Ek het onlangs ‘n videogreep op Youtube gekyk (sien “Technology – change”) wat met statistieke wys hoe vinnig ons wêreld verander – veral tegnologies maar ook prakties. ‘n Groot deel van die inligting wat ‘n student in sy eerste jaar op doen, is in sy finale jaar verouder – so vinnig vermeerder en verander die inligting.
Al die vinnige veranderinge kan ons onseker en onveilig laat voel – wat ons nodig het is perspektief en sinvolle aanpassing, anders raak jy aardsvreemd en onbruikbaar vir ons Here. Ps 46 praat van veranderinge in die natuur en politiek en sê dan in v.11-12 “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons; die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.” Dit beteken nie dat ons vir die wêreld en sy verandering moet wegkruip nie (escapism), maar dat ons geanker en veilig by ons magtige en onveranderlike Here alles in die oë kan kyk en saam met Hom kan hanteer.
Soos jy weet, het die sogenaamde oordeelsdag op 21 Mei het gekom en gegaan… en ons praat nog met mekaar hier op planeet aarde. Dit is baie belangrik dat ons bietjie nadink oor hierdie tendens om die Here se koms te bereken en te voorspel. Hieronder, na my epos, is ‘n stukkie van E-kerk wat duidelik my opinie oor die valse profete wat voorgee dat hulle die tyd en datums kan voorspel, verwoord lees gerus!
Wat ek nou skryf, word bedoel met empatie en besorgdheid vir mede-Christene. Ek is regtig jammer vir hierdie erg-misleide mense, wat vasgevang is in leuens en erg verdraaide maniere om die Bybel uit te lê. Aan die een kant is ek dankbaar dat meeste van hulle klaarblyklik nie só ontnugter is dat hulle hul geloof verloor of selfmoord pleeg nie, maar aan die ander kant is dit hartseer om te sien hoe hulle steeds in hulle byna psigose bly vasklou aan die idee dat die einde steeds op 21 Oktober gaan kom. Ek het so gehoop dat hulle in nederigheid sal erken dat dit ons nie toekom om die wederkoms se tyd te voorspel nie. Die Bybel noem hulle “valse profete” (Deut 18:21-22; Matt 24:11). Hulle doen baie skade, mislei mense en laat Christene in die algemeen belaglik voorkom.
Hoe kyk ons dus na hierdie dinge?
- Leer uit die geskiedenis. Die dag en datum van die koms van die Here is al baie keer verkeerdelik voorspel. Hierdie is ‘n ou dwaling en Paulus waarsku ons al in sy tyd “Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie” (2 Thes 2:2).
- Wees altyd gereed. Die Here se dag kan enige tyd vir ons kom – óf deur ons dood óf sy wederkoms. Maar ons hoef nie daarvoor bang te wees nie, want “die einde” bring vir ons ‘n NUWE BEGIN van die werklike lewe in volheid by die Here op die nuwe aarde onder die nuwe hemel.
- Ons is Koninkryksambassadeurs. Terwyl ons hier op planeet aarde is, staan ons daarom met ons voete vierkantig in die realiteit en lewe voluit hier waar die Here ons geplaas het. Ons lewe só dat dit sal duidelik wees dat ons burgers van die hemelse koninkryk is. Ons is koninkryks-ambassadeurs wat ‘n kort tydjie ons Koning hier verteenwoordig; ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld. Dit wil sê ons lewe met ‘n besef dat ons eintlike tuiste nie hier is nie maar elders. Daarom probeer ons nie te tuisvoel met hierdie wêreld met sy skewe waardes soos ‘n strewe na korttermyn genot en bevrediging, rykdom, selfsug. Hoekom? Want ons is anders! Ons is heiliges: toegewy aan ons Koning wat met ander beginsels en waardes werk.
- Gebruik die geleentheid. Al is die mense mislei en hulle voorspellings vals, bied al die reklame wat dit kry vir ons ‘n geleentheid om die gesprek in ander rigtings te stuur en mense te help om ‘n verhouding met die Here te hê of te versterk. Vra bv. die vraag vir iemand wat die gesprek op die tafel sit: “Maar is jy gereed as die Here vandag sou kom?” of “wat dink jy beteken dit om gereed te wees vir die koms van die Here?”
Vriende, ek wil jou aanmoedig om jou Bybel self te lees – nie deur die oë van die dominee of pastoor of ‘n dagboekie nie. Die dinge kan help, maar dit is nodig vir ons elkeen om geanker te wees in ‘n verhouding met die Here en ‘n kennis van sy Woord. Dan word ons nie deur elke lering of sektariese groep van stryk gebring nie.
Kom ons lewe voluit vir ons Here en maak ‘n verskil, of beter gesê: wees die verskil daar waar ons elke dag werk en lewe!