Nuusbrief 10 in 2012

Ons is in die Wes-Kaap bevoorreg om met jou fiets deur van die mooiste plekke te kan ry. Ek het nou die dag besluit om met my fiets na ‘n bosberaad toe te ry (deesdae noem ons dit mos ‘n imbizo of ‘n indaba). Ongelukkig het ek bietjie laat weggekom. So bevind ek my toe, baie naby aan my bestemming met alles wat begin donkerder word na die son gesak het. Maar ek het lekker vir myself gelag toe ek ontdek dat ek nog my sonbrille op het. Na ek dit afgehaal het, lyk die hele omgewing skielik baie helderder en ek voel veiliger…

Hierdie ervaring is vir my tekenend van hoe ons baie keer weens “verkeerde brille” perspektief verloor. Die einde van elke jaar is vir ons elkeen ‘n geleentheid om ons brille af te haal, óf net skoon te maak, óf in te ruil vir nuwes. Baie van my werk vanjaar was gefokus om mense te help om met nuwe, ander en beter oë na hulleself en hulle realiteite te kyk. Jou perspektief bepaal immers hoe jy emosioneel en prakties op ‘n situasie reageer. Anders gesê: as jou perspektief verander, verander jou emosies en gedrag. Wil jy mense verander? Help hulle om (self) beter perspektiewe te ontdek. Maar laat ons by ons self begin!

Iemand het gesê: “You don’t see reality as it is; you see it as you are”. Dikwels word ons perspektief baie negatief gekleur deur ons pynlike ervaringe, die media, negatiewe gesprekke, opvoeding ens. Dit verlam ons om positief die impak te maak waarvoor ons geroep is. Dit bring donkerte binne-toe sodat ons die lig, die mooi, die hoop daarbuite later nie meer mooi raaksien nie.

Vanmiddag lei ek ‘n gedenkdiens in ‘n fabriek na hulle MD en baas sy stryd teen kanker verloor het. Dit sal my eerste diens wees in so ‘n konteks. Kobus was ‘n dinamiese entrepreneur en mooi Christen, en het ‘n fabriek opgebou waar oor die honderd mense werk. Baie getuienisse word gelewer oor sy onopsigtelike omgee, wysheid en praktiese hulp aan ander. My doel is om die mense te help om hulle verlies te hanteer, én ook fees te vier oor die seën wat hulle baas vir hulle was; om hartseer te wees, én tegelyk ook dankbaar vir ‘n lewe wat ‘n verskil gemaak het; om op mekaar se skouers te huil én mekaar op te beur om met mening voort te gaan; om te besef dat hy nie meer met ons is nie, maar by die Here én dat dieselfde Here by ons is. Hy is immers nie dood nie, want hy is ‘n Christen en leef dus nou by die Here. Verder wil ek elkeen help om te besef dat een van ons die volgende sal wees om te gaan – kom ons wees gereed: nie net om te sterf nie, maar veral om voluit te lewe, vir altyd…

‘n Grootse ervaring die afgelope tyd was ‘n besoek aan “Body Works” by die Kaapse Waterfront. Dit is ‘n wonderlike en kunstige uitstalling van werklike menslike liggame sonder vel. Dis so mooi dat jy verwonderd staan oor die mooi wat God geskep het: spiere, bene, senuwees, jou brein, organe, liggaamlike stelses, voortplanting, lewe. Dit laat jou ook besef dat ons tydelik hier is, dat ons ons liggame mooi moet oppas, dat ons voluit moet lewe!

Wat probeer ek om met al hierdie dinge te sê? Basies dit: omhels opnuut die lewe, kies om dit in die “nou” te beleef en nóú te geniet, en om met die beste perspektief tot eer van die Here voluit te lewe!

Dankie vir elkeen wat vanjaar my briewe of my “blog” gelees het. As jy gaan rus, geniet dit! Mag hierdie komende Christusfees vir jou baie betekenisvol wees en mag jy hoopvol en vertrouend 2013 binnegaan.

Mooiste wense!

Johann

Share