Die afgelope tyd het die tropiese storm Harvey oor Louisiana gewoed en miljarde dollars se skade berokken. Intussen word mooi stories vertel oor dapper mense wat dapper dinge gedoen het.
“When the going gets tough, the tough gets going”.
Die harde feite is: die lewe is vol allerhande soorte storms – jy is óf in een, óf jy kom pas uit een, óf jy is op pad na een toe. En in die storm voel dinge buite beheer. Die waarheid is dat dinge dikwels buite ons beheer is, maar nooit buite God se beheer nie. Die beste manier om deur storms te gaan, is met geloof en moed. En ek praat nou van geloof in God én die moed wat ons as gevolg daarvan kry.
En tog, as dit by vertroue in God kom, sukkel ons dikwels – ons wil ons eie planne maak en dinge self hanteer. In Markus 6 lees ons hoe Jesus ‘n skare warvan die mans alleen 5000 was, gevoed het met 5 brode en 2 vissies. Die dissipels het die wonderwerk gesien en ervaar. Maar ‘n paar uur later, toe hulle in die bootjie op die meer in die storm in die moeilikheid kom, was die geloof min. Toe Jesus op die water na hulle toe aangeloop kom, sien hulle Hom aan as ‘n spook en skree van angs. Hy het hulle gerusgestel en by hulle in die boot geklim. En die storm het bedaar.
Markus 6:52-53 sê die dissipels was uitermate verbaas en verwonderd, want hulle het nie die vorige wonder oor die vermeerdering van die brode verstaan nie, en hulle harte was verhard. Hulle het dus ‘n probleem met leerbaarheid en ontvanklikheid gehad. Harde harte! Hulle het die wonderwerk gesien, maar vir Jesus misgekyk. Hulle het Hom nie leer ken en vertrou nie, net die brood gesien. En hulle nie uit die verlede geleer om vir die toekoms te vertrou nie. Harde harte laat ons uitmis op ‘n vrugbare lewe in geloof met moed en ‘n fokus op God.
Toe ek onlangs geloof moes verduidelik, het ek ‘n stoel gevat en soos volg verduidelik: Ek kan als van hierdie stoel af weet – waarvan dit gemaak is (hout, plastiek, skroewe ens). Ek kan sy lof besing, boeke daaroor lees, dit bemark, en dit bewonder. Maar solank ek nie daarop gaan sit nie, sal dit nie vir my werk nie. Dis baie keer hoe ons met God maak. Ons weet van Hom, lees oor Hom. praat oor Hom, besing sy lof. Maar as ons nie in ons alledaagse praktyk ons geloof en vertroue in Hom plaas en saam met Hom waag nie, mis ons uit op sy krag en werklikheid.
Verstaan my mooi: ek praat nie van geloof in geloof nie: “Glo net, en als waarvoor jy hoop, sal gebeur”. Dis baie gevaarlik en die borrel kan in jou gesig onplof. Ek praat eerder van geloof in God – dat as jy sy wil soek en dit in vertroue op Hom doen, sal jy sy krag en nabyheid ervaar.
Augustinus het gesê:
Faith is believing what you do not see;
and the result of that faith is to see what you believed.
Die kuns is baie keer om aan te hou vertrou as dinge totaal uit beheer lyk. In sulke tye, waarin vrees en benoudheid ons wil laat terugdeins, kan ons in geloof na God opkyk, en aanhou vorentoe beweeg. Dikwels is al wat jy moet doen, eenvoudig om die een voet voor die ander te sit en aan te hou beweeg – nie terug nie, nie om die storm nie, maar saam met God deur die storm.
Sterkte vir die storms, klein en groot. Ons Here is by jou!