Nuusbrief 5 in 2017

Na president Jacob Zuma se parlementskommeling en die land se finansiële afgradering na Rommelstatus, noem ek teenoor ‘n swart vriend by die kerk dat “things are now really falling apart”. Sy spontane antwoord was: “Maybe they are falling in place?”.

Dit is natuurlik die meer Bybelse antwoord omdat ons lees dat alles “ten goede meewerk vir dié wat die Here liefhet” (Rom 8:28). “Ten goede meewerk”? Ja, want daar is mos ‘n groter plan wat ons nie altyd verstaan of nou al sien nie. Mnr. Jacob Zuma mag president van die land wees, maar God is Koning oor sy Koninkryk, wat beslis Suid-Afrika insluit.

Ons is duidelik in die middel van ‘n groot veranderingsproses (en dit gebeur natuurlik ook in ander wêrelddele ook).

En kyk net hoe het dinge in ons land al begin “ten goede” meewerk:

  • Swart en wit het openlik oor rasse- en politieke grense begin hande vat teen korrupsie en verval in ons land. Groot optogte is gehou om dit te demonstreer.
  • Binne die ANC het van die top ses leiers en baie ander senior leiers openlik beswaar aangeteken teen hoe dinge gedoen word – met ‘n beroep vir deursigtiger en meer morele leierskap. Toesmeerdery word al meer afgewys, en verkeerd word as verkeerd aangewys.
  • Die groter politieke speelveld lyk baie anders nou as een of twee maande terug – die gevoel is een van iets nuuts wat ontwikkel. En beslis is mense besig om met nuwe oë te kyk na wie hulle wil ondersteun. Steunbasisse skuif.
  • Op Bloemfontein en ook regoor die land bid miljoene mense saam op 22 April. Vanuit Bloemfontein alleen het soveel getuienis van nuwe gesindhede en God se teenwoordigheid gekom. Baie moedelose, gefrustreerde en teleurgestelde mense stap hoopvol daar weeg – bereid om hand in eie boesem te steek en by hulleself te begin. Sommiges glo hier kom ‘n herlewing.
  • Op regeringsvlak is daar in verskeie kringe saamgebid, selfs in parlementsgeboue.
  • Drie oud-presidente (met internetverbinding met een oud-adjunk-president) kom met afgevaardigdes van verskeie invloedryke stigtings bymekaar om saam te dink en te praat oor ‘n beter pad vorentoe.
  • En in baie swart, bruin, wit en Indiër Suid-Afrikaners se harte leef daar ‘n sterk optimistiese begeerte na iets anders, iets beters, iets nuuts.

Ja,ja, ek weet daar was ‘n paar slegte goed ook. Maar party mense verwys inderdaad na Suid-Afrika as ‘n land wat in barensnood is vir iets nuuts. ‘n Tyd soos hierdie kan baie verwarrend wees, en dinge kan inderdaad in ‘n verkeerde rigting ook gaan. En enige veranderingsproses het sy pyne en ongelukke. Dit is egter in só ‘n tyd waarin ek en jy moet kies om deel van die oplossing te wees, eerder as die probleem; om positiewe verhoudinge en groei en verandering aan te help, eerder as om te kla en te beledig; en om te bid. Die primitiewe brein wil “veg” of “vlug” of “vries”. Positiewe dialoog, saam glo en hoop, en saam oplossings soek, is die meer intelligente opsie.

Ons kan nie kies in watter tyd of omstandighede ons gebore word en leef nie, maar ons kan beslis kies hoe ons daarop reageer en wat ons daarvan maak. Dit is in tye soos hierdie dat helde gebore word, dat ambassadeurs van die Koninkryk hulle ware kleure wys, dat die geskiedenis beinvloed en positief gestuur kan word; dat iets nuuts geskep word omdat mense kies om die geleenthede te sien en opbouend te benut. Ek bid veral vir leiers wat ons op hierdie pad kan saamneem.

Dit is tyd om om ou sekuriteite, bitterhede en sentimente agter te laat sodat ons in ‘n nuwe werklikheid funksioneel en gelukkig kan wees. Ons kan die veranderinge passief ondergaan, of weerstaan, of ons kan dit aktief help bestuur.

Mag ek en jy onsself herposisioneer, ons persepsies en geloof herevalueer en waar nodig korrigeer om in hierdie tyd ons roeping te vervul! Hierdie is ‘n goeie en sinvolle tyd om in te lewe…

Mooiste seënwense – ons God is saam met ons op pad. Lewe daarom voluit!

Share