat die toekoms beter sal maak? Wat is die kriteria – hoe sal ek weet as ek daar is? In watter rigting dui my ervaring tot nou moet ek gaan? Wat sal die Here die meeste eer, ander help, en vir myself (roepings)vervulling gee?

3. ‘n Derde stap is om uit werk:  wat is my opsies, wat is die beste pad van al die moontlikhede, wat moet ek doen?

  • Stel vir jouself ‘n plan van aksie op – met doelwitte en teikendatums (hoe, wat, wie, wanneer). 

4. Laastens, aksie: “just do it” (soos Niké se slagspreek sê)

  • Met mooi planne en al kan jy steeds vassit waar jy is. “The road to hell is paved with good intentions” sê die spreekwoord mos.
  • Jy moet iets doen, maar eintlik: jy moet iets anders doen. Dis mos Einstein wat gesê het dat een definisie van malheid is dat jy dieselfde dinge aanhou doen, maar ‘n ander uitkoms verwag.

En tog is daar ‘n ander, dieper dimensie: die Here verander ons deur ons denke deur sy Gees te vernuwe (Rom 12:2). Dit kanselleer nie wat hierbo staan nie, maar is ‘n proses wat saam met dit, soms langs dit, moet hardloop: dat my hart, denke en gesindheid verander. En dit gebeur wanneer ons tyd in die kragveld van die Gees deurbring – bv. in stilword-tye met die Here, sy Woord en gebed; of saambidtye met ander; of aanbiddingstye alleen – in jou binnekamer of kar, in die natuur of saam met ander.

So ‘n rukkie terug was ‘n drie-dagvas vir my so ervaring. Teensinnig het ek ingestem om saam met ons gemeente te vas. Bo verwagting was dit ‘n groot seën gewees. En boonop is my verslaafdheid aan kos ontbloot en het ek bevryding ervaar, het my bewustheid van God en sy seëninge in my lewe asook simpatie met ander wat nie het nie, gegroei.

Mag hierdie Lente vir jou ‘n seisoen van nuwe groei inlei! Mag jy loskom van gedagtes, gesindhede, gewoontes en verslaafdhede wat jou vashou… en mag die Here se teenwoordigheid nog meer werklik word oral waar jy is en in wat jy doen! Wil jy nie bietjie tyd neem en daaroor dink nie…?

Mooiste seëninge vir die mooiste deel van die jaar, wat soms baie bedrywig kan raak.

Share