Nuusbrief 7 in 2011

Tydens ons jeugdag-vieringe het ek my eie besinning oor ons jeug gehad. ‘n Mooi graad 11 seun (17 jr oud) bly sedert einde laasjaar by ons. Beide sy ouers se omstandighede is só dat hy nie by hulle kan bly nie. Dit is ons voorreg om vir hom die laaste twee jaar van sy skoolloopbaan ‘n huis en stabiliteit en liefde te bied. Sy vriendin, ‘n pragtige mens, het 4 half- of stiefsussies uit drie ander huwelike van haar ouers. Haar ma is pas verplaas en sy sal by mense loseer tot sy matriek voltooi het. Hoe graag sou hulle altwee stabiele gesinne wou hê…

Ek sien jongmense wat soms met hulle oënskynlike bravade en uitdagendheid aan die buitekant, diep binnekant sukkel met ankerloosheid en rigtingloosheid. Wat kan ons doen om ons jeug (tieners en adolessente) te help, te midde van ‘n wêreld met soveel onstabiliteit, gebrokenheid en hooploosheid? Hier is ‘n klompie dinge wat by my opkom:

  • Bou verhoudinge, wees beskikbaar, maak kontak. Moenie “in” probeer wees nie, maar wees toeganklik en nederig, en nie meerderwaardig nie.
  • Gee liefde – soms deur net saam met hulle oor hulle lawwighede te lag; ander kere deur belang te stel; partykeer om te luister na hulle stories. Partykeer is dit ‘n grappige kielie in die sy of hou op die skouer, of dalk ‘n drukkie want hulle hou gewoonlik van aanraking al lyk dit soms nie só nie. Liefde sluit iets in hulle oop en help hulle om te ervaar dat hulle kosbaar is.
  • Sien hulle sterkpunte en mooi dinge raak en praat met hulle daaroor. Erken hoe mooi hulle lyk, en praat ook oor hulle prestasies in sport, akademie of elders. Of as hulle iets ouliks sê of doen, waardeer dit. Help hulle so om hulle uniekheid en spesiaalheid te ervaar.
  • Dalk kan jy ‘n mentor of ouer en wyser raadgewer wees. Dit gebeur gewoonlik na jy ‘n verhouding gebou het en gewys het jy stel regtig belang. As die deur oopgaan, stap in, maar moenie jou “luck push” nie. Deel soms (nie te veel) baie kort van jou eie ervaringe en veral die kere toe jy foute gemaak het. Hulle hou van stories.
  • Bemagtig hulle deur te wys dat jy vertroue in hulle begeerte en vermoë het om (toepaslik vir hulle ouderdom) goeie besluite te neem. Hierdie is soms die moeilikste deel. As jy oor sy/haar vermoë twyfel om ‘n bepaalde saak alleen te kan hanteer, vra toestemming om dit deur te praat. Maar soms het hulle tyd nodig om ‘n ding deur te dink, soos wat om eendig te swot of hoe om ‘n moeilike verhouding te hanteer.
  • Konfronteer in liefde. Soms moet ons die waarheid reguit praat, maar in liefde en opbouend.
  • Handhaaf grense want dit gee veiligheid en sekuriteit vir jou en vir hulle. En dis deel van respek.
  • Praat en leef volgens waardes. Vra watter beginsels en waardes vir hom/haar belangrik is. Moenie prekerig wees nie. Leef volgens jou waardes met integriteit en nederigheid.
  • Sover jy enigsens kan, gee jou kinders ‘n stabiele huis waarin hulle groot word. Werk hard om jou huwelik gelukkig te laat werk. Maak gesinstyd. En dalk kan jou huis ‘n kuierplek en hawe word vir ander jongmense ook?
  • Leef vanuit ‘n verhouding met Christus. En as die jongmense reg is, praat oor hulle eie verhouding met die Here. Jy sal vind dat hulle baie eerliker en op die man af praat as ons geslag.
  • Laastens, bid vir hulle, want dit is eintlik net die Here wat hulle in sy genade werklik kan help en dit sal doen lank na ons nie meer daar is nie.

Nou iets op ‘n ander noot. ‘n Vriend wat finansieel en persoonlik deur ‘n moeilike tyd gaan, vertel ander dag hoe wonderlik sy mannegroep hom ondersteun. Dis ‘n mooi verhaal van mense wat omgee, luister, saam dink, vrae vra, raad gee, en prakties hulp en geld gee. Die Here sê mos al reg in die begin in Gen 2:18 “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie” en dis interessant dat die eerste Christelike gemeente baie sterk in verhoudinge geleef het en alles met mekaar gedeel het. Die lewe, ook die Christelik lewe, is nie bedoel om ‘n solo-vlug te wees nie. Ek hoop jy het mense vir wie jy ondersteun en wat persoonlik by jou betrokke is? Die Tswana spreekwoord lui “Motho ke motho ka bathu” – ‘n mens is ‘n mens deur mense. Dis so waar!

Ek sien ook in my werk toenemend hoe belangrik betekenisvolle verhoudinge is. Jy weet seker dat deel van my werk is om Christene in die markplek te help om ambassadeurs van die Here se koninkryk te wees en om besighede te help om hulleself volgens koninkryksbeginsels te belyn. Ek is onlangs gevra om die leisels van die Network of Christian Forums (NCF) oor te neem. NCF is ‘n beweging van besigheidsforums of -groepe, wat Christen-manne en -vroue in die markplek help om mekaar te ondersteun. Dit is baie nou gekoppel aan Global Day of Prayer (GDOP) wat Christene regoor die wêreld gemobiliseer het om op Pinksterdag saam te bid, asook Unashamedly Ethical (UE) wat internasionaal etiese praktyke in die werkplek bevorder. Ons hoop om NCF landswyd en later wêreldwyd uit te brei.

Kom ek verduidelik eers wat ‘n forum is. Dit is ‘n dinamiese ondersteuningsgroep van sowat 6-8 manne of vroue wat maandeliks vir ±4 ure bymekaarkom vir ondersteuning en “accountability”. So help ons mekaar om in die markplek, maar ook in ons totale lewe (geestelik, gesin, beroep, persoonlik), voluit as Christene te lewe. Dit is ook amper soos ‘n groep-coaching sessie waar ons mekaar se vriende word en mekaar help om aan te hou groei, issues uit te sorteer, goeie besluite te neem en tot eer van die Here suksesvol te wees. Elke byeenkoms begin met ‘n “check-in” waar jy in 5min deel hoe dit met jou geestelike, besigheids-, gesins- en persoonlike lewe gaan. Daarna het ons gewoonlik een persoon wat ‘n saak waaroor hy die ander se insette wil hê, met die groep deel. Ouens van dieselfde beroep ef besigheidsveld mag nie saam in ‘n groep wees nie en daar is baie hoë premie op vertroulikheid en eerlikheid. Dit is nogal diep, maar baie, baie verrykend.

Bid asb vir my hieroor. As jy belangstel, epos my hieroor of besoek die webwerf (wat nog onder konstruksie is) by www.forumnetwork.co.za. Hoor (en kyk) gerus meer daarvan op ‘n kort dvd-snit by dvd by http://www.forumnetwork.co.za/Network_of_Christian_Forums/Forum_Resources.html.

Mag jou lewe ‘n lewe van betekeninsvolle verhoudinge wees!

Share