Dit help nogal om die regte gereedskap te hê. Jy kan skroewe in- en uitdraai met ‘n tafelmes, maar ‘n skroewedraaier werk beter en vinniger… Dieselfde geld vir gereedskap om alledaagse probleme op te los.
Een van die stukke “gereedskap” wat ek my kliënte leer, is die G-R-O-W-model. Ek was verstom toe ek hoor hoe ‘n man as leier in sy gesin en wyer familie die proses gebruik het om groot familie-probleme te hanteer. Hulle bejaarde ouers was vasgevang in soveel gesondheids- en emosionele probleme dat die horison donker gelyk het en baie spanning op verhoudinge gelaai het. Hy (kom ek noem hom John) het in die kar geklim, oor die 500 km gery.
En so het hy die gesprek gehanteer:
- G = Goals: Wat is julle drome? Wat wil julle graag nou in die onmiddelike toekoms hê? Oupa wou sy geliefde stokperdjie weer beoefen. Ouma wou alleen by ‘n familielid gaan kuier. En toe het John ook so twee van hulle drome bygevoeg.
- R = Realiteite: Wat is nou die harde realiteite van julle gesondheid, kragte om alledaagse dinge te doen, blyplek, finansies, lewensverwagting? Dit was moeilik, maar op die ou einde ‘n goeie en eerlike gesprek. As ‘n mens die realiteite definieer, kan jy dit baie beter bestuur en hanteer.
- O = Opsies: Wat is al die moontlike opsies en keuses wat ons het om by ons gesamentlike doelwitte vir julle lewens en lewenskwaliteit uit te kom? Dit het tyd gevat, maar op die ou einde is klomp moontlikhede en geleenthede raakgesien. (Soms kan dit uitdagend en vermoeiend wees, want mens kyk so vas teen die uitdagings, maar na so ‘n ruk, skop jou kop in en begin jy die geleenthede raaksien en raak jy meer kreatief. Soms kort mens hulp en insette van kundiges – en dit kan een van die opsies wees: kom ons raadpleeg ‘n kundige hieroor.)
- W = Way forward: Kom ons kies nou die beste opsies, en stel ‘n plan van aksie saam. John-hulle was baie prakties. Elke werkbare opsie het ‘n paar aksiestappe gevra: bel daardie persoon, koop dit by daardie winkel, reël ‘n afspraak… ens. Deel daarvan was om hospis te skakel, met skoonmaakdienste te kontrakteer, winkels toe te gaan en stokperdjie-toerusting te koop, ouma se buskaartjie te koop.
John is ‘n baie besige man met ‘n veeleisende beroep, maar het vier dae oorgebly – vier dae wat reuse skuiwe en enorme impak op die situasie gemaak het. Alles is nie skielik ‘n utopia nie, maar klomp basiese dinge is in plek, en vordering is gemaak.
Hierdie GROW-model is ‘n baie handige proses om jouself of ander te help om verby ‘n punt van vashak en stagnasie en/of pyn en disfunksionaliteit te kom. Individue, spanne, huwelike, families, besighede kom soms by ‘n punt van verlamming, hulpeloosheid en moedeloosheid waar die probleme só baie, só kompleks, en só emosioneel gelaai is dat jy net nie weet hoe om vorentoe te gaan nie.
Oorweeg dit om hierdie proses te gebruik – nie net om probleme op te los nie, maar jou lewe beter, gelukkiger, suksesvoller en meer tot eer van God te maak. Soms help dit om die proses biddend saam met die Here in jou stiltetyd deur te praat. Hoe jy dit ookal benader, onthou ons Here is daar om jou in jou denkprosesse te help. Vra hom gerus om jou kop oop te maak vir die beste pad vorentoe.
Onthou: volgens Genesis 1 is jy aangestel as regeerder om koninklik hier op planeet aarde te leef, nie as slagoffer nie. Mag ons ons uitdagings in die oë kyk, verantwoordelikheid aanvaar, oplossings en beter strategieë soek, en dit moedig implementeer!
En mag jy voluit lewe en mag jou lewe betekenisvol en gelukkig wees! Als van die mooiste.