Toe die vyfde persoon na mekaar afsprake met my herskeduleer, besef ek dat baie van ons hierdie tyd van die jaar skarrel om by alles uit te kom. Dis die laaste peilvak van die jaar. Ons energievlakke is laer, so ook ons toleransievlakke. Ons oordeelsvermoë neem in sulke tye ook af. Daarom is ‘n goeie reël dat jy nie in November groot besluite moet neem nie. Behou perspektief en wees ekstra goed vir die mense om jou, wat net soosjy dalk ook bietjie moeg begin raak. Bly gefokus, byt vas en gee jou beste, want die sukses van ‘n wedloop hang af hoe jy dit klaarmaak. En as jy vanjaar goed klaarmaak, begin jy volgende jaar van ‘n goeie plek af.
By die onlangse Global Leadership Summit het Bill Hybels verwys na ons “challenge level” by die werk. Hy onderskei tussen drie vlakke (1) gevaarlik oordrewe uitdagend; (2) toepaslik uitdagend; en (3) onder-uitdagend. Netsoos ‘n spier wat lui en uit oefening raak as ons dit nie genoeg gebruik nie, gebeur dit met ons as ons te min uitdagings het. Die ideaal is om meestal op die boonste deel van vlak 2 te wees, maar vir tye in vlak 1 te beweeg. Ons het nodig dat ons werk uitdagend genoeg is en jou gereeld uit jou gemaksones neem sodat jy aanhou groei en skerp bly. As jou “revolusies” egter te lank te veel in die “rooi” bly, raak jy ooreis, afgestomp, depressief, ongelukkig, en selfs uitgebrand. Dan maak jy maklik dom besluite en is jy meer vatbaar vir allerlei versoekings, veral in areas waarin jy swakker is. Dan neem jou prestasie- en suksesvlakke af en dit kan tot grootskaalse mislukking lei. Sien gerus die grafiek en verduideliking by http://www.lesstress.net/stress-affect-performance.htm.
Ek het onlangs ‘n boodskap oor Jona 4 gebring. Die boek het ‘n sogenaamde “oop einde”. Dit het 4 hoofstukke en maak mos klaar met Jona wat baie kwaad is – kwaad omdat Nineve nie verwoes is nie, kwaad vir die wonderplant wat doodgaan, en veral kwaad vir God omdat dinge nie uitwerk soos Jona dink dit behoort nie. Maar as daar ‘n Jona 5 was, hoe sou Jona se verhaal klaarmaak? Daar is breedweg twee moontlikhede: (1) waar Jona kwaad teruggaan huis toe en sy lewe op teleurstelling uitloop; en (2) waar hy sy fout agterkom en erken, en die herlewing in Nineve uitbou en ‘n “legacy” nalaat. En jou en my nalatenskap? Die vraag vir ons is:
- Gaan ek toelaat dat my eensydige persepsies en (selfsugtige) emosies in my pad staan om dit waarvoor ek eintlik bestem is, te bereik – in my werk, huwelik, gesin en familie, kerk, samelewing ens? Of gaan ek na die lewe deur God se oë kyk, my emosies bestuur en saam met God die pad stap om te doen waarvoor Hy my roep?
Mag ons intelligent met ons emosies omgaan en onsself doelbewus bestuur sodat ons kan uitkom by God se plan vir ons lewens. Dit was een van die dinge wat ek besef het by ‘n Mighty Men ontbyt van die afgelope Saterdag. Kom ons neem ons Godgegewe verantwoordelikheid op om ons lewens te bestuur en om ons lewens te laat tel. Dit begin deur tyd te maak vir God – selfs (veral) as dinge rof en besig gaan. Dis by Hom wat jy rustig word, perspektief kry en jou batterye laai.
Sterkte vir die laaste deel van die jaar!