Maksimaal volgens potensiaal #1 – Maak los die handrem!

“Ek sit vas, ek kom nêrens nie…” – so sê baie mense wat magteloos in hulle situasie vasgevang voel.

Die storie word vertel van ’n man in ’n derde wêreld land, waar karre amper skaarser as hoendertande is. Tot nou toe moes hy stap, perdry, of bus en donkie-kar ry. ’n Weldoener wat waardering het vir sy mooi werk in dié land skenk aan hom ’n kar om hom te help. Hulle wys vir hom hoe om dit aan te skakel, petrol te trap en die stuurwiel te gebruik. Niemand vertel hom egter hoe om die handrem los te maak nie – dus ry hy met moeite teen sowat 20 km per uur. Hy weet ook nie hoe die ligte werk nie. Daarom bestuur hy maar die voertuig net in die dag. En so hou hy aan … bedags teen maksimum 20 km per uur, salig onbewus van al die moontlikhede en funksies daarvan – die karradio, lugversorging, windveërs ens.

Klink dit bekend? Dis die storie van baie mense se lewens. Omdat ek myself nie ken nie, “bestuur” ek myself nie volgens my potensiaal nie.

In elke mens wemel dit van Godgegewe potensiaal – fisies, verstandelik, emosioneel en geestelik. Maar soms is die handrem op. ’n Handrem is iets in jou wat jou terughou of jou spoed keer. Iets soos denke of emosies waarvan jy losgemaak kan word. Hier is twee voorbeelde:

  • My verlede: moeilike kinderjare of ’n slegte werkgeskiedenis sover: Dit rem jou en hou jou vas. In jou kop leef die oortuiging dat jy ’n slagoffer van jou verlede is: soos my verlede was, so sal my toekoms ook wees.. Wanneer nuwe geleenthede opduik, dink jy terug waar jy vandaan kom en ervaar ’n emosionele verlamming. Die harde feit is dat geweldig baie suksesvolle mense uit ‘n arm verlede en baie mislukkings kom. In plaas daarvan dat dit hulle rem, maak dit hulle meer doelgerig om daaruit te kom en hulle drome te verwesenlik.Die storie word vertel van die tweelingbroers – die een ’n welvarende sjururg; die ander ’n armsalige boemelaar. Vir beide is gevra: “waarom lyk jou lewe en loopbaan soos dit vandag is?” Beide se antwoord was: “My pa was ’n alkoholis en het ons geslaan, ons het swaar grootgeword, en ons ouerhuis was ongelukkig”.Dieselfde agtergrond … verskillende reaksies – jou keuse om te kies! Jy kan óf reageer in jou omstandighede en ’n slagoffer word, óf regeer daaroor en die wenner wees wat jy bestem is om te wees.Loopbaan-mislukkings is dikwels die geboorteplek van nuwe geleenthede. Die voorwaarde: Kies dat dit so sal wees! Maak klaar met die verlede. Vergewe en vergeet, word heel en kry hulp daarvoor as dit moet, leer daaruit, en beweeg aan met die moontlikhede in en om jou.
  • Verskonings, bv gebrekkige kwalifikasies of my omstandighede: As ons verskoning wil maak, sal ons hulle altyd kry. Verskonings is handremme omdat dit jou denke inperk en jou oë verblind.Ek het onlangs ’n span mense op ’n buitelug selfontwikkeling- en spanbouproses geneem. As deel van die proses moes hulle oor ’n touleer loop – 10 meter bo die grond! Hulle kon kies waarop hulle fokus: die lissies (dwarstoue) waarop kan trap of die afgrond – met ander woorde: op dit wat jy tot jou beskikking het, of dit wat jy nie het nie. Natuurlik was die oplossing: fokus op wat jy het en gebruik dit.As kwalifikasies die probleem is, besluit wat jy daaromtrent gaan doen in die lig van jou omstandighede, finansies en jou ouderdom. Kies dan om die beste gebruik te maak van elke geleentheid, en van wat jy reeds het en is. Jy is net ’n slagoffer as jy kies om dit te (bly) wees.

Jy kan seker self nog aan ’n hele paar handremme dink, soos slegte gewoontes, negatiewe en pessimistiese denkpatrone, kroniese bekommernisse en vrese, swak tydsbestuur, die feit dat jy negatiewe goed glo wat mense oor jou uitgespreek het, die negatiewe invloed wat jou baas het, probleme met jou fisieke gesondheid, minderwaardigheid, en onopgeloste konflikte met mense naby jou.

Dalk is dit nou die tyd om die handremme los te maak? Enige groei-proses gaan deur 4 fases, die 4 b’s:

  1. Bewus: wees nugter oor die “plek” waar jy nou is met hierdie handremme en neem verantwoordelikheid;
  2. Besin waar jy wil uitkom;
  3. Beplan: Kyk na jou opsies en stel ’n aksie-plan op om daar te kom; en
  4. Bestuur en voer die plan aktief deur.

Meer prakties kan jy handremme so losmaak:

  • Bewus: Maak eerlik ’n lysie van jou handremme wat jou deesdae die meeste terughou. Dink aan ’n skaal van 1 tot 10, waar die slegste handrem-scenario 1 is, en 10 die beste. Beskryf hoe ‘n 1 (die slegste) en ‘n 10 (die beste situasies) sal lyk. Plaas jouself dan op die skaal en beskryf hoe dit lyk.
  • Besin: besluit oor jou doelwitte – wanneer wil jy watter handremme los hê sodat dit jou nie meer terughou nie en jy vry kan wees om voluit te gaan. Beskryf prakties hoe jy sal weet as die handremme los is.
  • Beplan: Die oplossings lê gewoonlik in ons en voor ons – waarheid wat die lewe en God self reeds daar geplaas het. Wat moet by jou gebeur om by ‘n 10 (die ideaal, sonder die handreme) uit te kom? Wat kan jy self doen? Leer uit jou verlede toe jy met soortgelyke handremme gesukkel het, en dit oorkom het. Wat het jy gedoen en wat kan jy daaruit leer? Hoe kan jy dit nou toepas? Wat kan jy uit ander se lewens leer? Wat is jou opsies? Maak jou eie plan.
  • Bestuur: Gaan oor tot aksie en doen wat jy weet jy kan doen om die handremme los te maak.

Party van ons sal nog ‘n 5de “B” wil byvoeg: Bid! Dit help altyd.
Wat jy ookal doen, wees wys en maak die handrem los. En laat waai!

Share