Ek is onlangs deur iemand gekontak om hom te help. Sy besigheid sukkel en dit lyk of die drome wat hy daaroor gedroom het en waarvoor hy so hard gewerk het, nie gaan realiseer nie. Ek ken daai gevoel – of dit nou dinge met jou werk, huwelik, gesondheid, kinders of wat ookal is wat skeef loop – jy voel ontnugter, ontmoedig, moedeloos en hopeloos.
Hierdie jongman is nie die eerste een en sal nie die laaste een wees om te ervaar hoe ‘n mens se drome platgeslaan en verpletter kan word nie. En die ding is, dis nie net jou drome wat seergemaak en verpletter word nie, maar ook jyself.
Ek het al op hierdie nuusbrief vertel hoe my drome om ‘n groot kerk wat groot impak kan maak, te bou, verpletter is. Ons was so mooi op pad toe ego’s, ‘n “Babelse verwarring” en onenigheid in ons leierkring, en my eie onvermoë om dit te beredder, als laat platval het. Ek het bedank en gevoel of ek uitgegooi is in die koue: sonder inkomste en invloed, en sonder status of sekuriteit.
Hierdie maand, wat Vroue-maand is, is ek gevra om by ‘n (Engelse) manne-ontbyt te praat. So, toe kies ek om met die manne uit die boek Rut te praat, met die volgende tema:
From Shattered Dreams to God’s Dreams!
Naomi se naam beteken “die populêre een” of “aangenaamheid”. Haar man se naam, Elimeleg, beteken “My God is Koning”. En na hulle troue het hulle in Bethlehem (letterlik “huis van brood) gaan woon. Alles klink so profeties (“pregnant”) vir ‘n mooi, wonderlike lewe in oorvloed.
Haar seuns is gebore: Maglon beteken “Siekte” – hy was seker siekerig by geboorte. En toe kom Kiljon wat beteken “Dis klaar” – dit was seker ‘n moeilike geboorte en sy het besluit dis nou genoeg, dis klaar. Toe daar ‘n droogte in die land kom, met al die eknomomiese en politieke kwessies wat dit bring, emigreer hulle na die land Moab toe. (Moab beteken bloedskande – na aanleiding van Lot se dogter wat haar pa dronk gemaak het en so haarself by hom swanger gekry het.)
En daar in Moab loop als verkeerd. Eers sterf Elimeleg, en sy word ‘n weduwee. Haar twee seuns het ook getrou, maar altwee sterf kinderloos. En so is sy ‘n weduwee met twee skoondogters, beide nou ook weduwees. Toe sy besluit om terug te gaan Betlehem toe, wou altwee saam, maar net Rut is toe op die oue einde saam. Die mense was so bly om haar te sien, maar sy vra hulle om haar “Mara”, wat bitterheid beteken, te noem – want “vol is ek weg, leeg het ek teruggekom – die Here het teen my gedraai”.
Al haar drome is verpletter!!
Maar die storie eindig nie daar nie. Gaan lees Rut 2 en 3 hoe Rut vir Boas ontmoet en hoe Naomi haar begelei in die wetlike en praktiese aspekte tot hulle troue.
Die storie gaan voort tot waar Rut swanger word en geboort gee aan Obed. Naomi het die seuntjie in haar hande geneem en hom as haar eie geneem. Obed was die oupa van Dawid, die groot koning, wat die voorvader was van die groot Messias, Jesus Christus.
Haar drome is verpletter- uiteindelik kon sy God se drome in haar hande vashou!
Vandag is ek nie meer predikant nie, maar ek doen dinge wat my enorme vervulling gee. Elke dag kan ek mense, spanne, organisasies help ontwikkel en potensiaal ontsluit. Gereeld preek ek nog – op uitnodiging. My drome moes sterf sodat ek (nog meer) ‘n veranderingsagent, potensiaal-ontsluiter, impakspeler kon word. Ek glo ek hou nou God se droom in my hande vas – in elk geval die droom vir nou…
Hoe lyk dit met jou drome, teleurstellings, ontnugterings? Is daar elemente van Mara (bitterheid) in jou hart, wat jou blind maak vir God se seëninge en drome vir jou. Dalk moet jy “laat gaan” van ‘n paar drome en maniere van dink en doen. Alleen dan kan jy “laat kom” van nuwe realiteite en moontlikhede – en dan kan jy God se drome en planne vir nóú laat realiseer.
God is nog nie klaar met jou nie. Sy planne is dalk anders as joune. Die kuns is nie om God deel te maak van jou planne nie, maar deel te word van syne. Mag jy die pad vind!!
Sterkte daarmee!