Nuusbrief 3 in 2017

‘n Hele klompie mense met wie ek gereeld te doen het, gaan deur groot veranderinge Vriende van ons emigreer, ander trek na ‘n nuwe huis, en nog ander ervaar die leë nes sindroom, en familie van ons gaan ‘n baba hê. Van my kliënte het kantore geskuif, en ander gaan dit binnekort doen. En by meer as een plek is daar groot verandering in die top-leierskap wat die mense baie direk raak. En by baie ander is daar groot herstrukturerings aan die gang. Ek coach ook mense wat as MD’s besig is om gereed te maak om oor te gee, en daarna in ‘n totale ander fase van hulle lewens in te gaan.

Soms moet mens groot verandering deurgaan vanweë siekte, dood of ander tragedies, maar ook vanweë aftrede, of die begin van jou werklewe na studie, begin van jou getroude lewe en so aan.

Hulle sê verandering is deesdae die “nuwe normaal”. Al wat op aarde nie verander nie, is dat alles verander… Hoe gouer ons dit aanvaar en leer goed hanteer, hoe beter.

Sonder verandering raak ons agter en irrelevant. En partykeer kan dit selfs jou eie en ander se dood kos. ‘n Mens kan maklik op die Titanics van die lewe te laat jou fout agterkom en voortgaan asof alles oukei is.

Hier is ‘n paar perspektiewe:

  • Leef saam met die onvermydelike polariteit van stabiliteit en verandering: Sommige dinge sal altyd dieselfde bly en party dinge net vir ‘n rukkie – geniet dit. Een van daardie stabiliteite is die Here en sy liefde vir jou, asook Bybelse waarhede en waardes. Ja, ander dinge sal verander, soos jou ouderdom, omstandighede, gesondheid, geleenthede en uitdagings. As jou fondasies reg is, kan jy die veranderinge in die oë kyk en hanteer. Ja, jy kan!
  • Verandering bring nuwe geleenthede en groei: Veranderinge is soos die golwe van die see vir ‘n “surfer”. Dit bring nuwe energie. As jy dit baklei, slaan dit jou plat; as jy dit “ry”, is dit tot jou voordeel.
  • “Let go” & “Let come”: Veranderinge vra dat jy afskeid neem van die lewe soos dit was – soms van kosbare verhoudinge, beproefde sisteme, ou maniere van dink en doen. En dan kan jy jouself oopstel vir nuwe moontlikhede van dink en doen, nuwe verhoudinge, nuwe maniere om betekenis en sin aan jou lewe te gee, nuwe uiterlike strukture soos blyplek, kerkplek en werkplek. Daarmee saam kom ook nuwe lekkertes en ook nuwe vervulling en betekenis in die lewe.
  • Wees ingelig en lig ander in: ‘n Mens is baie beter in staat om verandering te hanteer as jy ingelig is, en ‘n idee het van wat om te verwag. Dan voel jy minder oorrompel daardeur. Jy kan só jouself voorberei deur vooruit te dink. Jy kan ook ander mense help deur hulle in te lig en saam met hulle deur te praat wat die beste manier is om die komende veranderings te hanteer.

Ek lees iewers dat sin en betekenis in die lewe (meaningfulness) nie iets wat jy in jou omstandighede moet soek, of verwag om na jou toe te kom nie. Jy moet eerder aan jou nuwe realiteite betekenis gee en só jou lewe betekenisvol maak. Mag ons regtig te midde van ons veranderings daaraan betekenis gee! Dit, vertel Victor Frankl, is ets wat hy in die konsentrasiekamp moes leer doen.

Een aand toe ek met my eie porsie veranderings en onsekerhede wroeg, het Psalm 46 by my opgekom: dat God vir ons ‘n toevlug en rots is in die storms van verandering. Ons kan by Hom skuil sonder om vir die realiteite weg te kruip of te probeer ontvlug. Die psalm eindig op ‘n  hoë noot: “Wees stil en weet: Ek is God. Ek regeer oor die nasies, oor die hele aarde.” Hy is die God wat altyd by jou is. En Hy is in beheer!

As jy meer wil leer oor verandering, kyk gerus na hierdie “clip” van “Who moved my cheese” op youtube: https://www.youtube.com/watch?v=4JaZ3gPQM78&t=1s.

Vrede en vreugde vir jou! Kyk mooi na jouself én na ander!

Share