Nuusbrief 7 in 2018

‘n Wonderlike oom wat al jare ons karre diens, het laasweek na ‘n huwelik van 51-jaar sy vrou aan die dood afgestaan. Hy sê: “Dit is ‘n lang tyd saam en tog voel dit of die tyd verbygevlieg het”. Hy het saam met van sy kinders na foto’s gekyk en met dankbaarheid van die mooi tye in herinnering geroep. Volgens hom was daar soms moeilike tye, maar in geheel is dit ‘n positiewe en mooi storie van saam dinge doen en saamstaan. Die oom is hard geslaan, maar beslis nie platgeslaan nie. En selfs dankbaar – nie oor haar dood nie, maar oor die mooi wat was!

Die feit dat ‘n mens elke dag met jou lewe ‘n “storie” of lewensverhaal “skryf”, het my in die laaste tyd aan die dink gesit. Ook die vraag: hoe sinvol is dit als?

So ‘n klompie jare terug het ons ‘n goeie vriendin begrawe. Anelle was nie hoog geleerd, ryk, of prominent in die samelewing nie, en het nie hoë posisies beklee nie. Sy was ‘n enkelma van twee kinders wat haar man op ‘n jong leeftyd verloor het. En soms moes sy spook om rekeninge te betaal, magies vol te kry en die lewe te laat werk. Maar haar lewe het oral mooi “spore” gelos.

Met haar begrafnis was die kerk gepak. Na die tyd kon ek met ‘n paar mense gesels, onder andere met haar baas vir wie sy ‘n sekretaresse en assistant was. Ek het hom vertel dat sy altyd met baie waardering van hom gepraat het. Maar toe maak die man sy mond oop en vertel wat sy vir hom beteken het, en sê: “She meant far more to me than I could ever mean to her”. En so het ander ook getuig. Hierdie enkellopende mamma, met foute en al, was altyd op die uitkyk vir wie sy kan help of seën – met eenvoudige goed, soos om byvoorbeeld ‘n koek te bak vir ‘n kollega se verjaarsdag, vir jou ‘n bemoedigende kaartjie te gee, of ‘n “spot-on” Bybelvers of gedagte aan te stuur, of in te val vir ‘n koppie koffie. Sy was arm aan aardse goed, maar in verhoudinge en geestelik, skatryk.

Hier is ‘n paar dinge wat ek uit hierdie en ander se lewenstories leer:

  • Vertrekpunte: Jou lewenswaardes en lewensuitkyk bepaal baie van jou besluite en aksies. Wat jy as belangrik ag, het ‘n direkte invloed op wat jy voel en doen. En dit bepaal wat jou lewe word.
  • Proaktief teenoor Reaktief: ‘n Mens kan nie altyd kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan altyd kies hoe jy daarop reageer. Dis jou keuse, en jou keuse gee jou vryheid om voluit te lewe.
  • Emosies: Emosies kan jou beheer, inhibeer en vashou; óf jy kan emosies beheer en bestuur. En deur positief te dink en op te tree, kan jy kies hoe jy voel.
  • Positiewe en dankbare lewensingesteldheid:  Om doelbewus die mooi in ander en die lewe om jou raak te sien en te waardeer, maak die lewe vir jouself en ander soveel beter en lekkerder. Dit laat ook jou brein goeie hormone afskei wat jou liggaam gesond en lekker laat voel. Dit laat jou meer glimlag – en dit maak jou mooi!
  • Liefde: Om vir jouself en jou eie gemak te lewe, maak die lewe leeg en eensaam. ‘n Bietjie liefde, omgee, komplimente en belangstelling beteken baie vir ander, maar doen jouself ook goed.
  • Humor: Om vir jouself, ‘n goeie grap of die snaaksighede te lag, is soms lekkerder as die lekkerste kos!
  • Identiteit: Om vrede met jouself te hê en gelukkig en tevrede met jou menswees te wees, maak dit soveel makliker om te groei en om die lewe te geniet. En as jy oukei is met jouself, is dit soveel makliker vir die mense om jou én ook vir jouself.
  • Wysheid: Om nie maar net van dag tot dag te lewe nie, maar bewustelik die beste te maak van die “kaarte” wat jou toegedeel is en die oorvloed van geleenthede om jou – dit is wysheid.

Op die ou einde lê ons waarde nie in wat ander van ons sê of oor ons vertel nie. Ook nie in hoeveel mense my begrafnis bywoon nie. Maar eerder of dit ‘n lewe is wat goed gelewe is, vir God gelewe is, en ander se lewens betekenisvol aangeraak het. Om dit te kan regkry, is groot genade.

Die lewe is ‘n gawe, en dis kort. Kom ons lewe voluit!

Share