Quinton Adams, ‘n opvoedkundige sielkundige, het onlangs op RSG vertel hoe hy mense in plakkerskampe help om hulle “shacks” te herbou. Eers moet die ou struktuur afgebreek word. Al die gemors, al die “noodmaatreëls, swak en vrot materiaal, alles wat deel van die oorlewingstryd was, word afgebreek en weggegooi. En dan word daar op dieselfde plek ‘n nuwe gebou opgerig – met stewige fondasies, goeie materiaal wat wind en weer kan weerstaan. ‘n Nuwe gebou waarop hulle trots kan wees.
Quinton praat van Deconstruct to Reconstruct – afbreek om op te bou. Dit is ook eintlik wat in die proses met die mense gebeur. En hierdie prentjie is eintlik ‘n metafoor van ons elkeen se lewe:
- Die lewe gebeur met jou en dan bou jy maar reaktief – op jou manier, met jou insig, met die oorskietmateriaal wat jy in die hande kan kry. En baie keer bou jy op gebrekkige of geen fondasies. Die pondokkie is maar wankelrig, nie altyd so aangenaam om in te bly nie, en sy inwoners leef maar ‘n oorlewingstryd. As die storms kom, is die gevolge tragies.
- Om die proses om te keer, moet jy eers tot insig kom dat ‘n beter lewe moontlik is en bereid wees om die oue te laat gaan. En dan moet die afbreek-proses begin. Emosioneel beteken dit om die ou seer en hartseer, bitterheid en swaar, te laat gaan. Verstandelik beteken dit om bereid te wees om die ou maniere van dink en glo te laat gaan. Op gedragsvlak moet jy ou gewoontes en reaksies afleer. Dit is in praktyk ook ‘n heelword-proses.
- Tegelyk kan die heropbou begin – met nuwe denke, nuwe emosies, nuwe verhoudinge en nuwe gedrag. Afbreek en opbou oorvleuel as dit by mense kom. Stadig maar seker kan jy ‘n nuwe lewe opbou – op nuwe fondasies, met nuwe “materiaal”. En dan word dit al meer ‘n lewe waarop jy met reg dankbaar en trots kan wees (sonder om jouself hoogmoedig of minderwaardig met ander te vergelyk).
Vandag wonder ek sommer: wat moet ek en jy laat gaan om die nuwe lewe te kan laat kom? Dit vra ‘n bereidwilligheid om aan die wyse en liefdevolle Bouer oor te gee sodat jy saam met Hom kan bou. Dit is ‘n samewerkende en lewenslange proses.
In ons onmiddelike kring stap ek en Mariëtte met iemand so ‘n pad. En ons is al klaar nuuskierig om te sien wat die “produk” van die afbreek- en opbouproses gaan wees. Soms is daar baie trane, soms frustrasie, en ander kere weer groot blydskap en vreugde as die deurbrake kom. Mag ons hoopvol voortbou in sinergie met die groot Bouer…
Baie seën en sterkte – ook met jou bouproses(se) in jou eie en ander se lewens!