Meeste van ons se enjins is goed opge”start” vir die jaar. Dit vat mos so rukkie voor alles weer momentum het. Mag hierdie jaar vir jou vol nuwe geleenthede wees, mag jy dit raaksien en aangryp en in die besigwees jou vreugde en vrede behou!
Net ‘n paar woorde oor verhoudinge by die werk (maar dit kan ook tuis toegepas word). Hier is 5 dinge wat jy kan doen om ‘n energie-gewende en gelukkige klimaat om jou te skep:
- Onthou om vriendelik te groet (hallo en totsiens): so erken jy ander se teenwoordigheid en wys dat hulle vir jou belangrik is. Groet is eintlik om iets te gee, ‘n seën. En dis om jou hart oop te hou vir ander…
- Sê “asseblief” (met woorde en jou houding): so wys jy respek en dat jy ander se insette nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
- Sê “dankie!”: dit wys erkenning en waardering dat wat ander doen vir jou saakmaak en gee hulle baie energie.
- Sê “ek is jammer, vergewe my”: só erken jy dat jy ook feilbaar is. En só word verhoudinge vinniger herstel én gebou, en word emosies genormaliseer.
- Vra “waarmee kan ek jou help?”: so gee jy om, en help jy ander om sukses te behaal. Eendag kom dit terug na jou toe.
Ek het die afgelope twee weke by twee geleenthede met ‘n maatskappy se mense oor werk-lewe balans gepraat. ‘n Diep vraag is allereers: hoekom lewe, en hoekom werk ek? Wat gee dit sin? Werk gee jou mos die geleentheid om jou talente te gebruik en te ontwikkel, om ‘n verskil te maak, verhoudinge te bou, inkomste te verdien om jouself en geliefdes te versorg, om vervulling te kry, ‘n getuie te wees, die koninkryk te bou en God te eer. Jy is ontwerp en gemaak en geroep daarvoor.
Eintlik verkies ek die term “Werk-Lewe integrasie” of “simbiose” waar die fasette van jou lewe so saamvloei dat jy gelukkig en vervuld kan funksioneer. Ons werk nie om te lewe nie, en ons lewe nie om te werk nie… maar ons kan tuis, by die werk en in ons ontspanning en sport vreugde vind – sonder dat een faset van jou lewe al jou energie en tyd opslurp. Dit is die Here se wil vir jou dat jy in alles sin en vreugde vind en Hom eer (lees Pred 3:12-13).
Ons jongste kuiken vlieg vandag uit die nes. Hy wil dokter word en is gelukkig by Stellenbosch gekeur. (Eish, pa se sak!) Dit is lekker om sy lewenslus, energie, passie en drome te sien. Vir ons ouers is dit soms swaar om hulle te laat gaan, maar ons maak mos ons kinders groot om groot te wees én te vlieg. Mag hulle groot en groots wees. Dis my wens vir elkeen van ons se kinders – jongmense met ruggraat wat sal impak maak.
Mooiste wense vir jou! En mag jy ook met ruggraat en liefde ‘n verskil maak waar jy is!