Prediker sê dat wat is, was alreeds. En dit is sekerlik waar van baie dinge, maar tog is die spoed waarteen baie dinge tans verander ongekend.
Op die afgelope Wêreld Ekonomiese Forum (in Maart 2017) was die tema “The Fourth Industrial Revolution”. Die ontwikkelinge het ‘n pad geloop van Meganisering na Elektrifisering na Outomatisering en nou kom Digitalisering. Die konsensus is dat ‘n nuwe wêreld aan die ontwikkel is, ‘n wêreld waarin die wese van menswees en die samelewing aan die verander is. Dit raak alles: ons privaatheid, hoe ons mense sal ontmoet en verhoudinge sal koester, hoe ons koop en verkoop, hoe en waar ons bly, ons kommunikasie, loopbane, hoe oud mense gaan word, vervoer, hoe ons breine en denkprosesse verander, en gevolglik hoe ons betekenis aan ons bestaan op aarde sal (probeer) gee.
Lees gerus hierdie artikel op internet: https://www.weforum.org/agenda/2016/01/the-fourth-industrial-revolution-what-it-means-and-how-to-respond
Daar word ook verwys na ‘n sogenaamde VUCA realiteit. VUCA is ‘n akroniem vir die volgende:
- Volatility: die aard, spoed, volume, dinamika van verandering.
- Uncertainty: die feit dat die toekoms onvoorspelbaar en onbeheerbaar is.
- Complexity: dis meer as “ingewikkeldheid” – eerder dat daar meestal nie meer maklik-verklaarbare oorsaak en gevolg prosesse is nie, maar dat klomp faktore in ‘n ‘n sisteem interaktief mekaar beïnvloed sodat dit amper chaoties voorkom.
- Ambiguity: die feit dat ons realiteite nie meer swart en wit, reg en verkeerd, is nie maar gemengde betekenisse kan hê.
Kom ek gee voorbeelde: Tegnologie verander en ontwikkel teen ‘n spoed. Nie alles is noodwendig goed nie, en baie hang af van hoe jy dit gebruik. Hulle praat van kunsmatige intelligensie – met tegnologie kan jy soveel beter dink en skep as daarsonder, en rekenaars skep en ontwikkel vanself nuwe inligting en toepassings. Ons google alles, jou selfoon en tablet word ‘n verlengstuk van jouself. Voertuie gaan vorentoe hulself bestuur, baie veiliger en beter as wat selfs goeie menslike bestuurders kan.
Die politieke en ekonomiese speelvelde verander soms oornag. Nuwe leiers en nuwe entrepeneurs bring partykeer drastiese verskuiwings teweeg. Laasjaar sien ons hoe klomp politieke landskappe van liberaal na konserwatief skuif. Vanjaar lyk die tendense heelwat anders. Soos al opgemerk is: “die toekoms is nie meer wat dit was nie” – bedoelende dat ons baie minder weet van dit wat kan voorlê.
Die vraag is, hoe posisioneer jy jouself in so ‘n wêreld. Ek dink ons moet hieroor saamdink, maar hier is ‘n paar gedagtes:
- Refleksie: Kom gereeld tot stilstand om te reflekteer oor wat in jou en om jou aangaan. Ons is soms só aan die gang en leef net voort dat ons konneksie en bewustheid verloor. Stop, dink en bid, skryf in jou joernaal, hoor God se stem.
- Identiteit en Betekenis: Wees seker van jou identiteit – wie jy is en wat jy besig is om te word. Wat is jou waardes, hoekom is jy hier op aarde, watter beginsels rig jou lewe?
- Proaktiwiteit: Neem verantwoordelikheid vir jou eie lewe – hoe jy dink en lewe, en hoe jy kies om op die lewe om jou te reageer.
- Regeer: Moenie dat tegnologie of verandering jou regeer of oorheers nie. Jy as mens is steeds deel van die kroon van die skepping. Jy is geskep om oor die skepping (ook oor die mens se skeppinge) te heers.
- Openheid en geankerdheid: Wees aanpasbaar en leef realisties met verandering saam, met jou voete plat op die aarde. Wees gemaklik met jouself en moenie dat ego, selfgesentreerdheid, en vrese jou dryf nie.
- Voortdurende leerbaarheid: Om in die toekomstige wêreld sinvol te bly werk en leef, sal jy jou kennis moet ontwikkel soos jy aangaan. Wat gegradueeerdes laasjaar geleer het, was toe alreeds aan die verouder en rus jou nie volledig toe vir wat voorlê nie.
- Kreatief en innoverend: Die veranderinge bring nuwe geleenthede. Sien dit raak en benut dit wat in jou veld en binne jou bereik is. Veranderinge is soos golwe van die see – vol energie en potensiaal. Ry die golwe van verandering, anders loop dit oor jou. En neem deel aan die skeppingsproses.
- Verhoudinge: Leef as mens tussen ander mense. Ons is gemaak om lief te hê, om ons lewens en geluk te deel, om op gesteun te word en op ander te steun. Wees empaties, praat een-op-een, onthou om te luister en dáár te wees vir jou naaste mense. “Motho o motho ka batho” – ‘n mens is (waarlik) ‘n mens deur mense. Dit sal nie verander nie.
God was in die verlede, Hy is in die hede, en sal in die toekoms steeds daar wees. Kom ons loop die toekoms saam met Hom binne. Heers oor jou vrese. Wees veilig in Hom. Leef voluit!