Maksimaal volgens potentiaal #2 – skakel die ligte aan

“Hoe weet ek wat ek die beste kan doen? Soms voel ek só middelmatig. Tog weet ek ek het baie meer om te gee.”

Laaskeer is vertel van die man wat vir die eerste keer in sy lewe ’n voertuig besit. Niemand het hom egter vertel hoe om die handrem los te maak nie – dus ry hy met moeite teen sowat 20 km per uur. Hy weet ook nie hoe die ligte werk nie. Daarom bestuur hy maar die voertuig net in die dag. En so hou hy aan … bedags teen maksimum 20 km per uur, salig onbewus van al die moontlikhede en funksies daarvan – die ligte, motorradio, lugversorging, ruitveërs ens.

Dit is ’n metafoor of prentjie van hoe baie mense hulle lewens leef…

Die eerste belangrike kuns is om jou eie interne handremme te kan identifiseer en los te maak. Dit begin met ’n proses waar jy nugter en eerlik met jouself is oor watter interne prosesse jou terughou. Dan kan jy dit opvolg met doelwitte, planne en aksie om los te kom van die dinge wat jou groei en sukses rem.

As jou “lewenskar” se handremme losgemaak is, is jy vry om met heelwat meer gemak by jou doelwitte uit te kom. Nou is dit tyd dat jy die ander “features” leer ken en gebruik. Jy wil mos jou “ligte” kan aanskakel en die “lugversorging” ook gebruik?

Ek hoor die afgelope week van ’n professor in Potch wat na sy aftrede begin skilder het en tans sy skilderye vir duisende rande verkoop. Die ligte het skielik aangegaan … Nog ’n storie is van ’n dominee wat begin storieboeke skryf. En ’n afgetrede Duitse vrou wat opheffingswerk in Sir Lowry’s pas begin doen en projekte aanpak wat miljoene rande kos. Sy het in Suid-Afrika kom aftree om gholf en tennis te speel, maar na sy hier die liefde van Christus leer ken het, kon sy nie meer die swaarkry om haar ignoreer nie. En skielik ontdek sy klomp nuwe vaardighede om ontwikkelaar, beplanner, projekleier, fondsinsamelaar van miljoene rande se projekte te wees. So is daar ook die onderwyser wat sy aanvoeling vir besigheid begin uitleef en met die koop en verkoop van tweedehandse voertuie sy dogter se universiteitsgelde betaal.

Hierdie en baie ander soortgelyke mense het nie noodwendig gaan leer vir iets “anders” nie. Toegegee, verdere opleiding in iets waarvoor jy aanleg het, kan beslis help. Wat eintlik gebeur het, is dat die mense dit wat lank reeds in hulle was, ontdek het en begin gebruik het – sommiges noodgedwonge en ander uit frustrasie, nuuskierigheid of verveeldheid.

Hoe pas ons dit toe op jou as individu wat dalk deur die advertensieblad blaai op soek na nuwe werkgeleenthede, óf besig is om jou opsies te heroorweeg óf drome droom van ’n beter, meer vervulde werklewe? Eenvoudig: leer jouself ken; fokus op jou sterkpunte en bou daarop; bestuur óm jou swakpunte deur steunstelsels in te bou of mense te kry wat jou daarmee kan help.

Prakties gaan dit daaroor dat jy jouself beter moet leer, veral wat jou sterkpunte is en waaroor jy passievol is.

Hier is ’n eenvoudige oefening wat jy kan gebruik om jou “features” te ontdek. Neem bietjie alleentyd en gaan met jouself op ’n onttdekkingsreis:

  1. Onthou: Maak ’n lys van so ongeveer 5 hoogtepunte in die verlede (op skool, op universiteit, by die kerk, kollege of werk) – toe jy betrokke was met dinge wat jou suksesvol en vervuld laat voel. Tye toe iets in jou losgekom het wat tipies en uniek jy is. Dit was geleenthede of gebeure wat vir jou betekenisvol was, wat jou opgewonde gemaak het en energiek gegee het. En dalk was daar wonderlike resultate ook.
  2. Beskryf elk van die geleenthede kortliks: wanneer was dit, waar het dit plaasgevind, wat het jy gedoen en/of bereik, wat maak dit so betekenisvol.
  3. Ontleed nou elkeen van die ervarings deur die volgende vrae daaroor te antwoord:
    Wat was vir jou so vervullend of besonders van die ervaring?
    Wat leer jy daaruit van jouself? Wat sê dit van jou?
    Wat sê dit van jou belangstellings, vermoëns en waardes?
  4. Leer daaruit. As jy mooi hierna kyk, watter sterkpunte staan vir jou uit in meeste van die gebeure? Voltooi die sin: “ek is iemand wat …”. Of: “ek hou daarvan om te …”. Of : “as ek …. doen, ervaar ek die meeste sukses en vervulling”.
  5. Herhaal dit. ’n Polisiebevelvoerder sê die ander dag vir sy mense: “Wil jy suksesvol wees in jou lewe. Leer uit jou suksesse en herhaal dit.”

Toe ek na ’n groot loopbaan-teleurstelling by ’n mentor (executive coach) uitkom, het hy my deur ’n soortgelyke proses geneem. Dit het my perspektief op myself en waarvoor ek op aarde is, radikaal verander. Alles was duideliker. Ek kon afskeid neem van dit wat was en kon wees, en met baie groter slefvertroue en gemak radikale loopbaan-keuses maak.

Meeste van ons deins terug vir dit wat vreemd en onbekend is. Soms is dit goed om sommer spontaan iets nuuts by jou werk of in jou vryetyd aan te pak – ’n tree uit die gemaksone. Dalk ontdek jy gawes en talente wat jy nooit gedink het bestaan nie? Dalk is al wat jy moet doen net die eerste versigtige treë na nuwe ontdekkings oor jouself?

Mag jy die skakelaars vind wat jou ‘lewenskar’ se ligte aanskakel, die musiek laat speel en die lugversorger werk. Kortom, wees die beste jy!

Share