Hoekom wil party goeie spanne net nie die verwagte resultate lewer nie? Kom ons kyk hier maar na een aspek.
Soms is ons in besigheid soos die ou wat met sy Jeep met Feraris kompeteer as dit by spoed kom. Of ons wil met ’n Ferari die bosse aandurf en word deur die Jeep agtergelaat. Dit werk nie en kan jou moedeloos en frustreerd laat voel. Diep in jou weet jy intuitief dat jou kompeterende sterkpunt elders lê en sluimer. Jy sukkel om die sterkpunte raak te sien en raak soms moedeloos omdat jou span mense of besigheid nie presteer soos jy dit graag wil sien nie.
Van die beste raad wat die navorser Jim Collins gee, is: maak seker dat jy die regte mense op die regte plekke het. Besluit eers dan waarheen jy wil gaan en hóé. Ander verwys hierna as “competency management” of talent-bestuur. Só fokus jy op dit wat jy en jou mense die beste kan doen.
In ’n Gallup-studie onder 80 000 bestuurders en meer as 1miljoen werkers is gepoog om agter te kom wat die mees suksesvolle bestuurders so suksesvol maak. Hoe kry hulle dit reg om hulle mense soveel beter te bestuur? Skokkend is bevind dat hulle baie van die konvensionle reëls breek. Hulle glo nie dat genoeg opleiding ’n persoon sal help om feitlik enigiets te bereik as hy daarop fokus nie. Hulle probeer ook nie mense help om hulle swakpunte te oorkom nie. Verder oortree hulle die “goue reël” en behandel mense op verskillende maniere. Ja, dit lyk of hulle vir party meer aandag en insette gee as ander!
Marcus Buckingham sê meeste mense en besighede glo iets van die volgende mites:
- Elke persoon kan leer om in feitlik enigiets goed te wees.
- Elke persoon se grootste groei is in die areas van sy swakpunte.
In lyn hiermee word personeel aan ’n groot verskeidenheid opleiding en werkswinkels blootgestel sodat soveel as moontlik van die personeel in soveel as moontlik vaardighede ontwikkel word. In prestasiemetings word sterkpunte en swakpunte geidentifiseer. Die swakpunte noem ons dan “groei-areas”, met die gedagte dat die persoon sy ontwikkeling moet fokus in die areas waarin hy swak is. Die aanname is dat hoe meer ’n mens jou swakpunte verbeter, hoe beter resultate lewer jy. Ongelukkig gebeur dit dat mens later so vasgevang en emosioneel verlam raak deur op jou probleem-areas te fokus dat jou motivering afneem om in die areas van jou sterkpunte te presteer.
Die waarheid lyk volgens Buckingham egter totaal anders as wat ons konvensioneel sou wou glo. In die studie is die volgende bevind:
- Elke persoon se talente-kombinasie is iets wat homself spontaan aanhou wys in herhalende en amper spontane gedrag, en uniek is aan die persoon.
- Elke persoon se grootste ruimte vir groei is in die areas van sy grootste sterkpunte.
Die storie word vertel van die diereskool. Die eend, uil, eekhorinkie, hasie en waterslang moes die vakke swem, vlieg, hardloop en klim neem. Op die ou einde was eend se been gebreek van boomklim, eekhoring herstel nog na hy amper verdrink het; uil het sy vlerk ontwrig met die hardlopery en hasie se rug is seer toe hy na die boomklimlesse baie ver en baie hard geval het. Net die ruggraatlose waterslang wat in niks uitgeblink het nie, is nog taamlik heel – hy ontvang die prys vir die beste student. Die ander hinkepink huis toe … Die les van die storie? As jy wil uitblink, fokus op jou sterkpunte, anders is selfs jou sterkpunte later daarmee heen.
Suksesvolle bestuurders en leiers weet dat mense oor die algemeen nie baie verander nie Hulle het geleer om nie tyd te mors om te probeer “reg maak wat kort kom” nie, maar om eerder voluit dit te benut wat “alreeds daar” is. Dus: ’n sterkpunt-gebaseerde fokus.
As ’n spesifieke kelner in ’n restaurant uitstekend met die kliënte werk, maar swak is met admin en kasregisterwerk, laat die uitnemende bestuurder haar meer met die kliënte werk en kry vir haar hulp met die ander dinge of skep ondersteuningsisteme om dit veral haar makliker te maak. As hy dit nie doen nie, kan die kelnerin so fokus op dit waarin sy swak is, dat haar uitstaande vermoëns in die niet verdwyn.
Meeste mense wat hier lees, sal voel dat hierdie waarhede so voor die hand liggend is dat die beslis nie miljoene rande se navorsing behoort te verg nie.
Prakties, wat kan jy as bestuurder in die lig hiervan doen?
- Wanneer jy mense aanstel, kyk verder as kwalifikasies, wilskrag en ervaring. Soek na ware natuurlike talent wat spontaan oor en oor manifesteer.
- Definieer mense se rolle eerder in terme van uitkomste, in plaas van die presiese stappe om daar te kom. So skep jy die geleenthede dat jou mense hulle sterkpunte kan gebruik om daar te kom.
- Wanneer jy mense bevorder, probeer hulle beste sterkpunte belyn met die besigheid se visie. Moenie net kyk na die volgende trap boontoe nie.
- Wanneer jy jou mense motiveer, fokus op hulle sterkpunte en suksesse. So spoor jy hulle aan om nog meer met hulle sterkpunte suksesvol te wees.
Volgende keer meer oor die eienskappe wat goeie spanne suksesvol maak.
(Lees gerus die boeke van Marcus Buckingham: First, break all the rules; asook Now, discover your strengths. En besoek die webwerf www.strenghtsfinder.com )